Hy is in die kringe van die rolprentadel gebore – ’n lewe waarin geld oorvloedig en huise fabelagtig was, rykes en beroemdes die drumpel deurgetrap het en ’n menigte personeellede dag en nag aan diens was.

Maar die ou cliché dat rykdom nie geluk koop nie, was nog selde meer waar as in die geval van Cameron Douglas, seun van die rolprentster Michael Douglas en kleinseun van die Hollywood­legende Kirk Douglas.

Vir hom het dit tot gevoelens van verwaarlosing, verlammende dwelmverslawing en ’n pynlike tronkervaring gelei. Maar Cameron (nou 40), Michael se seun uit sy huwelik met die oudmodel en vervaardiger Diandra Luker (63), het van die afgrond af teruggekom en lei nou ’n skoon, produktiewe lewe.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

In sy nuwe memoires, Long Way Home, vertel hy van sy reis van wilde kinderjare na pynlike volwassenheid waar al waarvoor hy omgegee het sy volgende dwelmfieks was. En hy sê om ’n lid van ’n beroemde familie te wees het hom op die pad van duisternis help beland.

Cameron was nege toe sy pa in 1987 die Oscar vir beste akteur vir Wall Street gewen het – ’n eerbewys wat Michael in die stratosfeer van die superberoemdes geplaas het.

Wilde partytjies het by Michael en Diandra se huis in Hollywood gevolg en die jong Cameron is ingespan om die gaste van dagga te voorsien.

Wanneer die partytjies verby was, het Cameron en ’n vriend deur gaste se sakke gesnuffel op soek na watter middels hulle ook al tydens die wilde nag gebruik het. Hy het op 13 sy eerste zol gerook, op 15 kokaïen gesnuif, op 17 die eerste keer tik gebruik en later aan vloeibare ko­kaïen en heroïen verslaaf geraak.

'n Jong Cameron en sy pa, Michael. Foto: Gallo Ima
'n Jong Cameron en sy pa, Michael. Foto: Gallo Images/Getty Images

Cameron vertel ook sy pa het eenkeer vir hom ’n “surrogaatpa” as plaasvervanger aangestel omdat Michael so op werk en jol ingestel was. Die man was ’n standvastiger manlike invloed vir Cameron, en hy was lief vir hom.

“Hy het my versorg van die oomblik dat ek wakker geword het tot die oomblik dat ek gaan slaap het,” sê hy, en voeg by hy was hartseer toe die man afgedank is omdat hy by die werk gedrink het.

Michael, wat later ’n seun en dogter, Dylan (19) en Carys (16), by sy tweede vrou, die aktrise Catherine Zeta-Jones (50), gehad het, erken nou openlik hy het sy oudste seun afgeskeep.

“Ek moes my prioriteite verander het,” het hy aan die televisiepersoonlikheid Diane Sawyer gesê. “My loopbaan het eerste gekom.”

Dit was immers ook vir Michael moeilik om in pa Kirk se spore te volg.

“Ek moes meer op my gesin ge­fokus het, maar dis moeilik om dit te sê wanneer jy midde-in ’n loopbaan is. Jy tree uit jou pa se skadu; probeer ’n lewe vir jouself skep.”

Michael (75) sê as seuntjie was Cameron stil en saggeaard.

“Cameron was ’n wonderlike kind. Hy was ’n liefie.”

Maar die skattigheid van die vroeër jare het op ’n dramatiese manier versuur.

Om groot te word as die enigste kind van ’n jong ma – Diandra was maar 20 toe sy hom gehad het – en ’n beroemde maar afgetrokke pa het sy tienerjare moeilik gemaak.

“Ek het van dinge probeer sin maak en probeer uitpluis waar ek inpas,” sê Cameron in sy boek. “Ek het begin uithang saam met kinders wat gerook, gedrink en ander dinge gedoen het en dit met vriendskap verbind. En toe gaan dit van daar af net aan.”

Hy het gedurig geworstel met die druk van sy pa en oupa se groter-as-lewensgroot reputasie en onthou dit was “vreemd” om hulle te sien as reuse wat op skerms en advertensieborde vertoon word.

“Dis verkleinerend om hoofsaaklik as iemand anders se seun en kleinseun beskou te word. Hoe ding jy met Kirk Douglas mee? Hoe leef jy in Michael Douglas se skadu?”

Toe hy in die laat 1990’s in New York as ’n platejoggie gewerk het, het alles buite beheer geraak. Hy het swaar begin ko­kaïen en heroïen gebruik; kort voor lank het hy vloeibare kokaïen direk in sy are begin inspuit. As hy nie ’n aar êrens anders kon vind nie, het hy dit direk in sy nek ingespuit.

Cameron het in ’n stadium vloeibare kokaïen direk in sy are ingespuit. Sy tyd in die tronk was ’n keerpunt: Daar het hy sy lewe omgekeer. Foto: Skermgreep (GMA)
Cameron het in ’n stadium vloeibare kokaïen direk
Cameron het in ’n stadium vloeibare kokaïen direk in sy are ingespuit. Sy tyd in die tronk was ’n keerpunt: Daar het hy sy lewe omgekeer. Foto: Skermgreep (GMA)

Kirk het probeer ingryp deur vir sy kleinseun ’n rolprentrol in It Runs in the Family van 2003 aan te bied as hy vir ­rehabilitasie sou gaan. Cameron het ingestem, maar hy het nie lank skoon gebly nie.

Toe sy gefrustreerde familielede die geldkraantjie toedraai, het hy groot hoeveelhede kokaïen en ander dwelms begin smous om sy gewoonte aan die gang te hou. Hy is in 2009 vasgetrek en tot vyf jaar tronkstraf gevonnis met nog vier en ’n half jaar daarby toe hy gevang is dat hy dwelms in die tronk insmokkel.

Die tronk was hel, sê hy, veral die 11 maande wat hy in afsondering deurgebring het omdat hy met ander gevangenes baklei het en met dagga betrap is.

Maar sy jare agter tralies was ook die keerpunt in sy lewe. Hy het nugter geword en die eerste keer in dekades aan sy toekoms begin dink.

“Lank het ek gedink daar is fout met my, dat ek nie die karaktereienskappe gehad het wat vir ’n suksesvolle lewe nodig is nie,” sê hy.

“Ek weet nou dit was die verslawing wat gepraat het.”

Terwyl hy in afsondering aangehou is, het hy herinnerings begin neerskryf, en sy oor­denkings het later tot sy memoires gelei al was hy nie van plan om dit deur te voer nie – tot sy pa hom oortuig het dit is dalk ’n goeie idee.

Cameron Douglas en sy pa, Michael. Foto: Gallo Ima
Cameron Douglas en sy pa, Michael. Foto: Gallo Images/Getty Images

Michael, wie se halfbroer Eric in 2004 aan ’n onopsetlike oordosis dwelms en drank dood is, sê hy het hom daarby berus dat Cameron ’n soortgelyke lot sou tegemoetgaan.

“Ek het gedink om sy storie te vertel sal dalk maak dat hy regtig probeer verstaan wat de hel gebeur het en waartoe dit alles gelei het,” sê Michael.

Ek dink dit was my pa se manier om vir my te sê hoe lief hy my het.

Cameron vertel die skryfproses het hom laat begryp hoekom sy pa dit in die eerste plek aangemoedig het.

“Ek dink dit was my pa se manier om vir my te sê hoe lief hy my het.”

Michael wil bars van trots oor sy seun. “Nie net oor die boek nie; ook op hoe hy sy lewe lei. Hy doen sy woord gestand.”

Cameron, wat al drie jaar uit die tronk is, maak sy 22 maande oue dogter, Lua, saam met sy jare lange meisie, Viviane Thibes (41), ’n joga-instruktrise, groot.

En hy verwonder hom aan die vreugde van pa-wees.

“Om my dogter te hê gee my ’n heel nuwe uitkyk op die lewe,” sê hy. “Sy is ’n bron van inspirasie. Hopelik sal sy sien haar pa het baie bereik en doen goeie dinge, en dalk sal sy trots op my reis wees.”

Cameron wil ook sy akteursloopbaan hervat; hy skryf draaiboeke en oorweeg die moontlikheid om sy boek in ’n rolprent te omskep. Hy is deesdae geheg aan sy pa en bring minstens twee dae per week saam met sy 102-jarige oupa deur.

View this post on Instagram

Words cannot express.... #Powerful #Bloodline

A post shared by Cameron Douglas (@cameronmorrelldouglas) on

“Ek woon net ’n kwartier van hom af en ek leer my dogter in sy swembad swem,” sê Cameron. “Dit is baie spesiaal om die geleentheid te hê om tyd saam met hom deur te bring.”

Maar hy erken hy het ’n gevaarlike speletjie met sy lewe gespeel.

“Dis eintlik ’n wonderwerk dat ek vandag oukei is.”

BRONNE: PEOPLE.COM, NYT.COM, DAILYMAIL.CO.UK, ROLLINGSTONE.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.