Die aktrise, wat byna 13 jaar lank die rol van die verpleegster Pippa Malherbe in die kykNET-sepie Binnelanders vertolk het, het onlangs ’n foto op Instagram gedeel en vertel hoe opgewonde sy oor haar nuwe begin is.

"Op die N1-roete na ’n nuwe begin. Paarl, hier kom ek vir ’n nuwe reeks vir @kyknettv volgende jaar en ’n nuwe haarkleur vir ’n nuwe karakter!,” lui die inskrywing.

"Al het my nuwe begin al lank begin, is ek steeds baie opgewonde daaroor. As ek my seëninge tel, besef ek ek word regtig in oorvloed geseën,” vertel Nadia aan Huisgenoot.

"Al mag ek nog niks verklap oor my karakter nie, moes ek ’n nuwe haarkleur daarvoor kry.”

“Ek hou baie van die haarkleur en wil altyd my karakter so eerlik moontlik uitbeeld,” sê sy.

“Ek is veral opgewonde om weer in die Kaap te wees,” voeg die aktrise by.

Nadia het in haar eerste rol nadat sy Binnelanders vroeër vanjaar gegroet het die prys vir beste aktrise op die Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom losgeslaan vir haar rol in die toneelstuk Huishou. Die bekroonde aktrise Cintaine Schutte, wat die rol van Katrien Nienaber in die kykNET-regsdrama Fynskrif vertolk, was saam met haar op die planke.

Nadia is omtrent bedrywig ná Binnelanders. Sy is ook te sien in ’n rolprentverwerking van Deon Meyer se kortverhaal Bottervisse in die Jêm.