’n Jaar nadat hulle ’n egpaar gespeel het in die kortstondige Netflix-reeks Gypsy is Naomi Watts (49) en Billy Crudup (50) romanties verbind in die regte lewe.

Al verkies die uiters privaat paartjie om uit die kollig te bly, is hulle al ’n hele paar keer saam gewaar. Hulle lyk alte verlief en volgens bronne is hulle “moeg daarvan om hul romanse geheim te hou”.

Naomi se nuwe kêrel het ’n 14-jarige seun, William, by die aktrise Mary-Louise Parker (53). En Naomi het drie seuns – Sasha (11), Alexander (10) en Kai (9) – by die Ray Donovan-ster, Liev Schreiber.

Naomi en Liev is in 2016 uitmekaar.

Liev se nuwe liefde

Maar moenie Liev te jammer kry nie – dié 50-jarige akteur is in ’n verhouding met die voormalige Mej. Suid-Dakota Taylor Neisen.

Liev en Taylor met sy kinders Samuel en Alexander in New York, 28 Januarie 2018. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Al het hy eers na die 26-jarige skoonheidskoningin as sy kinders se oppasser verwys – hy en Naomi het na bewering ooreen-gekom nie een van hulle sou vir ’n jaar ná hul skeiding openlik met iemand anders uitgaan nie – was die twee onlangs minder skaam oor hul romanse.

Taylor het in 2012 aan die Mej. Amerika-wedstryd deelgeneem in die jaar toe die model Olivia Culpo (26) die titel verower het, en kom glo uit ’n baie ryk familie.