Sanger en prokureur, Nadine Blom, vertel oor hoe s
Sanger en prokureur, Nadine Blom, vertel oor hoe sy uit die donkerte van die pandemie gestap het. Foto: Facebook

Hoe gaan dit nou met haar? Hoe het sy haar kop weer bo water gekry?

“Dit gaan met tye goed en met ander tye nie so goed nie," erken Nadine nou teenoor Huisgenoot.

Sy was op 31 Julie verlede jaar reeds ses dae in kwarantyn toe Huisgenoot per selfoon met haar gesels het.

Dit was nadat sy in België was vir haar ousus, Elmari Brown (47), se roudiens nadat sy haar stryd teen kolonkanker verloor het. Nadine het dit toe as haar “woestyn op woestyn” beskryf.
            
“Ek is nie bang vir die virus nie en ook nie vir kanker nie. Met dit wat ek alles deur is, hoop en bid ek die lydingstyd is verby,” sê Nadine (44). “Die wêreld soos ek soos ons dit geken het, is verby. Ek sal my brein moet reboot om daarby aan te pas.             

“Ek sukkel nog baie om my sussie se dood te verwerk. Soms gaan sit ek sommer plat op die vloer in die kombuis en huil my hart uit,” vertel sy aan Huisgenoot.

“Elmi was soos ’n ma vir my,” sê Nadine. Die susters moes sewe jaar gelede afskeid neem van hul ma wat weens kanker dood is. Foto: Verskaf
“Elmi was soos ’n ma vir my,” sê Nadine. Die susters moes sewe jaar gelede afskeid neem van hul ma wat weens kanker dood is. Foto: Verskaf

“My werk help baie. Ek is regtig baie gelukkig in wat ek doen. Ek maak TV vir vroue en op dié manier kan ek hoop bring.”

Sy is sedert ons vorige gesprek as hoof van Wonder TV, die eerste Afrikaanse digitale platform vir vroue in Suid-Afrika, aangestel. Dis aanlyn beskikbaar op Digitvsa, ’n aanlyn-en-op-aanvraag platform

“Dit bring ook hoop in my eie hart terug tot ’n groot mate om te sien hoe ander vroue wat ook deur baie moeilike dinge geworstel het, weer regop gekom het.  

“Ek het wonderlike kollegas en vriende wat baie goed is vir my en ’n klomp jonges (my eie kind, my suster se kinders en my erfkinders uit my en my eksman se huwelik) wat baie lief is vir my en in wie ek my liefde in deponeer.”

Nadine het van Melkbosstrand na Bloubergstrand verhuis. “Dit was tyd vir ’n nuwe omgewing weg van die ou hartseer. Dit maak ’n baie groot verskil.

“Ek het ook begin om elke dag minstens 5 km te stap en soms draf ek selfs 'n bietjie. Ek is absoluut gesond. Ek het besef dat oefening kardinaal is vir ons as mense, veral in hierdie tyd waar ons met hoë spanningsvlakke leef.

“Ek het ook besef selfisolasie is nie goed vir my geestesgesondheid nie en ek het begin om uit te reik na ander en weer begin bou aan vriendskappe wat ek verwaarloos het," vertel sy.

“'Gelukkig' is ’n relatiewe begrip, dink ek. Ek kies om gelukkig te wees en as daar hartseer oomblikke is, laat ek dit toe, want vir lig om te kan skyn, moet daar soms ook seker donker oomblikke wees.”

Van die lesse wat Nadine geleer het, is: Om te gee terwyl jy in emosionele pyn is, kan soos medisyne vir jou seer wees.

“Ek probeer baie daarvan doen. Gee vir ander. Tyd, ’n blommetjie, ’n mooi stemboodskap waarin ek sommer vir iemand iets sing. Wat ook al. Gee van jouself.  

"Soos Lucas Maree gesing het: 'Ek vermoed die hart werk soos die weduwee se kruik wat vol word, selfs al sou mens dit gebruik.'

“Ek het ook geleer dat ek my verwagtings van ander mense moet bestuur. Dat dit dikwels te hoog is (my verwagtings) en dat ons almal die beste doen wat ons op daardie oomblik kan."

Met die covid-19-­inperkingsmaatreëls was die sang
Met die­ inperkingsmaatreëls was die sangeres-prokureur Nadine Blom (regs) enkele dae te laat om haar sterwende ousus, ­Elmari, se hand vas te hou. Foto: Verskaf

By haar nuwe werk stel sy konsepte saam, soek stories, skryf teks en hanteer die regie van Wonder TV se programme in samewerking met produksiespanne, inhoudsversamelaars en aanbieders.

“Dit is nogal ’n boomhuisie vol werk, maar ek is in my element. Ons het ook as deel van Wonder TV ’n digitale kinderkanaal Supercool en ek werk ook tans aan konsepte daarrondom."

Sy wil graag wat haar musiekloopbaan betref vanjaar die musiekvideo vir haar liedjie "Lig breek deur" skiet.

Nadine Blom en haar seun, Adriaan. Foto: Verskaf
Nadine Blom en haar seun, Adriaan. Foto: Verskaf

“As jy die vermoë het om terug te bons ná moeilike omstandighede en ’n manier vind om weer aan te gaan. Soms oor te begin.

“Ek dink hierdie tyd ná Elmi se dood was een van my langste woestyne en ek het regtig lank gesukkel om my bounce back te vind. My skuif terug na die kreatiewe het baie daarmee gehelp.”

Die sangeres Nadine Blom. Foto: Facebook
Die sangeres Nadine Blom. Foto: Facebook

In hierdie onstuimige tyd probeer Nadine om Sondae glad nie WhatsApps te antwoord nie. 

“Ek het ’n tech free dag. Ek antwoord ook nie e-posse nie. My vriende en naby mense weet al.”

Sy is vol hoop om in hierdie tyd van corona te oorleef.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe