Die roudiens van die rugbylegende is Donderdag 18 Julie deur James se vriend, die radio-omroeper Darren Scott, gelei.

Huldeblyke is gelewer deur onder andere die Springbokkaptein Siya Kolisi, James se suster, Kelly Small, sy neef, Kieran Small en sy swaer, Gavin Houlston.

Ek wil graag versoek dat enigiemand wat nou huil, onmiddellik ophou.

Die familie het deur die loop van die diens een versoek aan die roubeklaers gerig: Om vandag nié ’n traan te stort nie, maar om eerder James se nalatenskap te eer deur ’n “buitengewoon merkwaardige lewe te lei” – nes James het.

“Ek wil graag versoek dat enigiemand wat nou huil, onmiddellik ophou,” het Kelly aan die groot groep mense gesê.

“Dis nie wat my broer sou wou hê nie. Hy sou wou hê ons moet sy lewe vier.”

Haar broer het ’n merkwaardige lewe gelei, het Kelly vertel. En nou, met sy roudiens, bring sy gunstelingwoorde aan die familie vertroosting: Ours not to reason why, ours but to do and die.

“Ek het nog nooit die Engelse aanhaling verstaan nie: It’s better to have loved and lost, than to never have loved at all. Maar vandag – hier by my broer se begrafnis – kan ek my nie ’n lewe indink waarvan my broer nie deel was nie. Nou verstaan ek.”

Tog, net voor Kelly haar huldeblyk voltooi het, het haar eie stem ook gekraak. “Die lewe sal werklik net nooit weer dieselfde wees nie, boet. Maar ten minste kan ons hierby berus: Hy het ’n wonderlike lewe gelei.”

Deur al die op en af in sy lewe en loopbaan het James altyd een ding behou: ’n positiewe houding.

Dankie dat jy vir my geleer het hoe belangrik dit is om ’n groot hart te hê.

“Daar is so baie dinge wat ek graag wil sê,” het Kieran vertel.

“Waar begin ek? Ek wil sê dankie – dankie vir jou eerlikheid; vir jou liefde; dankie dat jy my geleer het van familie; dat jy vir my gewys het dis oukei om te huil. Dankie dat jy vir my geleer het hoe belangrik dit is om ’n groot hart te hê.”

Kieran het self swaar aan die trane gesluk. “Jy is my hero, James. Ek was nog nooit van iemand anders so in awe soos wat ek van jou is nie. En deur die goed en sleg het jy werklik alles gehad. Jy het altyd vir ons gesê om ons drome te leef. En kyk net hoe het jy jou drome geleef.

“Ek kan nie glo jy is weg nie. Maar ek belowe om jou trots te maak – en ek weet dat jy tot die einde van ons reise nog langs ons gaan wees.”

Die Springbokkaptein Siya Kolisi het sy hart teenoor roubeklaers oopgemaak toe hy vertel het van sy eie seer: Sy ma se dood toe hy ’n jong seuntjie was.

“Dis ongelooflik tough; ’n mens het so seer, en jy het soveel vrae. Ek het self daardeur gegaan toe my ma oorlede is – en wat ek sedertdien geleer het, is dat die herinneringe die belangrikste is. Dis wat ek vandag aan julle wil sê,” het hy vertel.

Tog, sê Siya, moet die familie vertroosting vind by die vol lewe wat James tot voor sy dood gelei het.

“Julle kan trots wees op die seun wie julle grootgemaak het. Hy het ’n lewe gelei waarop julle kan trots wees – en nou moet ons dit vier.”

Soos ek hier staan, weet ek James is besig om te huil soos hy lag.

Die familie is dankbaar vir die boodskappe, gebede en bemoediging in wat hulle as ’n moeilike tyd beskryf, het Gavin gesê.

“Soos ek hier staan, weet ek James is besig om te huil soos hy lag. Hy weet nog altyd van my vrees om in die openbaar te praat. Ek onthou een keer – voor ek in die publiek moes praat – hoe James my na die kroeg gevat het, vir my ’n bier gekoop het en gesê het: ‘You got this.’ ”

Tog is dit ironies dat James nie trane op sy begrafnis sou wou hê nie, sê Gavin.

“Hy het sy hart op sy mou gedra; en hy was altyd die eerste een om te huil,” vertel Gavin.

Dan, nadat hy vir ’n oomblik stil was om sy emosies onder beheer te kry, sê Gavin: “Jy het ’n gat in ons almal se harte gelaat – en ’n traan in elkeen se oog. Rus sag, my broer.”

Vriende en geliefdes van James was staande terwyl die familie die kis na die lykswa gestoot het. James se eksmeisie, die model Christina Storm, het gehuil terwyl sy vir Ruby, haar en James se dogter, omarm het.

Toe die lykswa met James se kis vertrek, het die trane vrylik oor geliefdes se wange gestroom – en ’n hartroerende toneel, waar die familie mekaar vertroostend druk en vir ’n laaste keer by die wagtende motor bid, voor die honderdes afgespeel wat vandag ’n groot gees kom groet het.

James se is laat Donderdagmiddag privaat ter ruste gelê. Die rugbylegende is op 10 Julie dood aan ’n hartaanval by ’n klub in Bedfordview.