"Ons is so opgewonde om aan te kondig dat ons eerste bondeltjie liefde later vanjaar gaan opdaag . . . #adventureawaits," lees die inskrywing op haar Instagram.

Die talentvolle Nadia Beukes, aktrise, motiveringspreker en natuurlik 'n voormalige aanbieder van een van kykNET se gewilde werklikheidsreekse, Boer Soek 'n Vrou, en haar man, die sakeman David de Villiers, kan hul opgewondenheid oor die nuweling se koms kwalik inhou.

In 'n onderhoud met kykNET het Nadia gesê hulle het al verlede jaar ouerskapgesprekke gehad, "maar nooit gedink ons sal so vinnig swanger raak nie."

“Ek het die uitslae bewaar en besluit om dit toe te draai as ’n Kersgeskenk wat ek vir David op Kersdag gegee het toe ons alleen was vroeg die oggend. Hy was omtrent verbaas en verskriklik bly," het sy aan kykNET gesê.

“As ek nie naar of moeg is of heeltyd badkamer toe wil gaan nie, wonder ek of die peanut nog okay is, maar toe ons als op daardie scan sien, was ek van vooraf net herinner aan God se groot genade en die wonderwerk wat besig is om te gebeur.”

Prinses

Die paartjie het op 10 September 2016 in Wakkerstroom, Mpumalanga, getrou. Sy het destyds gesê hy laat haar soos 'n prinses voel en dat dit soveel vir haar beteken.

Die twee het ontmoet nadat 'n vriend van David hom na een van Nadia se vertonings geneem het. Hy het na afloop daarvan vir haar 'n boodskap gestuur. En die res . . . is heerlike, holderstebolder, skoot-hoog-deur-geskiedenis!

Baie geluk, Nadia en David. Ons sien saam met julle uit na hierdie magiese avontuur wat nou vir julle voorlê!

Twitter se reaksie

Bron: kyknet.dstv.com