Sangdebuut

Die snitte op sy eerste soloalbum, Kannie breek, is ’n voetestamp-storievertelling wat gegrond is op boustene van hoop, liefde en inspirasie.

So vertel Ramey Short, wat veral bekend is as dr. Quinton Meyer in die kykNET-sepie Binnelanders.

Die liedjie “Môre kom die son weer op” motiveer met die woorde Hou jou kop bo die water voordat die diepkant jou kry, terwyl die lirieke van “Dokter dokter” weer verwys na sy karakter se ervarings in die sepiehospitaal in Binnelanders.

In die titelsnit, “Kannie breek”, praat Ramey, wat in ’n kinderhuis in Kaapstad grootgeword het, oor die emosies wat hy ervaar het tydens die terugslae wat hy al in sy lewe moes oorkom.

‘Ek het ’n spesifieke klank en gevoel in gedagte gehad vir die die album’– Ramey Short

Drie jaar in wording

Aangesien Ramey net nauurs aan die album kon werk, het die vervaardigingsproses hom drie jaar geneem.

“Ek het ’n spesifieke klank en gevoel in gedagte gehad vir die album, en dit is presies wat die luisteraar nou kan hoor. Dit is ’n spanpoging waar ek met ’n hele paar kenners in die musiekbedryf saamgewerk het.”

Die meeste van die liedjies kom uit sy eie pen. Al die liedjies val in die elektro-popgenre en het ’n “vars bries met ’n internasionale geur”, sê hy.

Die album is begin Maart uitgereik en was feitlik onmiddellik op Musica se top-20-lys van beste verkopers.

Lewenspad

Ramey het weens alkoholisme in sy ouerhuis van sy eerste verjaardag tot sy matriekjaar in 1999 in die Durbanville-kinderhuis in Kaapstad gebly.

Hy was hoofseun van die Voorbereidingskool Durbanville, en ná matriek het Ramey, wat WP-kleure in atletiek verwerf het en vir sy skool se eerstespanne rugby, tennis en krieket gespeel het, sportbemarking aan die Boland-kollege op Stellenbosch gaan studeer.

Hy was atleties gebou, soos hy dit self stel, en het foto’s van hom op modelwerk-webtuistes geplaas.

View this post on Instagram

#repost

A post shared by R A M E Y S H O R T (@rameyshort) on

’n Talentsoeker van Los Angeles in Amerika het hom raakgesien en gereël dat hy daar in 2004 en 2005 ’n diploma in toneelspel kon gaan verwerf. Terug in Suid-Afrika het hy oudisies gedoen en in 2008 die rol van dr. Quinton in Binnelanders losgeslaan.

Sedertdien was hy ook in Getroud met rugby en Seepglad te sien.

’n Droom word waar

Dit was ’n jeugdroom om musiek te maak en ’n album op te neem, maar die tyd en geleentheid was net nog nooit daar nie, vertel Ramey.

Vroeër vanjaar het een van sy oudonderwysers hom gekontak en gevra of hy ’n spesifieke mondelingopdrag kan onthou wat hy in die laerskoolklas gelewer het.

Hy het toe gesê hy gaan eendag ’n akteur en sanger word, waarna al die kinders hom uitgelag het. En kyk nou net. Hy kuier weeksdae op die kassie in Binnelanders en sy eerste album is op die rakke.

Sy eerste groot musiekoptrede was in Januarie op die BokBoot van Kaapstad na Walvisbaai, waar hy saam met meer as 20 van die land se bekende sangers opgetree het.

Op 23 Mei kan Gautengers hom by die Vollebors in Afrikaans-konsert in die Sun Arena in Pretoria op die verhoog sien. Dié konsert sou teen druktyd nog voortgaan, maar dit sal afhang van die maatreëls wat owerhede vorentoe oor COVID-19 neerlê.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.