Stoksielalleen in ’n hotelkamer in die hartjie van Kaapstad moet sy haar seer hart verpleeg.

Dit is dag 6 van haar twee weke in kwarantyn. Die sangeres en prokureur Nadine Blom gesels per video-onderhoud met Huis­genoot toe ons haar bel om te hoor hoe dit gaan. Dit is ook die sesde dag sedert sy van haar 47-jarige ousus, Elmari Brown, se roudiens in België teruggekeer het.

Want haar suster, haar beste maat, is in dié land in Europa weens kolon­kanker oorlede in ’n tyd wat die covid-19-pandemie en inperking mense en hul geliefdes ver van mekaar af hou.

Nadine was enkele dae te laat om die sterwende Elmari se hand vas te hou.

“Woestyn op woestyn op woestyn,” beskryf sy die afgelope paar moeilike maande. Die hartseer is duidelik sigbaar op haar gewoonlik vrolike gesig, met trane vlak in haar oë.

Dit voel asof iemand ’n hele hardeskyf uit my uitgeruk het.

“My ma verjaar vandag. Sy is al sewe jaar gelede dood weens leukemie,” vertel Nadine (44), en die rou emosie is byna voelbaar deur die kubergolwe.

Toe haar ma jare gelede weens kanker gesterf het, was sy en Elmari albei daar.

“My sussie hou vandag saam met Ma verjaardag in die hemel. Hulle drink seker tee saam. Ag, toe huil ek lekker. Dit voel asof iemand ’n hele hardeskyf uit my uitgeruk het.

“My sussie was my laaste core-familielid wat nog geleef het. Nou is sy ook weg. Haar begrafnis was verlede week.”

In November is dit planttyd in Zutendaal, waar Elmari gewoon het. Sy het gevra haar as moet onder ’n boom op vriende se plaas begrawe word sodat haar familie haar kan onthou wanneer hulle blomme en later vrugte in die takke sien groei.

Nadine kon toestemming kry om Suid-Afrika te verlaat om na België te reis, maar noudat sy weer terug op eie bodem is, moet sy ingevolge die inperkingsmaatreëls twee weke in kwarantyn deurbring ingeval sy tydens haar reis aan die coronavirus blootgestel is.

Boonop mag sy dit nie tuis by haar woonstel op Melkbosstrand deurbring nie – sy moet die tyd saam met ander reisigers in ’n hotel in Kaapstad verwyl. Sy is alleen in haar hotelkamer, dag ná dag.

“Ek het met baie emosies in my hart hier beland. Nou sit ek alleen hierso. Ek praat nie met ’n mens nie. Almal wat op die KLM-vlug saam met my was, is hier in kwarantyn. Ek sien nie ’n mens nie.

My hart is nog maar stukkend. Ek het besef dis oukei om soms jou menslikheid te wys.


“Hier kom geen natuurlike lig in die kamer in nie. Ek kyk teen die agterkant van geboue vas,” vertel sy en beduie met haar hand.

“Dis tough, maar ek byt vas, al voel dit vir my nou ’n bietjie soos die een ellende op ’n ander.”

Die kamer lyk spoggerig, met goue mure en ’n stylvolle oerwoudontwerp ­agter haar.

“My bed is my kantoor,” vertel sy en wys na die skootrekenaar en dokumente wat langs haar lê. Sy is al die afgelope twee jaar ’n regsdosent by ’n privaat univer­siteit en gee nou aanlyn klas hier uit die hotelkamer.

“Ek geniet die studente. Hulle is so lieflik. ’n Ou raak soos familie, dan kan hulle sien wanneer dit swaar gaan.

“Gister het hulle my so toegevou in een van die aanlyn klasse. My hart is nog maar stukkend. Ek het besef dis oukei om soms jou menslikheid te wys. ’n Mens is nie bo hartseer ver­hewe as jy in die openbare oog is of as jy lief is vir die Here nie.”

Sy stuur ’n klomp foto’s van haar en haar suster per e-pos aan. By een verduidelik sy: “Jy sal sien Elmi was my bewaker. Arm altyd om my.

“Elmi was soos ’n ma vir my,” sê Nadine. Die suste
“Elmi was soos ’n ma vir my,” sê Nadine. Die susters moes sewe jaar gelede afskeid neem van hul ma wat weens kanker dood is. Foto verskaf

“Sy het my soos goud opgepas, en later jare, toe ek volwasse genoeg was om te besef wat oppas is, het ek haar bewaak,” vertel Nadine. Nou is sy ook die “bewaker” van Elmi se twee volwasse kinders, Thomas (22) en Kath­lyn (20).

“Kathlyn begin in September joernalistiek studeer in Gent in België, en Thomas is genader om te werk by ’n vriend se IT-onderneming, ook in België,” vertel sy.

Die twee sal haar altyd aan haar suster herinner. Ook Elmari se kuns sal die herinnering lewend hou, vertel sy. Dan verdwyn sy vir ’n paar sekondes en kom terug met klein olieskilderye van engele wat haar ousus geverf het.

Sy het gelukkig nog geen simptome getoon van die virus wat haar so lank van haar siek sussie weggehou en haar nou in verpligte isolasie hou nie, vertel Nadine.

“Ek volg deesdae ’n alternatiewe leefstyl en vermy enigiets chemies en gebruik eerder vlugtige bloekom-, naeltjie- en ander olies vir verkoues.

“Ek is nie bang vir die virus nie en ook nie vir kanker nie,” sê sy. “Die wêreld soos ek – soos ons – dit geken het, is verby. Ek sal my brein moet reboot om daarby aan te pas. Ek moet ook nie, soos ’n vriend vir my gesê het, selfsugtig wees en in pyn en hartseer bly leef om my ma en sussie terug te wens nie. Ek moet hulle laat gaan.”

Sy kyk op na iewers bo teen die dak, hemelwaarts, asof sy hulle nou voor haar wil oproep.

“Vanoggend nog wou ek vir haar ’n SMS stuur oor iets,” vertel sy oor Elmari. “Toe onthou ek sy is weg . . .

“Ek was die laaste drie dae van haar lewe konstant in video-oproepe vanuit Melkbosstrand met haar doer oor die water in die hospitaal tot sy weggeglip het. Nadat sy dood is, het ek haar lyfie daar sien lê. Dit was baie traumaties vir my, maar ten minste kon ek van die rouproses deel wees en afskeid neem.

“Ek het so gehoop ek gaan haar nog sien. Haar kinders het my laat weet toe die dokters sê die einde is naby. Ek het my sussie gebel. Sy’t haar oorfone opgehad.

“Sy het haar naam vir my, Dina, gesê en toe hoor ek hoe sy wegglip. Dit was met my ma ook so. Ek kon darem drie keer met my sus praat voor sy in die koma ingegaan het. Ek kon vir haar dankie sê vir die amazing ousus wat sy was. Dankie dat sy my altyd opgetel het wanneer ek in die lewe geval het. Nadat my ma weg was, was Elmi soos ’n ma vir my.”

Nadine het toe reeds ’n mediese noodvisum bekom en kon drie dae ná Elmari se dood op ’n repatriasievlug na Europa plek kry. En toe, vir oulaas, kon sy weer by haar suster se diens groet.

Haar bynaam, Dina, kom van kleintyd.

“My oupa het my Dinky Toy genoem omdat ek die kleinste en kortste in die familie was.”

Nadine Blom. Foto verskaf
Nadine Blom. Foto verskaf

Sy staan 1,58 m in haar skoene, maar moenie haar omkrap nie, terg sy. “Ek is baie kwaai; dus was ek verbaas die Here het my ’n bediening met kinders gegee,” sê sy oor Supercool, haar reeks kinder-CD’s en -DVD’s.

“Ek het drome gehad met kinders saam met my in busse en vliegtuie en in die water. Soos Josef in die Bybel,” vertel sy oor die inspirasie vir haar kinderalbums. Die eerste in die reeks het in 2008 die lig gesien.

Nadine was toe reeds ’n bekende sangeres nadat haar eerste CD, Reën, in 2003 bekendgestel is. Sy vertel dit was Elmari wat haar aangemoedig het om ook liedjies vir kinders te skryf.

Maar sy was al voor haar sangloopbaan ’n prokureur; dus is die terugkeer na die regsberoep geen verrassing nie.

Sy het dit destyds tydelik laat vaar ná die geboorte van haar seun, Adriaan, in 2002 en toe begin om haar liefde vir musiek uit te leef.

Maar nou is die kort rooi kapsel wat sy gedra het toe sy gereeld vir kinders gesing het weg, en sy het onlangs haar meestersgraad in internasionale reg aan die Universiteit van Johannesburg voltooi.


Sy het boonop in ’n skrywer ontpop: Die boek wat sy en Adriaan (nou 18) saam geskryf het, Blits: Perlemoendiewe, het in 2018 verskyn, en verlede jaar het haar boek Skarlakenkinders, geskryf saam met Anzil Kulsen, verskyn. Dis ’n fiksieverhaal oor vroue wat in sekshandel ingedwing is.

Adriaan is, nes sy ma, geïnteresseer in misdaad en wil ná skool sy rekenaar­vernuf inspan om as “white hat hacker”, ’n etiese kuberkraker, netwerke te toets ­sodat kwaadwillige kuberkrakers nie toegang kry nie.

Hy is vanjaar in matriek en woon tydens Nadine se kwarantyntydperk saam met sy halfsuster, Amor (28), in die gesin se woonstel op Melkbosstrand.

Amor en die 23-jarige Christiaan is Nadine se eksman, Bertie, se kinders uit sy eerste huwelik. “Ons kom almal goed oor die weg, en ek’s baie lief vir hulle,” sê sy.

“Ek het baie foute in my lewe gemaak, baie geleer. Ek weet wat ek vandag het, is net genade van Bo. My hart is nou seer, maar daar is steeds hoop in my. Ons kinders is mos amper soos ’n spieël waarin ’n mens kyk, en ek sien in Adriaan ’n doelgerigte, sterk jong man op wie ek trots is.”

Nes haar ousus Elmari nog altyd trots was op haar.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe