"Dis bittersoet, want aan die een kant maak ek klaar met iets maar aan die anderkant is daar weer opwindende vooruitsigte. Ek kom al ’n baie lang pad met Getroud Met Rugby – al sedert die dramareeks en meer onlangs die sepie.

"My karakter het al twee troues gehad, is eenmaal geskei, was swanger, het ’n miskraam verwerk en ’n kind aangeneem. Om so gereeld en direk met ’n karakter te werk laat my dink aan ’n vriendskap tussen ’n beste vriend of vriendin," het Nadia aan Huisgenoot vertel. 

Sy en haar man, die sakeman David de Villiers, het in Mei vanjaar aangekondig hulle verwag ’n seuntjie. Dit het haar laat besluit om haar loopbaan aan te pas.

"Ek is baie opgewonde om ’n ma te wees, maar die plan was nooit om voltyds ’n ma te wees nie. Voor my rol op Getroud Met Rugby het ek amper 12 jaar vryskut werk gedoen en met die hulp van my agent het ek dit reggekry om ’n klomp spreekwoordelike balle in die lug te hou.

"Ongelukkig vereis die skedule van ’n sepie voltydse toewyding en vir nou sal ek eerder weer wil vryskut sodat ek ma-wees en vrou-wees gemakliker met my werk en loopbaan kan kombineer pleks daarvan dat ek die een of die ander moet kies," verduidelik sy.

Nadia sal op Vrydag 20 Julie die laaste keer op dié gewilde kykNET-sepie te sien wees. Sy vertolk sedert 2012 die rol van Iva. 

Nadia Beukes. Foto: Dino Codevilla

"Sy verlaat Vrydag die program in ’n baie hartseer en emosionele toneel," verklap Rudo van Heerden, Getroud Met Rugby se reklamebeampte.

"Gedurende die storielyn het Nadia die wonderlike nuus gedeel dat sy en David ouers gaan word. Aangesien die karakter nie kan kinders baar nie, is die besluit geneem dat sy ’n ernstige terugslag gaan beleef.

"Die skrywers het ’n storielyn ontwikkel waar Iva aan pynpille verslaaf raak na afloop van ’n nekoperasie. Die las van verslawing veroorsaak dat Iva die besluit neem om haar gesin en die Stryders te verwerp soos sy voel hulle haar verwerp het. Kykers kan Vrydagaand inskakel om te sien hoe hierdie dramatiese wending uitspeel," sê hy. 

Ná ’n maand se ‘kraamverlof’ wil sy graag weer as vryskutkunstenaar begin woeker en daar is heelwat projekte wat haar aandag trek, vertel Nadia. 

"As ek volgende jaar deel van enige reeks kon wees, is dit Dancing With the Stars (sou daar ’n tweede seisoen van die reeks wees). Ek dink dit sal ’n uitdaging wees, maar beslis een wat ek graag sal wil aanpak.

"Ek sal ook graag weer ’n bietjie aanbiederwerk wil doen. Ek geniet stemwerk verskriklik baie en sal beslis nie omgee om by ’n drama- of komediereeks of selfs ’n film as aktrise betrokke te raak nie.

"Ek is ook in die bevoorregte posisie dat my man my loopbaan ondersteun. Ons wil graag ouerskap as ’n spanpoging aanpak.

"Pedro Kruger het in een van sy vertonings gesê ’n mens moet soms jou kar eers weer in eerste rat sit voor jy behoorlik kan wegtrek. Ek sal dinge beslis ’n bietjie rustiger vat aan die begin met ons kleintjie, maar is nie iemand wat té lank kan stilsit nie."