Melinda Brink is as Tracy in Binnelanders te sien
Melinda Brink is as Tracy in Binnelanders te sien. Foto: Sean Brand

IN TRACY SE SKOENE

Sedert Melinda Brink se karakter, Tracy, in Desember 2018 haar debuut in die hospitaaldramareeks Binnelanders op kykNET gemaak het, vryf sy kykers verkeerd op. Destyds was sy deel van ’n komplot om dr. Steve Abrahams (Clint Brink) se reputasie skade te berokken.

Net onlangs het sy so amper agter tralies beland – dié keer vir moord. Nou maak ’n glibberige joernalis haar lewe hel met ’n internetartikel wat Tracy uitbeeld as een wat die mans in haar lewe om haar pinkie draai.

View this post on Instagram

A post shared by BinnelandersTV (@binnelanderstv)

En dis net die begin.

“Daar’s nog ’n hele paar kinkels in die kabel en goed wat gaan gebeur,” vertel Melinda (27). Op die kassie is die vurige Tracy nie op haar mond geval nie.

“Ek sien ’n bietjie van myself in haar ten opsigte van haar veggees om deur moeilike situasies te kom, maar ek is oor die algemeen baie versigtiger oor wat ek sê, want haar mond kan haar soms in die moeilikheid laat beland,” sê Melinda laggend. “Ek het wel al begin wenke kry by haar as dit daarby kom om vir myself op te staan.”

Sy geniet dit om met Hykie Berg saam te werk. “Sy
Sy geniet dit om met Hykie Berg saam te werk. “Sy grappies en optimistiese uitkyk op die lewe ten spyte van die lewe se struikelblokke is iets wat ’n mens nogal op ’n daaglikse grondslag inspireer,” sê sy. Foto: kykNET/Binnelanders

Tracy se ma het haar uitgeskop toe sy swanger geraak het, en sy moes later haar dogter prysgee.

“Daar is niks belangriker vir Tracy as haar dogtertjie nie. Sy koester steeds die droom om eendag vir haar te kan sorg, en sy’s bereid om enigiets op te offer om die ma vir Kyla te wees wat sy so graag wil wees.”

Die grootste uitdaging van dié rol is die feit dat sy self nog nie ’n ma is nie. “Maar ek kan myself goed indink waardeur sy reeds is oor dit ongelukkig vir baie jong vroue ’n werklikheid is. Ek’t haar nog geensins veroordeel nie, juis omdat ek self nog nie daar was nie en daarom nie weet hoe dit voel om jou kind prys te gee nie.”

HAAR PAD NA DIE KASSIE

Melinda het in Pretoria grootgeword, op die skoolbanke gesit en studeer, sê sy.

“Ek het die voorreg gehad om groot te word in ’n baie hegte gesin met liefdevolle ouers wat daarvan hou om pret te hê, en daar is te veel beste herinnerings saam met hulle om op te noem. Maar ek onthou wel al die interessante troeteldiere wat ek as kind gehad het, soos my hoenders, Lemon en Herb.”

Sy is al aktrise in die gesin. “My pa en ma is ’n kantoorbestuurder en boekhouer vir ’n argiteksfirma. My sussie is ’n sexy klein entrepreneur en haarkapper met haar eie salon in Faerie Glen.

Ek onthou nog goed hoe dit gevoel het om ’n rukkie lank iemand anders te wees, die karakter te probeer uitbeeld, en hoe lekker dit vir my was.

“Ek het dramaklasse begin neem omdat ek as kind op skool baie skaam was, en ek’t kort daarna geweet ek’s veronderstel om dit vir altyd te doen,” vertel Melinda.

“Toe ek sewe was, het ek Sneeuwitjie in my laerskoolkonsert gespeel, en ek onthou nog goed hoe dit gevoel het om ’n rukkie lank iemand anders te wees, die karakter te probeer uitbeeld, en hoe lekker dit vir my was. Ek was verslaaf.”

Sy het in 2011 aan die Hoërskool Garsfontein gematrikuleer en het dadelik drama gaan studeer. As student het sy baie verhoogwerk gedoen. Dit was haar dramamentor, wyle Shareen Swart, wat voorgestel het sy doen die oudisie vir die rol van die gewese ontkleedanseres Tracy in Binnelanders. Toe slaan sy haar eerste TV-rol los.

“Nooit het ek gedink ’n oudisiebeskrywing van ’n skelm, gewese paaldanseres wat dr. Abrahams probeer verlei, sou uitdraai in dié interessante, ingewikkelde, diep karakter wat Tracy Smit vandag is nie.”

HAAR ROTS

Melinda het op 20 November met die musikant en akteur Francois Viljoen (32) afgehaak. Sy geniet die getroude lewe.

“Dit is die grootste geskenk van my lewe. Om my beste vriend en sielsgenoot vir ewig by my te hê. Om die lewe saam aan te pak en nie net die goeie tye saam te vier nie, maar om mekaar ook in die moeilike tye te dra en te ondersteun. Ek is werklik in die wolke oor my snaakse, sexy, intelligente man,” vertel sy.

Saam met haar man, Francois Viljoen. Foto: Instagr
Saam met haar man, Francois Viljoen. Foto: Instagram (@melinda_brink)

“Hy is nie net my lewensmaat nie; hy’s ook my daaglikse vermaak. Hy’t die gewoonte om aan alles verskillende stemme te gee: diere, plante en goggas,” vertel sy laggend. Die paartjie het twee honde, Kallie en Phoebe, wat hulle in Mei verlede jaar tydens die inperking aangeneem het.

“Kallie en Phoebe is die grootste aandagvrate, so hulle tel eintlik as vier. Daar het wel laas jaar ’n kat by ons opgedaag, en ná vele pogings om sy eienaars op te spoor het ons besluit ons is vir mekaar bedoel. Sy naam is Jack Black, die mooiste pikswart katjie. Dis genoeg vir eers!”

Melinda deel gereeld foto’s van haar honde, Phoebe
Melinda deel gereeld foto’s van haar honde, Phoebe (links) en Kallie, in die sosiale media. Foto: Instagram (@melinda_brink)

HUISHEN

Melinda het in Februarie verlede jaar Randburg toe verhuis nadat sy ’n bietjie meer as ’n jaar lank die verkeer tussen Pretoria en Johannesburg aangedurf het.

“Tuis is ek op my gelukkigste saam met my man tussen ons diere en plante, waar ek kan kreatief wees met kos maak en skilder. Ek maak ook ’n punt daarvan om tuis ’n plek te maak om te herlaai, waar dit oukei is om te lag en te huil en myself te herinner aan wie Jesus sê ek is!” vertel sy.

Haar hond Kallie by een van haar kunswerke. Foto:
Haar hond Kallie by een van haar kunswerke. Foto: Instagram (melinda_brink)

“My dag begin gewoonlik met tannie Joyce Meyer se YouTube-reeks Enjoying Everyday Life waar ek hardop waarhede uitspreek ten spyte van my emosies die dag, ’n cuddle met my woefkinders en om deur die dag se woorde te gaan. Dan is dit ateljee toe, en daar kan ek nogal myself in my werk ingooi.

“Wanneer ek by die huis kom, is dit ’n lekker opvangsessie met my man, weer woorde leer vir die volgende dag en ’n Friends-episode of twee of drie. Dit is my gunstelingmanier om af te skakel.”

BEDRYWIG

“Wanneer ek nie werk nie, is ons gunstelingaktiwiteite avontuurgholf, om na parkies toe te gaan met die honde – hulle is mal oor swem, so dis altyd groot pret – en om kwekerye te besoek,” sê Melinda.

“Ek kan doodeenvoudig nie genoeg daarvan kry nie. En op die ou end koop ons elke keer nog ’n plant waarvoor ons nie meer plek het nie. Ek kan ook maklik ’n hele dag agter my esel sit en wegraak in kuns. En dan natuurlik kos, kos en nog kos. My man sê ek kook gereeld ‘Kersfeesetes’. ”

En wat hou 2021 in?

“Ek is so opgewonde om my eerste jaar as een van die hoofspelers in Binnelanders aan te pak. Ek en my man werk ook aan iets spesiaals wat ons saam wil doen oor gesprekke wat tussen paartjies in die kombuis gebeur. En dan is my kuns en die reekse wat ek wil skilder ook in die pyplyn.”

Praat van bedrywig!

BLITSVRAE
  • Google jy ooit jouself? Ek het al, ja, maar nie meer nie omdat dit my fokus wegvat van nou.
  • Wat is die vreemdste ding wat ’n aanhanger jou al gevra het? “Soen Tertius lekker?” (Sy lag.)
  • As jy vir een dag plekke kon ruil met ’n Hollywoodster, wie sou dit wees? Beslis Julianne Moore, net omdat sy so ’n vrek goeie aktrise is. Ek sal net die dag wil deurbring om haar toneelspelvaardigheid te hê.
  • Wat is die een ding waarsonder jy nie ’n dag lank kan klaarkom nie? Koffie!
  • Watter televisiereeks vraatkyk jy tans? Ek kan Friends oor en oor kyk. Maar deesdae kan ek die telenovelle Legacy lekker vraatkyk oor die ongelooflike draaie wat die storie vat. Ek is beslis ’n aanhanger.
  • Wie sou jy wou hê moet jou in ’n fliek oor jou lewe speel? Sjoe! Dis moeilik. Mmm. Nicole Kidman, want daai vrou se gesigsuitdrukkings is onskatbaar.
  • As jy ’n boek oor jou lewe kon skryf, wat sou die titel wees? Beauty from the Ashes.
Melinda verklap vyf dinge oor haar wat niemand weet nie
  1. Ek is allergies vir pynappel en bye.
  2. Ek is doodbang vir goggas.
  3. Ek is verslaaf aan KFC.
  4. Ek vleg my hare gereeld in ’n klomp klein vlegseltjies.
  5. As ek nie toneelgespeel het nie, sou ek ’n sjef wou word.