Musiek was hul lewe en passie, maar ook hul brood en botter – tot daardie kwade dag toe die covid-19-pandemie die land tref, konsertsale se deure toeslaan en kunstefeeste van die kalender verdwyn.

“Wat nou?” was die groot vraag vir selfs van die bekendste name in die Afrikaanse musiekbedryf terwyl die rekeninge ophoop en die spaarvarkie ál leër word. 

Vir talle was die antwoord om uit te spring en ander talente in te span – selfs talente wat hulle voorheen nie eens geweet het hulle het nie. Soos Corlea Botha wat nou as hare- en grimeerkunstenaar werk en Juan Boucher wat nou videoredigering doen.

Volgens ’n verslag deur die Suid-Afrikaanse Kultuurobservatorium (Saco) – getiteld “Impact Analysis: Live Music and Its venues and the South African Economy During Covid-19” – het meer as die helfte van die sangers en musikante wat ’n lewe uit verhoogoptredes gemaak het, dié bedryf weens die pandemie vaarwel toegeroep.

“Soms maak dit ’n mens bedroef,” erken die sanger Jak de Priester wat deesdae ook as eiendomsagent werk. “Jy was tog daar in die beginjare, jy het harde klippe gekou. En nou word jou droom uit jou hande geruk.”

Ook ander sangers moes soos hy agter die mikrofoon uitskuif om die pot aan die kook te hou. Hier is hul verhale van volharding, maar ook van hoop . . .

Nádine: Aanlyn winkel en musiekprogram

Nadine
Nádine het onlangs die deure van haar eie aanlyn winkel oopgeswaai. Foto: Willem Botha

Dit het nie dadelik tot haar deurgedring hoe erg die inperkingsregulasies haar musiekloopbaan sou knou nie. Maar toe word haar konserte op ’n streep gekanselleer.

“My onmiddellike reaksie was: Wat gaan aan? Het ek iets verkeerd gedoen? Ek het gesien hoe my lewe – en my dagboek – een groot, leë spasie word. Ek het my agent gebel en gesê: ‘Ons moet kalm raak, want dit wat ons nou verloor, gaan ons nooit terugkry nie.’ ”

Ses weke later het sy die eerste van twee aanlyn vertoning gehou. Ná 25 jaar in die musiekbedryf waartydens sy meer as ’n halfmiljoen albums verkoop het, was dit vir haar ’n groot aanpassing.

“Ek het besef dit gaan nie help om dadelik na strooihalms te gryp nie; tog was daar ’n kalmte oor my. Ek het geweet ons sou die komende weke en maande stap vir stap moes benader.”

Die finansiële implikasies was “enorm”. Gewoonlik het sy drie bronne van inkomste: musiek, televisie en musiekteater. Maar musiek en teater was van die baan.

Nádine is al sewe jaar lank die aanbieder van die SABC2-musiekprogram Musiek Roulette, en gelukkig het die opnames daarvoor hervat toe die inperkingsregulasies verslap is. “Dit het my eintlik gered in ’n tyd dat ek gedink het: Liewe land, hoe bly ’n mens staande sonder werk? 

Die afgelope jaar was sy net twee keer op die verhoog.

“En dit was nie dieselfde as vroeër nie. Jy kon voel mense hoor die musiek, maar almal se gedagtes beweeg terug na die vraag: Hoe gaan ons vorentoe gaan? Eers nou, ná ’n jaar, kan ek aanvoel mense haal weer asem.” 

Intussen het Nádine haar eie aanlyn winkel bekendgestel. Sy het met ’n Gautengse vervaardiger saamgespan en verkoop handgemaakte ontwerperskoene, handsakke, leerbelde en vellies – nogal genaamd Nellie Vellies.

Nellie is hoe haar kêrel, die oudrugbyspeler Derick Hougaard, haar altyd noem.

“Ek het in my lewe nooit gedink ek sou ’n vellie maak nie,” vertel sy laggend. “Dit was my ma en bestuurder, Carine, se voorstel, want sy is mal daaroor.” 

Noudat sy ondanks al haar kommer en vrese tog kan kop bo water hou, is sy dankbaarder as ooit vir die klein dingetjies, sê Nádine.

“ ’n Vriend sê altyd vir my: Forward motion – dit maak nie saak hoe moeilik dinge vir jou is nie, solank jy net een tree vorentoe kan gee. Een tree in hoop.”

Corlea Botha: Hare- en grimeerkunstenaar

Corlea Botha
Sy het eers sanglesse aangebied, maar nou doen die Corlea Botha ook hare en grimering. Foto: Instagram/Corlea Botha

Sy het gou gesien die inperkingsregulasies stuur op ’n ramp af, sê Corlea. “Ek het geweet ek sou net ’n paar maande van my spaargeld kon leef.”

In April verlede jaar het sy op ’n ander manier ’n inkomste begin verdien – deur sanglesse aan te bied. Sy het meer as tien jaar gelede ook lesse in musiektegniek aangebied.

“Die sanglesse was wonderlik, maar dit was nie genoeg om my maandelikse uitgawes te dek nie,” vertel Corlea.

In Januarie vanjaar het sy met ’n vriendin, Elzaan van der Merwe, ’n voorkomskonsultant en eienaar van ’n boetiek in Pretoria, kragte saamgesnoer. 

“Vroue kom na Mamilla Fashions toe – ek doen die hare en grimering, en sy trek hulle aan. Ons doen dan ’n hele oormaaksessie en ons fotograaf neem ’n reeks foto’s,” vertel Corlea oor hul projek. Gelukkig het sy in die sukkeljare van haar sangloopbaan ’n slag met hare en grimering aangeleer.

Maar selfs die inkomste hieruit kan net ’n “paar gaatjies toestop”.

“Ek was in een stadium bekommerd, en het gesê ek gaan wag en kyk watter aftrekkings terugbons en watter deurgaan,” erken Corlea.

“Maar wonder bo wonder het die Here elke keer voorsien. Want solank jy op meer as net een talent kan staatmaak, sal jy oukei wees.”

Dirk van der Westhuizen: Klereverkope en tuisrestaurant

Dirk van der Westhuizen
Dirk van der Westhuizen het sy eie aanlyn winkel en ’n tuisrestaurant. Foto: OJ Koloti/Gallo Images

Sy optredes was altyd sy hoofbron van inkomste. Daarom was die skok groot toe dit in die inperking skielik opdroog. 

“Ek het nie geweet waar om te vat en waar om te los nie,” erken Dirk. 

Gelukkig het hy al in Junie 2019 met ’n aanlyn klerewinkel begin wat ook parfuum en ander handelsware verkoop.

“Die winkel het ontsettend goed gedoen, maar daar was ’n tyd toe ons nie aflewerings kon doen nie. Ek moes toe weer aan ander maniere dink om ’n inkomste te verdien.”

Sy plan? ’n Tuisrestaurant wat klaarbereide etes verkoop. ’n Vriend, Wiehan Vlok, wat voorheen ’n soortgelyke onderneming in die Wes-Kaap gehad het, het hom touwys gemaak agter die kospotte. Hulle is nou vennote en berei die kos saam met ’n span voor by Dirk se huis in Montana, Pretoria.

“Tot dusver is dit ’n enorme sukses,” vertel die sanger.

Hy kon sy uitgawes maand ná maand dek danksy die inkomste uit die kos en klerewinkel.

“En wanneer die inkomste nie genoeg was nie, het die Here altyd voorsien. Ek onthou hoe gestres ek was toe ek een maand – drie dae voor my rekeninge betaal moes word – nog gewag het op geld. En toe, uit die bloute, betaal die tantième van ’n ouer liedjie uit.”

Andriëtte: Voedingskundige en verkoopkonsultant

Andriette
Andriëtte werk as voedingskundige en verkoopskonsultant. Foto: Misha Jordaan/Gallo Images

As kind wou sy altyd ’n dieetkundige word, vertel Andriëtte. En toe sy verlede jaar in die inperking nie meer kon sing nie, het sy dié ou droom afgestof en ’n voedingskursus aanlyn gevolg.

Onlangs het sy die onderneming Andriëtte Norman Nutrition gestig. 

“Ek het dadelik weggeval om diëte en leefstylprogramme vir mense uit te werk, en almal is mal daaroor. “My man, Glynn, is ’n biokinetikus, en moet baie dikwels kliënte na sulke programme verwys – nou doen ek dit sommer!” vertel sy.

Andriëtte is deesdae ook ’n verkoopskonsultant vir die skoonheidsreus Annique en verkoop hul produkte met CBD, ’n nieverslawende bestanddeel van die daggaplant wat vir medisinale doeleindes gebruik word en onder meer stres verlig. 

“Ek en Glyn het dit gebruik, en toe ons besef dit werk, het ek gereken ek moet dit bemark,” vertel sy. 

Al is dit nie hoe die sanger haar die verloop van 2020 en 2021 voorgestel het nie, is sy dankbaar dat sy kan werk.

“Ek kan nou eindelik asemhaal en ophou stres oor die idee dat ek een maand geen besprekings sal kry nie.”

Jak de Priester: Eiendomsagent

Jak de Priester
Jak de Priester werk nou as eiendomsagent in Stellenbosch. Foto: Facebook/Jak de Priester

Weens die inperking kon hy verlede jaar maande lank nie toer nie. En toe Jak van tyd tot tyd weer kon optree, het die inkomste daaruit saam met die gehore gekrimp.

“Ek moes hard met myself praat en besef ons sal nie nog ’n jaar soos verlede jaar kon oorleef nie,” vertel die sanger.

In die verlede het hy al baie eiendomme opgeknap en weer verkoop. Tog het hy nooit daaraan gedink om ’n eiendomsagent te word nie – tot hy verlede jaar by ’n geleentheid van ’n agentskap gesing het.

“Die hoof van die agentskap het half informeel vir my gesê ek moet hom kontak as ek ooit belangstel om in die eiendomsmark te werk.” 

In Januarie het Jak by die span in Stellenbosch ingeval – en reeds ’n paar eiendomme verkoop. Hy beskou dit as “ ’n loopbaanaanvulling”, sê hy.

“Ek gaan nooit ophou sing en skryf nie. Maar ek het drie jong kinders op skool, en honderd ander uitgawes. Soms moet jy eenvoudig net doen wat nodig is om te oorleef.”

Anna Davel: Skilder

Anna Davel
Sy was al sedert al skooldae ’n passievolle skilder, maar nou skep Anna Davel werke wat sy opveil om ’n ekstra inkomste te verdien. Foto: Marike Steenkamp

Ná 30 jaar van verhoogoptredes was dit “ ’n skok vir haar identiteit” toe Anna weens die inperking skielik maande lank nie kon optree nie. Boonop kon sy sonder die inkomste uit haar vertonings nie haar maandelikse uitgawes dek nie.

Gelukkig is sang nie haar enigste talent nie.

“Ek was nog altyd ontsettend lief vir skilder en teken, al van my skooldae af. Maar omdat musiek in die laaste jare soveel van my tyd in beslag geneem het, het ek seker net een keer in drie jaar iets geskilder,” vertel sy.

Toe die sangeres Lizanne Barnard haar verlede jaar nader om Afrikaanse gedigte te illustreer wat Lizanne wou toonset en opneem, het Anna aan die werk gespring. Bykans 40 van haar illustrasies is aanlyn opgeveil.

Daarna het sy nog minstens 20 oorspronklike werke geskep en in die sosiale media opgeveil, en ook ’n solo-kunsuitstalling gehou. Sy gaan binnekort haar tweede solo-kunsuitstalling in Paternoster aan die Kaapse weskus hou. Van haar kunswerke is ook op haar webtuiste te koop.

“Dis steeds ’n groot uitdaging om te oorleef en om my rekeninge te betaal,” erken sy, “maar as dit nié vir die kuns was nie, sou ek dalk ’n gewone werk moes kry.

“Daar is iets ongelooflik bevredigends daaraan om skeppend en kreatief te bly terwyl die wêreld eintlik maar bitter deurmekaar is.”

Juan Boucher: Fotografie en video-redigering

Juan Boucher
Juan Boucher en sy vrou, Shamodene, het hull eie fotografie- en videoredigeringsmaatskappy gesit. Hy het ook ’n aanlyn winkel. Foto: Verskaf

Hy het “behoorlik gestres” toe hy nie meer sy brood met sy optredes kon verdien nie, erken Juan Boucher. “Die een oomblik was alles piekfyn en die volgende oomblik was dit nag. Daar was ’n tyd toe ek nie geweet het of ons die komende maande sou oorleef nie.” 

Vir hom was die antwoord om ’n inkomste uit ’n stokperdjie – fotografie – te verdien. Hy en sy vrou, Shamodene, het ’n maatskappy gestig wat in fotografie en videoredigering spesialiseer. Juan ook ’n aanlyn klerewinkel geopen.

Albei ondernemings floreer. “Dit was ’n groot verligting, selfs toe ons weer kon begin optree, want toe betaal die venues steeds halfprys en die gehore was veel kleiner.”

Irene-Louise van Wyk: Aanlyn klereverkope

Irene Louise van Wyk
Irene-Louise van Wyk het ook haar eie aanlyn winkel. Foto: Verskaf

Sy het harde bene gekou sedert die inperking haar sangloopbaan tot stilstand laat ruk het – en nie net finansieel nie. “Ek is al jare lank openlik oor my stryd teen depressie, maar om sonder ’n inkomste te sit het my angs en depressie vererger,” vertel Irene-Louse van Wyk.

Tog het sy in die moeilike tyd ’n aanlyn winkel gevestig wat onder meer in klere en juweliersware spesialiseer.

Die kimono’s wat sy altyd op die verhoog gedra het, was die inspirasie vir die onderneming, en sy het met die ontwerpers daarvan saamgespan om dit aanlyn te begin verkoop. 

“Dit het aanvanklik goed gegaan, maar nou is daar weer bitter min verkope,” sê sy. “Die ergste is dit: Ek kan nie die onderneming uitbrei nie, want daarvoor het jy kontant nodig.”

Ironies genoeg kry sy minstens een keer per week ’n versoek van ’n aanhanger om geldelike hulp.

“Ek is altyd eerlik, en sê dan reguit ek het ook nie geld nie. Dis ’n vals persepsie dat kunstenaars in die geld rol. Eintlik is die waarheid dat ek ook soms huil, omdat ek nie weet hoe ek deur ’n maand gaan kom nie . . .”

Len Muller: Lirieke vir ander

Len Muller
Die sanger Len Muller skryf nou meer liedjies as ooit tevore – en verkoop die liedjies aan ander kunstenaars. Foto: Facebook/Len Muller

Die “desperaatheid” daarvan om skielik sonder in inkomste uit sy optredes te sit, het Len gedwing om liedjies te “skryf dat dit klap”. 

“Waar skryf altyd vir my net ’n lekkerte was, was dit nou ál wat ek kon doen om ’n inkomste te verdien.”

Len het sedert die inperking verlede jaar ingestel is, al meer as 20 liedjies geskryf. “Een daarvan was die temalied vir ’n aanlyn leerprogram en die ander ’n liedjie vir die musiekgroep GNT. Die inkomste daaruit het my deur die maande gedra.”

Van die liedjies was vir die sangers Cordelia en Caroline Grace. Hy het ook liedjies saam met Kurt Darren geskryf.

“As jy ’n jaar of twee tevore vir my gesê het ons sou skielik nie meer kon optree nie, sou ek dalk doodbang gewees het oor die gevolge. Die Engelse gesegde lui: ‘Necessity is the mother of invention.’ Níks is meer waar as dit nie.”

Cordelia: In- en uitvoere van minerale

Cordelia
Cordelia werk met die in- en uitvoere van minerale. Foto: Fani Mahuntsi/Gallo Images

Tussen haar optredes deur werk Cordelia al jare lank met die in- en uitvoer van goud, chroom en steenkool.

“In die verlede kon ek my inkomste uit musiek gebruik wanneer ek ’n swak maand beleef, maar toe is dit skielik van my gestroop,” vertel sy oor haar groot kommer toe die covid-19-pandemie die land tref.

In die inperking kon Cordelia ook nie meer soos vroeër ma-en-dogter-glansaande aanbied om ’n ekstra inkomste te verdien nie. Dit het haar opnuut op geleenthede buite die musiekbedryf laat fokus, soos haar in- en uitvoeronderneming.

“Sulke moeilike tye laat jou diep in jouself delf. My oorlede pa het altyd gesê: ‘As dinge op sy slegste lyk, is die uitkoms op sy naaste.’ Ek glo dit sonder behoud.” 

Dewald Gouws: Groenteverkoopman

Dewald Gouws
Dewald Gouws werk nou as ’n groenteverkoopman by ’n mark in Pretoria. Foto: Facebook/Dewald Gouws

Die werklikheid van die verlies van inkomste toe die inperking aangekondig is, was vir hom soos ’n skoot yskoue water in die gesig, sê Dewald, wat geestelike liedere sing. 

“My toer aan die Suidkus is kortgeknip en my vrou se kleuterskool moes onmiddellik sluit. Ons het geen spaargeld gehad nie, maar die uitgawes het nie ook gevries nie.” 

’n Vriend het hom gehelp om werk by ’n varsproduktemark in Pretoria kry.

“Ek verkoop nou aartappels en uie,” vertel hy, en lag. 

Gelukkig kon sy vrou, Nesta, se kleuterskool intussen heropen. “Een jaar gelede sou ek dit nooit kon voorsien nie, maar ons kan genadiglik nou weer ons uitgawes dek.”

So maak ander sangers . . .

Hy skink van sy eie Elvis Brew-bier. Foto: Jacques
Die sanger skink van sy eie Elvis Brew-bier. Foto: Jacques Stander

Elvis Blue spog nou met sy eie padstal by die George-lughawe genaamd Elvis Brew. Hy brou sy eie bier wat hy daar verkoop. Reisigers kan ook daar koffie drink en leeritems en voorskote koop wat sy vrou, Chireze, maak.

“Ek hou van koffie, bier, wyn en gin. Daarom wou ons iets van ons eie daarmee doen,” het Elvis vroeër vertel.

Ook Robbie Wessels verdien ’n ekstra inkomste uit koffie.

Hy het ’n koffiestalletjie langs Garsfontein in die ooste van Pretoria en beman dit soms self.

“Dis vir my lekker om hier te wees, eerder as dat ’n mens by die huis sit en niks doen nie,” het die sanger in Januarie aan Netwerk24 gesê.

Die operasanger Jannie Moolman is nou ’n eiendomsagent in Hartbeespoort.

“Ek het agtergekom my konserte val net oor naweke, en ek is ’n busy body wat nie kan stil sit nie. Daarom het ek besluit om iets te kry om my deur die week besig te hou – wat terselfdertyd ook as ’n tweede bron van inkomste sou dien,” het hy aan Maroela Media gesê.

Ruan Josh, die sangeres Juanita du Plessis se seun, noem homself nou ’n singende boer.

“Om te boer was nog altyd een van my drome, nou is ek ’n singende, Jesus-volgende bok- en skaapboer,” het hy in die sosiale media vertel.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe