Volgens Hello! Magazine het Michael (42) en sy aktrisevrou, Luisana Lopilato (31), reeds Woensdag hul dogtertjie, Vida Amber Betty, verwelkom. ’n Verteenwoordiger vir Michael het die geboorte aan Associated Press bevestig.

Die kleinding het met geboorte sowat 2,7 kg geweeg.

Luisana, wat ook ’n model is, het Donderdag vir die eerste keer ’n foto van haar babadogter met haar sowat 3,1 miljoen volgelinge op Instagram gedeel. 

In die foto rus Vida se handjie saggies op haar ma se bors en Luisana het in Spaans by die pragtige foto geskryf: "Ons het jou lief tot in die ewigheid en meer. Ons het vir jou gewag, nie net om as ’n gesin te groei nie, maar jy het ons lig en hoop gegee. Jy is en sal ons siele se lewe wees."

Die paartjie is ook die ouers van twee seuntjies, Noah (4) en Elias (2). Die gesin is deur ’n moeilike tyd nadat lewerkanker in 2016 by Noah gediagnoseer is. Maar die kanker is intussen in remissie ná 18 maande van behandeling.

Die pa van drie het in ’n eksklusiewe onderhoud met ET Canada vertel hoe dankbaar hulle was vir die gebede en boodskappe van liefde wat in dié tyd van oor die wêreld heen ingestroom het.

"Ons wou net hê ander ouers moet weet daar is hoop, al voel dit nie altyd so nie. Dit gaan oukei wees," het hy tydens die roerende onderhoud gesê.

Die skattige baba se middelname is ter ere van die paartjie se ouers. Die naam Amber kom van Michael se ma en die naam Betty van Luisana se ma, berig Billboard.com.

Hulle het nog nie ’n volledige foto van hul nuwe kleinding gedeel nie, maar sy sal beslis baie oulik wees!