katinka heyns
Die aktrise Shaleen Surtie-Richards is onlangs oorlede. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Sy het weer begin blom, soos net Shaleen Surtie-Richards kon – die aktrise wat as Egoli se Nenna en Fiela van Fiela se kind so diep in kykers se harte ingekruip het dat sy volksbesit geword het.

Tog het sy swaarkry geken, veral tydens die inperking toe sy ten spyte van haar roem en vele pryse gesukkel het om die pot aan die kook te hou.

“Ek het nie eens geld vir elektrisiteit nie en ek sukkel om my huis te behou,” het die geliefde aktrise in Maart vanjaar nog aan Kuier vertel. “Ek maak staat op familie en vriende om af en toe vir my iets te stuur.”

Maar in die laaste paar maande was daar eindelik weer hoop. Shaleen het weer gestraal, want sy was terug voor die TV-kameras.

“Hierdie jaar gaan anders wees!” het sy kort ná haar 66ste verjaardag op 7 Mei verklaar, onthou die akteur en musikant Pedro Kruger, haar medespeler in die verhoogproduksie van Fiela se kind.

Shaleen Surtie-Richards as Fiela Komotie in Fiela
Shaleen Surtie-Richards as Fiela Komotie in Fiela se kind. Foto: Sonneblom Films.

Min het sy geweet dit sou haar laaste verjaardag wees. Want ’n maand later, op 7 Junie, het die nuus die land geruk dat die liggaam van die legendariese aktrise in die kamer van ’n gastehuis in Kaapstad aangetref is.

Sy was nog dae tevore op die stel van die kykNET & kie-telenovelle Arendsvlei, waarin sy die afgelope tyd die rol van Muriel Foster vertolk het.

“Kyk, daar wás tye toe dit met haar swaar gegaan het. Daar was die werk wat opgedroog het, die alleenheid en haar gesondheid,” sê Pedro.

In die afgelope dekade het sy twee beroertes oorleef. Daarby het sy jare lank met tipe-2-diabetes saamgeleef.

“Maar in die laaste maande het dit met haar goed gegaan,” vertel Pedro. “Sy het gespog, want sy het gewig afgeskud en sy het haar rol in Arendsvlei ontsettend baie geniet. Sy het nog vertel: ‘Solank die werk inkom, kan dit net aanhou beter gaan.’ ”

Shaleen het die rol van Nenna in Egoli byna twee d
Shaleen het die rol van Nenna in Egoli byna twee dekades lank vertolk. Foto: M-Net.

Toe hy haar op die stel van Arendsvlei sien, het Shaleen geblom, “nes altyd wanneer sy gewerk het”, vertel die akteur en TV-aanbieder Hannes van Wyk, destyds Krynauw in Egoli toe sy die rol van Nenna in die sepie vertolk het. “Ek het nog gedink: Maggies, toe ek Shaleen die laaste keer gesien het, het sy sukkel-sukkel geloop. Nou het dit gelyk asof sy oor die vloer sweef . . . sy het gelééf.”

Juis daarom was die tyding van haar dood vir hom so ’n groot skok. “Ek is sonder woorde,” sê Hannes. “Stukkend. Rou. ’n Mens wil weet hoekom – hoekom nou, net toe dit wou lyk asof dinge weer met haar goed gaan. Dis absoluut hartverskeurend.”

Teen druktyd was daar nog geen antwoorde oor waarom sy so skielik van haar geliefdes weggeneem is nie.

Sy was in Arendsvlei saam met Melanie du Bois, Jod
Sy was in Arendsvlei saam met Melanie du Bois, Jody Abrahams en Crystal-Donna Roberts. Foto: Instagram.

Shaleen was die afgelope tyd siek, vertel die aktrise Lizz Meiring. “Die eienaars van die gastehuis waar sy gebly het, het haar dokter toe geneem. Hy wou haar in die hospitaal laat opneem. Sy het gesê sy kan nie; sy werk.”

Met haar diabetes het Shaleen gesukkel om die pas vol te hou, sê Lizz. As tantième wel getrou betaal sou word met die heruitsending van programme, sou sy nie ’n geldnood gehad het nie en sou mense soos Shaleen en Elize Cawood nie arm gesterf het nie, voeg sy by.

Kort nadat sy einde 2017 ’n tweede beroerte oorleef het, het Shaleen aan Huisgenoot gesê sy wil haar tweede kans op die lewe voluit benut.

‘Sy het gespog, want sy het gewig afgeskud en sy het haar rol in Arendsvlei ontsettend baie geniet’

Dat ’n pandemie die vermaakbedryf tot stilstand sou ruk, was waarskynlik nie toe vir haar ’n vrees nie.

“Die covid-19-pandemie het Shaleen – nes die res van ons – moedeloos gelaat. Maar onlangs nog was sy weer lus vir die lewe, amper asof sy weer ’n huppel in haar stap gehad het,” vertel Pedro.

Die vooruitsig om weer te kan werk het haar positief gestem. Benewens haar rol in Arendsvlei sou sy binnekort aan die fliek Skaapboer begin werk het waarin sy die hoofrol van Ma Mavis sou vertolk het.

In Swirl: A Letter to hair on the Cape Flats saam
In Swirl: A Letter to hair on the Cape Flats saam met Chanelle Davids-Abrahams, Vinette Ebrahim en Ilse Klink. Foto: kykNET & Kie.

Dat Shaleen finansieel nie die mas kon opkom nie, was vir haar ’n teer saak. “Dit maak seer. Ek het standing ovations gekry en huise uitverkoop. My werk en reputasie spreek vanself. Ek voel ek verdien dit nie,” het sy nog onlangs aan Kuier erken.

Maar al was die lewe as aktrise nie altyd maklik nie, was sy oor niks spyt nie. “As ek my lewe weer moet oorlewe, sal ek dit presies so lewe,” het sy ook aan Kuier gesê. “Ek het tot nou toe ’n vol en wonderlike lewe vol liefde gehad. Ek het geleer die liefde oorwin alles.”

Die dood het dalk as ’n verlossing vir Shaleen gekom, meen Lizz. “Sy was nie iemand wat gehou het van siek wees, kla en swaarkry nie. Sy is van hierdie spanning en pyn verlos.”

Hannes put troos uit die herinnerings aan ’n aktrise wat nie net vir haar talent nie, maar ook vir haar warmte en opregtheid onthou sal word.

“Al is sy dan ook nie meer hier in die vlees nie,” sê Hannes, sal “iemand soos Shaleen vir altyd bly leef ”.

Casper de Vries en Shaleen.
Casper de Vries en Shaleen. Foto: Instagram.
Katinka Heyns.
Katinka Heyns. Foto: Misha Jordaan.
Hennie Smit.
Hennie Smit. Foto: Tumelo Leburu.

Ons onthou

Casper de Vries

“Sy was ’n natuurlike talent. Sy het dit net gehad – daai X factor. Sy kon baie snaaks act, maar sy was ook ’n formidabele ernstige aktrise wat baie mense met haar spel in trane gehad het. Dit het haar so ’n geliefde mens gemaak omdat jy met haar kon identifiseer.”

Hennie Smit

“Sy het wyd gepraat, wyd gedink, haar arms wyd geswaai en wyd ge-brag. Egoli sou minder goud gewees het sonder haar. Sy het ’n wonderlike lewe gehad, maar ek dink die afgelope tyd se sukkel, swaarkry en vernedering het haar gesondheid aangetas.”

Katinka Heyns

“Sy het geweier dat Fiela se kind op Upington vertoon word as die ‘apartheidsmuur’ nie afgebreek word nie – dit het die wit en bruin mense geskei wat voor die karre na die fliek kon sit en kyk. Sy het dit reggekry dat daai muur afgebreek word.”

Haar grootste rolle

Shaleen het meer as 50 pryse vir haar werk ontvang, waaronder die Fleur du Cap-teaterprys in 1985 vir beste aktrise in haar rol as Hester in Athol Fugard se Hallo en Koebaai en in 2009 vir die eenvroustuk Shirley Valentyn, wat meer as 250 keer opgevoer is.

Sy word veral as Fiela Komoetie van die 1988-rolprent Fiela se kind en as Ester (Nenna) Willemse in Egoli: Plek van goud onthou – ’n rol wat sy 18 jaar lank vertolk het.

Ander sepierolle was in 7de Laan as Dorothy Daniels in 2002, in Villa Rosa, waarin sy Fran in 2004 gespeel het en Generations, waarin sy Mattie tussen 2001 en 2004 was.

In 2014 was Shaleen ook te sien in die teaterstuk Rondomskrik wat geïnspireer is deur die lewe en dood van die verkragtingslagoffer Anene Booysen van Bredasdorp.

Meer onlangs was sy te sien in die fliek Vaselinetjie, die TV-fliek Swirl: A Letter to Hair on the Cape Flats en die Afrikaanse telenovelle Arendsvlei as Muriel Foster.

Ekstra bron: IMDB.com

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.