Op 92 jaar verslap die natuurman nog nie die pas nie, maar hy erken hy verpes dit om as ’n ghoeroe beskou te word.

’n Onderhoud met David Attenbo­rough is soos ’n potjie skaak. Dit het dooiepunte en ruil­ooreenkomste, lokvalle en aanvalle. Maar vandag probeer hy nie sy teenstander sielkundig intimideer, waarvan party onderhoudvoerders hom al in die verlede beskuldig het, nie.

Pleks van “prikkelbaar” wees, gaan hy strategies te werk wanneer hy van vrae wegskram of met homself spot.

En hy span lyftaal behendig in om betekenis oor te dra wat hy liefs nie in woorde wil uitdruk nie.

Ek vra hom byvoorbeeld of hy ná sy openhartige gesprek oor klimaatsverandering in 2015 met pres. Barack Obama ook met die huidige Amerikaanse president, Donald Trump, wat aardverwarming ontken, daaroor sou wou praat. Hy maak sy oë stadig toe, sug diep en maak hulle weer oop.

Daarna sê hy in daardie goed ge­moduleerde, asemrige stem van hom wat dikwels nageboots word: “Ek dink nie so nie, want ek dink nie Trump is ontvanklik vir ’n logiese redenasie nie. Ek is bevrees dit sou ’n situasie wees van hom wat sê swart is wit en ons wat ons vooroordele uitruil.”

En toe ek hom vra hoeveel van die bewonderaarspos wat hy kry – sowat 30 briewe per dag – van vroulike bewonderaars kom wat hul ewige liefde aan hom verklaar, trek hy ’n gesig en haal sy skouers op op ’n manier wat sê: Ek weet wat agter die vraag steek en ek gaan nie daardie spel speel nie.

“Die meeste bewonderaarspos is van mense wat my bedank omdat ek hulle meer bewus van die omgewing gemaak het,” sê hy met ’n moedswillige neutra­liteit.

Ek ontmoet hom in sy elegante huis in die pastoriestyl in Richmond, Engeland. Dit is vergroot sedert ek byna 20 jaar gelede hier ’n onderhoud met hom gevoer het. Hy het na ’n ou kroeg langsaan deurgebreek om ’n modernistiese biblioteek te skep, kompleet met ’n galery.

In die lugtige ruimte is fossiele, tafels met etniese erdewerk wat soos fallusse lyk, duisende boeke en klassiekemusiek-­CD’s op rakke. En ’n vleuelklavier waarop hy elke dag speel.

Met ons vorige ontmoeting het hy nog oor die dood van sy geliefde vrou van 47 jaar, Jane, gerou.

David en Jane (Oriel) op hul troudag in 1950. Ouboet Richard staan regs van die paartjie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy is in 1997 skielik aan breinbloeding dood en hy het vir my gesê hy werk om te keer dat die smart vir hom te veel raak.

Dis dalk steeds deels die geval, want op 92 toon hy geen teken dat hy die pas wil verslap nie. Hy gaan Tsjernobil binnekort vir die Wêreld­natuurfonds besoek en het onlangs van ’n reis op die Zambezi-rivier teruggekeer. Ek moes geraai het hy het dit al voorheen onderneem.

“My liewe kêrel, ek is in 1964 van die oorsprong tot by die mond met die rivier af; net ek en ’n kameraman, drie maande lank,” herinner hy my.

En die programme van ’n uur elk waaraan hy nou werk, is ’n dubbelsyfergetal.

“Ek het verlede week die kommentaar vir een gedoen waarvoor hommeltuie gebruik is om blouvinwalvisse in die see af te neem; asemrowende skote, die hoek net reg vir die lig, die ontsaglike kolosse soos deur glas gesien,” vertel hy.

Hy het ook onlangs ’n hersiende en bygewerkte uitgawe van sy boek Life on Earth uitgereik om die 40ste herdenking van sy baanbrekersreeks te vier. Dit was vir hom ’n nostalgiese oefening.

Beskibaar by loot.co.za

“Ek het dit 40 jaar laas gelees en was verlig om te sien die basiese struktuur is reg. Die groot openbaring sedertdien was dat geveerde dinosourusse ontdek is. Daarmee is ’n venynige debat onder wetenskaplikes bygelê.”

Hy is nie eensaam nie, want sy dogter, Susan, ’n afgetrede laerskoolhoof, hou hom hier geselskap en sien ook na sy sake­belange om. (Hy het ook ’n seun, Robert, ’n antropoloog in Australië.)

'n Bloedjong David en sy seun, Robert, met 'n neusbeer (coatimundi). Foto: Gallo Images/Getty Images

Vir ontspanning lees David, skryf briewe en bestudeer die flora en fauna in sy ommuurde tuin. En hy kyk televisie.

“Ek kyk gewoonlik net natuurgeskiedenis. Programme wat deur my pelle gemaak is.”

Sy gladde, pienk gelaatstrekke verkreukel in ’n glimlag. “Ek bly graag op die hoogte van wat die bliksems doen!”

Sy smaak was seker vroeër meer eklekties, sê ek, met dié dat hy as BBC2-kon­troleur in die laat 1960’s en as regisseur van programme in die vroeë 1970’s opdrag gegee het vir baanbrekersprogramme soos die Britse reeks Monty Python.

Hou hy ’n oog oor die huidige komedieneigings?

“Wanneer jy in jou 90’s is, is die soort grappe waarvoor jy lag dieselfdes as waarvoor jy gelag het toe jy 50 was. Na moderne komedies kyk jy met ’n uitdrukkinglose gesig en vra: ‘Is dit snaaks?’ ”

Dit amuseer hom wanneer kinders hom vra of hy altyd graag op televisie wou wees.

“Dan sê ek, my liewe kind, toe ek so oud soos jy was, het televisie nie eens bestaan nie.”

Al is hy op televisie die ene vaderlike warmte en wysheid, is David weg van die kassie berug daarvoor dat hy onpersoonlik is. Hy vermy kletspraatjies, verpes dit om afgeneem te word, verwys in die tweede persoon na homself en ontwyk vrae oor sy privaat lewe.

‘Ek kyk gewoonlik net natuurgeskiedenis op televisie' Foto: Gallo Images/Getty Images

Aan sy ouer broer, die groot Hollywood-akteur en regisseur wyle lord Richard Attenborough, het hy net een reël in sy memoires afgestaan.

Ek noem dat ek eenkeer met Richard ’n onderhoud gevoer en die indruk gekry het dat hulle baie verskil. Dickie, soos hy alombekend was, was jolig, gevoelvol en emosioneel; David meer teruggetrokke, onsentimenteel en swygsaam.

Toe sê hy: “Eintlik het ons ’n wonderlike tyd saam gehad. Ons het oor dieselfde dinge gelag. Hy was baie snaaks.”

Ek haal iets aan wat sy broer my oor hul kinderjare vertel het: “Ons was lugtig vir ons pa se misnoeë en was altyd des­peraat om sy goedkeuring te kry.” Ek vra David of hy dit ook so ervaar het.

Die akteur en die terughoudende broer

“Wel, my pa (’n akademikus) was ’n moeilike man om by goedkeuring te kry. Hy was ’n streng mens. Dick – terloops, ek het hom nooit Dickie genoem soos al die ander nie; altyd Dick – het presies geweet hoe om ’n ramp af te weer deur my pa te laat lag om ’n oomblik te ontlont.

“Vandat hy vyf jaar oud was, wou Dick op die verhoog wees. Hy het sy skool­sertifikaateksamen gedruip en my pa – hy was die seun van ’n winkelier en is met ’n beurs universiteit toe – kon nie glo ’n seun van hom kon nie daardie onsinnige vrae beantwoord nie.

“Omdat ek meer akademies was (David het natuur­wetenskappe aan Cambridge studeer), het ek meer in sy smaak geval, maar my pa sou eerder sterf as om te sê hy verkies een kind bo die ander.”

Het hy gevoel hy ding met sy broer mee toe hulle albei suksesvol en beroemd word?

David en sy broer Richard. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Nie in die minste nie. Van buite af het dit dalk gelyk asof ons loopbane ooreenkomste toon, maar dit het weinig. Dick se lewe was reuse­salarisse en die rooitapyt; myne was die openbare uitsaaiwese met ’n staatsdienssalaris.”

Hy dink sy BBC-agtergrond was dalk die rede vir sy terughoudendheid.

“Toe ek as jong vervaardiger vir die BBC begin werk, is dit by my ingeprent dat ek nie omstrede mag wees nie. Al was jou oortuigings hóé passievol, moes jy dit nie in die openbaar lug nie.”

Met dié dat hy nie nou meer vir die BBC werk nie, vra ek hom waaroor hy op die oomblik sterk voel. Hy pers sy lippe saam terwyl hy dink.

Hy besef hy geniet soveel aansien in die openbare lewe dat dit groot trefkrag kan hê wanneer hy ’n mening oor ’n onderwerp uitspreek.

Dit was die geval met sy jongste reeks, Blue Planet II, wat bewustheid bevorder het oor die 8 miljoen ton plastiek wat elke jaar in die oseaan gestort word. Miljoene mense het wêreldwyd daarna gekyk en in China was dit so gewild dat dit die internet stadiger gemaak het.

“Dit was ’n vreemde ding. Ek praat al ’n dekade lank oor plastiek in die see, maar dié keer was die oomblik reg en het dit ’n uitsonderlike uitwerking gehad.”

Nie net het dit die regeringsbeleid laat verander nie; dit het ook multinasionale maatskappye laat rondskarrel om vir hul klante te bewys hulle verander ook hul manier van doen. Maar hy is lugtig daarvoor om as ’n gesaghebbende oor bewaringskwessies beskou te word.

“Ek voel soos ’n bedrieër,” sê hy.

“Mense dink ek is ’n gekwalifiseerde wetenskaplike, terwyl ek nie is nie. Mense dink ook ek het elke raampie film self geneem waarvan ek vertel, terwyl ek nie het nie. Mense vra: ‘Hoe het dit gevoel toe jy van aangesig tot aangesig met ’n leeu kom?’ en ek moet sê: ‘Ek was nie daar nie, ou seun. Ek sit net die woorde daarby.’ ”

Jare lank het hy gevoel omgewings­bewustes oefen druk op hom uit om meer uitgesproke en verpolitiseerd oor klimaatsverandering te word. Maar hy moes eers selfondersoek doen voor hy van die draad kon afklim.

“Om as ghoeroe beskou te word is vir my kommerwekkend. Wat ek nie is nie, is ’n wetenskaplike wat die chemie van die boonste lae van die atmosfeer verstaan. As jy nie versigtig is nie, word jy in ’n vals situasie geplaas waar hulle verwag jy moet ’n kenner wees, wat ek nie is nie.

“Al is ek self al jare lank van die waarheid van aardverwarming oortuig, het ek nie gevoel ek kon dit in die openbaar sê voor ek seker is van die feite nie. As jy in ’n prominente posisie is, moet jy seker maak jou feite is reg.

“En wat my oortuig het, was ’n lesing deur ’n wetenskaplike genaamd Ralph Cicerone. Hy het feite en syfers verstrek wat my sonder twyfel gelaat het. Van daardie oomblik af het ek gevoel ek kon dit sê.”

Dit was sowat 18 jaar gelede, in dieselfde tyd dat David vir my gesê het as die Noordpool teen dieselfde tempo sou aanhou smelt dit binne 20 jaar sou verdwyn. Ek herinner hom daaraan.

“Het ek dit gesê? Dis gevaarlik om tyd­raamwerke aan dinge te koppel. Die ander gevaar is wanneer mense jou vra of jy ’n voorbeeld van aardverwarming kan gee. As jy voor die versoeking swig en sê: ‘Ja, ek was in Suid-Georgië en die gletser was daar en ek het 20 jaar later terug­gegaan en toe is dit weg.’

“En hulle sal terugkom met ’n voorbeeld van iewers anders in Antarktika waar die teenoor­gestelde blykbaar gebeur het. Daarom is dit nie altyd ’n goeie idee om presiese syfers te gee wanneer jy eerder oor langter­mynneigings moet praat nie. Maar jy bereik wel ’n punt waar die balans van die getuienis onweerlegbaar is.”

Tog bestaan skeptici, hoogs intelligente mense, wat sê aardverwarming is ’n mite.

“Ja. Dis frustrerend wanneer mense teen die bewyse stry, veral mense wat daaraan gewoond is om met statistieke en wiskunde te werk.” Hy trek sy skouers op. “Wel, dit hou ons op ons tone.”

David leef al so lank dat hy met byna elke premier in die naoorlogse era te doen gekry het. Onder hulle tel Anthony Eden, wat sy raad gevra het oor sy radio-uitsending in 1956 oor die Suezkrisis.

“Ek is so polities naïef, maar selfs ek kon sien dit was ’n keerpunt in die Britse geskiedenis en ’n onkundige man wat dit hanteer. Ek het Eden hanteer soos ek (Harold) Wilson hanteer het, wat ook ’n handvol was en my gebel en gedreig het. My werk was om teen hom op te staan.

“Maar politiek is glad nie my ding nie. Ek bly stil oor my politieke sienings. As iemand my vra vir wie ek stem, sê ek hulle moet hulle met hul eie sake bemoei. Ek het sterk etiese menings, maar nie politieke menings nie.

“Trouens, politiek slaan my dronk. Ek verstaan die helfte van die tyd nie wat aangaan nie.”

Ek het gehoor hy is teen Brexit gekant en het gestem dat Brittanje in die Europese Unie moet bly. Is hy ten gunste van ’n tweede referendum?

“Wel, daar het jy dit, sien jy,” sê hy met ’n laggie wat ’n antwoord ontwyk.

“Ons weet steeds nie wat die storie is nie. My liewe broer Dick het sy steun vir die Arbeidersparty baie duidelik gestel. Ek het altyd met hom gestry: ‘Maar hoe weet jy, Dick, die beleid is reg?’ ”

Albei sy broers (daar was ’n jonger een, Johnny, wat ’n uitvoerende hoof in die motorhandel was) is dood.

As David jonger as sy jare lyk en optree, sê hy, is dit eerder aan goeie geluk as goeie bestuur te danke. Hy oefen nie en let ook nie op sy dieet nie; hy verkies sjokolade en rooiwyn bo vitamienaanvullings. Afgesien van sy “nuwe knieë” ná ’n operasie ’n paar jaar gelede, het hy nog altyd goeie gesondheid geniet.

Hy dink dit help waarskynlik dat hy sy verstand aktief hou met dinge soos klavierspeel. Tog sê hy sy geheue het die afgelope ruk minder betroubaar geword.

“Wanneer jy ’n toespraak lewer, besef jy soms daar moet ’n woord aan die einde van die sin kom waaraan jy nie betyds sal kan dink nie. Jy moet aan ’n vergelyking of frase dink om daarby verby te kom.”

Voel hy soms hy is die laaste van sy tyd­genote?

“Ek besef party van my goeie vriende wat ek gaan besoek, was nie so gelukkig nie. Sommige kan nie loop nie en ek is nie eens seker of hulle meer weet wie ek is nie. Dit (sy goeie gesondheid) is sekerlik geen deug wat daaruit spruit dat ek ophou rook het of wat ook al nie. Dis blote geluk.

“Ek het gerook. Toe ek ’n kontroleur by BBC2 was, het ons ’n leerboks met sigarette op ons lessenaar gehad, en as jy ’n ongemaklike onderhoud moes voer, of iemand afdank, sou jy sê: ‘Vat ’n sigaret, ou seun.’ Maar ek het opgehou toe een van my kinders sê: ‘Pa, jy ruik aaklig.’ ”

Gepraat van sy vriende wat hom nie herken nie – as hy sou besef hy het byvoorbeeld alzheimersiekte, sou hy dit oorweeg om na die Dignitaskliniek in Switserland (wat mense help om hul lewe te neem) te gaan?

“Dignitas? Wag en kyk wanneer die tyd aanbreek. Jy moet dink watter uitwerking jy op jou naasbestaandes het.”

Oor wat ná jou dood gebeur, is hy ’n agnostikus. Met ons vorige ontmoeting het hy gesê hy gee nie om wat met sy stoflike oorskot gebeur nie; wat hom betref, kan dit in ’n vullisdrom gegooi word.

Dié siening het nie verander nie, al skerts hy dat hy as ’n luidier sal terugkom as hy ge­reïnkarneer sou word– die onderwerp van een van sy bekendste videogrepe. (Hy het na een gestap wat aan ’n tak hang en “Boe!” gesê.)

Eintlik is hy reeds verewig, nie net in daardie greep en die een wat eindeloos van hom saam met die berggorillas gewys word nie, maar ook as ’n hologram wat besoekers in die natuurlike geskiedenismuseum in Londen rondlei.

En nie net ’n spinnekop en ’n Malgassiese garnaal is na hom genoem nie; ook ’n skip, die nuwe Britse poolnavorsingsvaartuig van £200 miljoen (R3,7 miljard), die RRS Sir David Attenborough.

Die spinnekop
Die Britse poolnavorsingsvaartuig

Vir hom wie se diensplig in die Koninklike Vloot was, was die tewater­lating vroeër vanjaar “ ’n emosionele ervaring” wat hom nederig gestem het. Hy hoop om vir ’n seetoets aan boord te gaan.


Ons potjie skaak loop ten einde.

David het af en toe self ’n onderhoud gevoer en onlangs nader as enigiemand anders daaraan gekom om een met die koningin te voer (al was dit eintlik nie heeltemal so naby nie). Die twee ken mekaar al jare lank, is ewe gevorderd in hul jare en lyk gemaklik in mekaar se geselskap.

Maar ’n loopbaan as geselsprogram­aanbieder was hom nooit beskore nie.

“Toe ek as ’n leerling by die BBC aansluit,” vertel hy, “is ek gevra om vir ’n dag ’n onderhoudvoerder se plek in te neem. Die departementshoof het agterna vir die vervaardiger geskryf: ‘Moet Attenborough nie weer gebruik nie. Sy tande is te groot.’ Ek het dit jare later eers uitgevind toe ek weggaan en hulle my personeellêer aan my oorhandig.”

Die departementshoof het dit ver mis gehad, sê ek, want David het homself as een van die telegeniesste aanbieders in die bedryf bewys.

Hy waai die pluimpie weg asof dit ’n insek is en sê: “Ag, wel, dalk het die tandemodes verander.”

© Nigel Farndale / The Sunday Times Magazine / News Licensing