Dis een van die lekkertes van die werk. Ná meer as drie dekades in die modebedryf het Naomi Campbell al elke gesondheids- en skoonheidsproduk beproef – maar daar’s net een waarsonder sy nie kan klaarkom nie.

“Dettol!” sê die Britse supermodel in daardie onmiskenbare heuningagtige rasperstem oor die foon vanaf New York. Hulle ken dit nie in die Groot Appel nie, sê sy.

“Maar ek het met Dettol grootgeword. Dettol is deel van my lewe!” Sy dink terug aan haar kinderjare in Londen. “Wanneer ek ná skool by die huis gekom het – ek was in ’n teater-kunsskool – moes ek my leotard en balletkouse elke dag was en ophang om droog te word.”

Ek probeer my indink hoe klein Naomi met haar skoongewaste leotard die ikoon geword het wat ons vandag ken. Sy is een van die oorspronklike supermodelle wat in die laat 1980’s op die toneel verskyn en ’n splinternuwe sinergie van mode en hoofstroomkultuur gebied het. Sy, Cindy Crawford, Linda Evangelista, Christy Turlington en later Kate Moss.

As muse vir mense soos die modeontwerper Gianni Versace was Naomi in elke belangrike reklameveldtog, en met daardie legendariese “Naomi Campbell-stappie” het sy vir elke relevante ontwerper op die loopplank verskyn.

Dit het so bekend geword dat dit lirieke in Beyoncé se liedjie “Get Me Bodied” is en was so goed dat dit selfs werk wanneer sy val, soos in 1993 tydens ’n modevertoning van Vivienne Westwood.

Om te sê sy is veelsydig is om dit sagkens te stel. Dink maar aan die toneelspel, dans, sing, televisiewerk (as aanbieder van die werklikheidsprogramme Making the Cut en The Face), die skryfwerk, die Naomi Campbell Top Model-pop en die parfuums wat haar naam dra. Dit beteken sy is vandag na raming sowat R700 miljoen werd.

Dan is daar natuurlik haar aktivisme, veral deur haar liefdadigheidsorganisasie Fashion for Relief wat geld insamel vir slagoffers van verskeie internasionale krisisse. Haar roem het basies die hoogste moontlike vlak bereik: Sê net “Naomi” en mense weet van wie jy praat.

Haar liefde vir Dettol is nie ’n verrassing vir mense wat die video gesien het wat verlede jaar soos ’n veldbrand versprei het nie. Daarin vee sy ywerig elke hoekie van haar vliegtuigsitplek af voor opstyging. Toe het dit ietwat gek gelyk, maar nou, in ’n wêreld met COVID-19, lyk dit heel verstandig.

Maar daaraan is sy gewoond, sê sy in haar woonstel in New York waarvan jy ’n kykie in haar YouTube-video’s kry. Dit is propvol foto’s uit haar roemryke verlede.

“Mense het al vir my gelag en my jare lank skeldname en allerhande dinge toegesnou,” sê sy. “Maar weet jy wat? Dis nie my probleem nie; dis hulle s’n.”

Ondanks die wêreldwye inperking lyk dit of Naomi floreer. Ek het al vandag gesien hoe sy haar oefensessie aan haar meer as 8 miljoen volgelinge op Instagram uitsaai en haar daaglikse geselsprogram, No Filter with Naomi, op haar YouTube-kanaal aanbied.

Onder die gaste was die modeontwerper Marc Jacobs, die supermodel Cindy Crawford en die aktrise Sharon Stone. Dis 00:45 by my toe ek haar stem oor die foon uit New York hoor. My ooglede wil-wil begin toeval, maar Brittanje se legendariese supermodel maak dit die wag werd. Sy is eintlik die een wat moeg is, hoor ek voor sy op die lyn kom, hoewel dit nou eers 19:45 daar is.

Selfs voor COVID-19 was dit vir Naomi belangrik om
Selfs voor COVID-19 was dit vir Naomi belangrik om haar vliegtuigsitplek te ontsmet.

Haai, Naomi! “Haai,” kom die stem, en daardie rasperagtige heuningklank klink ’n bietjie plat. Hoe gaan dit met jou? “Goed, dankie.” Besige dag? “Ja.”

No Filter with Naomi is ’n sterbelaaide program, merk ek op. “Dis nie noodwendig net sterre nie,” help sy my reg. “Dis net mense wat my vriende is.” Met ander woorde: Dis haar normaal – wat allesbehalwe normaal is.

Ek wonder watter ander weergawes van Naomi ek gaan kry. Sy is immers al as ’n diva bestempel: In ’n onderhoud in 2002 het sy aan die Amerikaanse joernalis Barbara Walters gesê sy aanvaar die titel “bitch” met graagte – “maar dan ’n hardwerkende en lojale een”.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Dekades later is Naomi steeds een van die grootste name in die modelwêreld. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dan is daar die goed gedokumenteerde vloermoere en uitvalle, die vier skuldigbevindings aan aanranding en die keer in 2010 toe sy – nadat sy na ’n oorlogsmisdaadtribunaal in Nederland ontbied is om in die verhoor van Charles Taylor, die voormalige president van Liberië, te getuig – dit gewaag het om aan die regter te sê: “Dit verontrief my baie.”

Maar in die afgelope dekade het sy skynbaar ’n nuwe vlak van vrede bereik, en die wêreld het weer op haar verlief geraak. Verlede Desember het sy die prys vir mode-ikoon op die Britse modeprysaand ontvang – die eerste swart vrou wat dit kry – en die gehoor gaande gehad oor haar hartstogtelike toespraak. (“Dié prys is vir die meisie vir wie daar altyd nee gesê is.”)

Cindy Crawford was onlangs in Naomi se YouTube-ges
Cindy Crawford was onlangs in Naomi se YouTube-geselsprogram.

Maar sy was al so dikwels die wêreld een stappie voor. Sy het haar byvoorbeeld beywer vir diversiteit in die bedryf deur nuwe talent soos Adut Akech en Campbell Addy te ondersteun, en vir die potensiaal van haar geliefde Afrika voorbrand gemaak. Sy was baie geheg aan Nelson Mandela – “president Nelson Mandela,” sê sy uit die hoogte, “of Oupa, soos ek hom graag genoem het.”

Dit is Statige Naomi op haar beste. Tydens ons gesprek kry ek ook met Lawwe Naomi, Stuurse Naomi en Geestelike Naomi te doen – sy noem sewe keer dat sy “geseënd” is. Toe sy die ikoonprys ontvang het, was dit opmerklik dat sy in ’n groot deel van haar toespraak haar ma, Valerie, bedank het wat haar as enkelma grootgemaak het – sy het nooit haar pa ontmoet nie.

Valerie is tydens die inperking in Londen, maar hulle praat elke dag met mekaar. Naomi sê sy voel nader as ooit aan haar Brits-Jamaikaanse wortels. “Dit stem jou nederig,” sê sy oor die lewe in afsondering, “want alles wat ek my ouma en ma ooit sien doen het, duik nou op: die dinge wat hulle kook, die dinge wat hulle in die huis gedoen het”.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Sy lag nadat sy in 1993 tydens ’n Vivienne Westwood-vertoning in Londen geval het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit lyk of dit hoofsaaklik beteken om die huis goed skoon te skrop. “Dis hoe Jamaikaanse families is – dis hoe ons grootgemaak is.”

Sy hou vol sy doen dit nou steeds, en sweer dis uiters terapeuties. “Luister, niemand kan jou huis beter as jy skoonmaak nie. Niemand!”

Naomi skop vas toe ek haar vra of sy al ooit aftrede oorweeg het. “Ek hou nie van die woord ‘aftree’ nie,” laat sy ferm hoor. “Wanneer ek dit nie meer wil doen nie, sal ek dit bloot nie doen nie. Maar ek gaan dit nooit sê nie. Ek is iemand wat uiters aktief is. Ek hou van aktief wees, en ek dink ek gaan altyd aktief wees.”

Foto: Gallo Images/Getty Images
Op die loopplank saam met Cindy Crawford. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar terwyl sy haar daarop voorberei om 50 te word, is dit ’n goeie geleentheid om terug te kyk. Vra jy haar watter fotograwe die grootste invloed op haar loopbaan gehad het, sonder sy Steven Meisel uit, wat haar die eerste keer afgeneem het toe sy 16 was.

“Ek het nie geweet hoe om te poseer nie en het baie by hom geleer,” vertel sy. “Ek het by die meeste van die fotograwe geleer, want ek kom uit ’n klassiekedansagtergrond en het daarom geen benul gehad wat aangaan nie. Ek het net gedink: Ek sal dit probeer inwerk en kyk of dit werk en of ek daarmee wegkom!” Sy gee die kekkellaggie van ’n jong meisie. Sy noem ook Peter Lindbergh, Herb Ritts, David Bailey, Terence Donovan en “die belangrikste: Martin Brading, die eerste een wat my afgeneem het”.

Dit was vir die tydskrif Elle in April 1986 in New Orleans, ’n maand voor haar 16de verjaardag. “Dit was alles so opwindend en verrassend, soos ’n kind in ’n lekkergoedwinkel,” vertel sy. “Ek het gevoel: Ek’s in Amerika!”

Selfs voor COVID-19 was dit vir Naomi belangrik om
Selfs voor COVID-19 was dit vir Naomi belangrik om haar vliegtuigsitplek te ontsmet.

Hier is sy nou in Amerika in afsondering en konfronteer die coronokrisis met haar deurwinterde filosofie. “Ek dink om van verslawing te herstel het my baie in dié tyd gehelp,” sê sy. Sy is meer as 20 jaar gelede die eerste keer vir rehabilitasie van kokaïen- en drankverslawing opgeneem – “want daar’s ’n sekere dissipline daaraan om op die herstelpad te wees”.

Gaan daardie dissipline daaroor om te weet wanneer jy eensaam voel? “Ek bedoel, ek reik uit,” sê sy. “Ek het nog altyd geglo in die gesegde: Om alleen te wees beteken nie jy’s eensaam nie.”

Naomi het al verhoudings gehad met die akteur Robert de Niro, die bokser Mike Tyson en glo ook met die Britse rapper Skepta, maar as daar op die oomblik ’n man in haar lewe is, verklap sy niks daaroor nie.

“Wanneer ek in die middel van die nag wakker word, kan ek net my foon optel,” sê sy. “Ek is in geselsgroepe. Iemand sal vra: ‘Is enigiemand wakker?’ en iemand anders sal antwoord: ‘Jip!’ ”

Foto: Gallo Images/Getty Images
Naomi en haar ma, Valerie Morris, by die 2017- Modeprysgeleentheid in Londen. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit voel asof sy deur die jare toegankliker geword het – en meer bereid om vir haarself te lag. Gaan kyk na haar YouTube-kanaal, waar sy praat oor haar uitgebreide welstandsroetine (sy’s versot op origanumolie) of inkopies by Whole Foods, ’n Amerikaanse gesondheidskettingwinkel (“Geen gluten, geen koring, geen suiwel? Wat de f** gaan ek eet?”), of daardie video van haar wat die vliegtuigsitplek skoonmaak, ’n roetine waarmee sy sowat 20 jaar gelede begin het.

“Dit gaan daaroor om te doen wat jou gemaklik laat voel,” sê sy. Net so hou sy vol sy moet tydens die inperking elke dag behoorlik aantrek al werk sy van die huis af.

“Nee, ek sit nie in my slaapklere rond nie. Dit gee nie vir my ’n goeie selfbeeld nie.”

Haar begeerte om te ontspan bots duidelik met die supermodel in haar. Toe sy byvoorbeeld laggend noem dat sy “baie bly is dat sy nie hakskoene hoef te dra nie”, is sy ’n sekonde later byna geskok toe ek haar pols of sy dalk oor die algemeen keelvol daarvoor is.

“Ek is versot op hakskoene!”

Wat sou sy aan haar jonger self sê? “Ek sou sê: Doen alles wat jy wil doen. As jy weet jy het die energie en krag om dit te doen, gaan voort en doen dit. Volg jou passies, jou begeertes. En moenie luister na wat enigeen sê nie. Net jy weet wat jy kan doen of hoe ver jy kan gaan.”

Dit klink nogal na iemand wat oor niks spyt is nie, sê ek. Daar is ’n pouse. “Ek het nie dít gesê nie,” sê sy ferm. En wat daardie mylpaalverjaardag betref, sweer sy sy dink nie juis daaroor nie. Daar was “soveel verskillende idees” voor COVID-19, sug sy.

“Om eerlik te wees, as ek op 22 Mei (haar verjaardag) hier in afsondering is, is ek geseënd.”

Sy fokus meer op die huidige situasie. “Ek wil alles haal uit wat ons veronderstel is om hieruit te haal. Ek is geen heilige of wat ook al nie, maar ek wil stil genoeg wees om hierdie golf te vang.”

Sy lui kort daarna ewe liefies af met ’n “dankie” – Lieftallige Naomi, ’n verrassende nuwe toevoeging tot die repertoire.

Die grootste name in die modebedryf deel hul herinnerings aan Naomi

Donatella Versace

Ontwerper

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ek weet steeds nie hoe sy dit reggekry het nie, maar sy het soms tot sewe keer in ’n enkele vertoning van uitrusting verander – iets wat amper onmoontlik is – en absoluut perfek gelyk! Ons verhouding strek verder as ons werk. Ek weet sy sal altyd daar wees vir my, en sy weet ek sal altyd daar wees vir haar. Dis iets unieks en skaars in ons wêreld.”

Helena Christensen

Model en fotograaf

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Waarvan ek die meeste hou van daardie koel, mal, beeldskone, prettige meisie, is dat sy my elke jaar letterlik klokslag om middernag op Oukersaand bel om my ’n gelukkige verjaardag toe te wens. Elke jaar.”

Riccardo Tisci

Hoof kreatiewe beampte, Burberry

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Daar is niemand soos Naomi nie – sy’s ’n koningin, ’n godin en ’n ikoon. Sy is goedhartig, deernisvol, vrygewig en opreg. Ek sal haar altyd liefhê en wens haar die gelukkigste verjaardag toe!”

Cindy Crawford

Model en entrepreneur

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die eerste keer toe ek Naomi ontmoet het, was in Maart 1987 agter die skerms by die Azzedine Alaïa-vertoning. Sy was die nuweling, maar het reeds die selfvertroue en selfversekerdheid van ’n gesoute beroepsmodel gehad. My gunstelingherinnering is van jare later, in Cabo (Mexiko) in die Kerstyd. Ons het almal saam die nuwe jaar ingelui. Naomi het ’n feestelike viering op die strand gereël. Daarna wou my kinders hê ‘tannie Naomi’ moet elke Oujaarsaand by ons wees. Sy het ’n ongelooflike vermoë om mense byeen te bring. Gelukkige verjaardag, Naomi. Ek is nie seker hoe jy dit regkry nie, maar jy raak nie ouer nie!”

Christy Turlington Burns

Kampvegter vir moedergesondheid en model

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ek het Naomi die eerste keer in Londen by ’n fotosessie vir Warehouse ontmoet toe ons tieners was. Ek onthou haar groot glimlag en reg-vir-enigiets-persoonlikheid asof dit gister was. Ons het dadelik gekliek. ’n Jaar later het ons mekaar weer in New York raakgeloop, en op die ou end het ons saam in ’n solderwoonstel in Soho gewoon. My herinnerings van jonk en ietwat wild wees in New York in die laat 1980’s en die vroeë 1990’s is onlosmaaklik met Naomi verbind. Ons wilde jare was van die prettigste jare van my modelloopbaan.”

Claudia Schiffer

Model

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Wanneer ek en Naomi praat, is dit asof ons mekaar net die dag tevore nog gesien het. Daar was nog altyd ’n unieke kameraadskap tussen ons en die ander meisies. Wanneer iemand ’n slegte ervaring gehad het of gevoel het hulle is onregverdig behandel, het ons almal gebel en vertel wat gebeur het. Ons het geweet ons het saam die mag en moet dit gebruik. Naomi was so ’n kritieke deel daarvan. Sy blaas lewe in enige partytjie. Sy is spitsvondig, briljant en pragtig van binne en buite.”

Patti Wilson

Stilis

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ek het Naomi die eerste keer op ’n vlug na Londen gesien, net voor sy ‘Naomi’ geword het, en ek onthou ek het gedink: ‘Ek kan nie wag om daardie meisie af te neem nie.’

“Tallose artikels en reklameveldtogte later wag ek steeds dat Naomi betyds by die stel opdaag (lief vir jou, Naomi!). Maar wanneer sy instap, straal sy net ’n energie uit wat jou van alles laat vergeet.

“Ek het al vir haar klere aangepas terwyl sy wêreldleiers bel, haar sakevergaderings in die grimeerstoel sien hanteer, en sy maak tyd om met elke mens op die stel te gesels. En tog kry sy dit steeds reg om 10 foto’s binne drie uur geneem te kry en elkeen is prentjiemooi, nes sy.”

Sam McKnight

Haarstilis

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ek het Naomi die eerste keer in 1985 gesien toe hierdie lang, lenige skoolkind met vlegsels in Kensington Gardens van die bus afklim waar ons ’n modestorie geskiet het. Sy was so oulik en senuweeagtig en snaaks. Ons het daarna soveel wonderlike fotosessies, reise, vertonings en partytjies saam beleef. En tot vandag toe vergeet sy nooit my verjaardag nie. Dis trouens skrikwekkend dat sy alles onthou!”

Kate Moss

Model en stigter van die Kate Moss Agency

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ek het van my snaaksste, onvergeetlikste tye saam met Naomi gehad. Ons sien mekaar nou nie meer so dikwels nie, maar sy is altyd in my hart. Gelukkige verjaardag; ek is lief vir jou.”

Iman

Model en filantroop

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Nes als wat al oor haar pad gekom het, sal Naomi van 50 ’n vuur maak wat die pad vorentoe met glans, opwinding en doelgerigtheid verlig. Gelukkige verjaardag, suster.”

© Louis Wise / The Sunday Times Magazine / News Licensing;Foto's: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, INSTAGRAM/@NAOMI, YOUTUBE/NAOMI
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.