Die 69ste Mej. Heelal-kompetisie is in Hollywood, Amerika, gehou. Dis egter nie oor die opvolger waaroor daar in die sosiale media gegons word nie, maar oor Natasha Joubert wat Suid-Afrika verteenwoordig het en nie eens die top 21 gehaal het nie. 

Natasha (23) van Centurion, Gauteng, was van die begin af ’n gunsteling onder Suid-Afrikaners en selfs kenners van skoonheidskompetisies het voorspel dat sy ’n goeie kans staan om met die kroon weg te stap. 

View this post on Instagram

A post shared by Natasha Joubert (@natasha_joubert)

“Ek is steeds in ontkenning dat Natasha nie die top 21 gehaal het nie. 'n Groot deel van my glo dat daar ’n groot fout moes gewees het,” skryf die voormalige Mej. Wêreld, Rolene Strauss, op Instagram. 

Margaret Gardiner, wat in 1978 as Mej. Heelal gekroon is, was ook onder diegene wat haar ongelukkigheid in die sosiale media uitgespreek het. 

“Natasha Joubert ek wil vir jou sê hoe trots is ek op jou. Jy verdien om dit al die pad te maak. Dit is nie ’n refleksie op jou nie. Jy is pragtig, warm, talentvol en intelligent. Jy het jou land saam met jou gedra. Daar is soms ’n waarheid oor kompetisies.

“As dit goed gaan met ’n land, veral soos dit onlangs met ons gegaan het, maak dit dit amper onmoontlik vir die volgende vrou wat kom. In my oë, in die oë van almal in ons land, is jy ’n wenner en ons is lief vir jou en kan nie wag om te sien wat jy volgende doen nie.”

natasha joubert
Natasha het Suid-Afrikaners baie trots gemaak. Foto: Instagram/@natasha_joubert

“Ek is baie trots op my kind en ek is verskriklik gelukkig dat sy een van haar drome kon af tick om op die Mej. Heelal-verhoog te wees,” sê Natasha se ma, Ninette Joubert (51), aan Huisgenoot. 

“As ’n mamma is ek baie hartseer omdat ek nie daar kon wees nie. My hart was verskriklik gebreek, want ek dink dit was een van die min kompetisies wat ek nie saam met haar kon gewees het nie,” vertel sy. 

natasha joubert
Natasha en haar ma, Ninette. Foto: Instagram/@natasha_joubert

Hoe voel sy daaroor dat Natasha nie die top 21 gehaal het nie? 

“Ons was natuurlik teleurgesteld daaroor, maar jy berus jou nou daarby; dis maar ongelukkig hoe die lewe gaan. You win some and you lose some en gelukkig het ek dit vir my kinders geleer.

“Daar gaan dinge gebeur dat jy nie altyd gaan kry wat jy wil hê nie en vir al die harde werk wat jy ingesit het nie.” 

Sy het nog nie self kans gehad om met Natasha te gesels nie, vertel Ninette. 

natasha joubert
Natasha Joubert het die derde plek in die Mej. SA-kompetisie behaal en het die land verteenwoordig by die Mej. Heelal-kompetisie in Amerika. Foto: Instagram/@natasha_joubert

Lees ons onderhoud met Natasha kort voor haar vertrek na Mej. Heelal

Van jongs af droom sy daarvan om eendag die gesogte Mej. Heelal-kompetisie se verhoog te beklee en haar land te verteenwoordig.

Toe Natasha Joubert in Mei 2020 tydens die inperking vir die Mej. Suid-Afrika kompetisie inskryf, het sy in haar inskrywingsvideo vir haar vriend wat die video opgeneem het hoopvol en opgewonde gesê: “Jy kom Miami toe, Scott, wanneer ek Mej. Heelal doen,” en nou ’n jaar later het sy Suid-Afrika by die 69ste Mej. Heelal-kompetisie verteenwoordig wat vanjaar in Hollywood in Florida, Amerika, gehou word. 

“Ek het nie ’n benul gehad die kompetisie gaan daar wees nie, maar ek het van die begin af gesê ek wil na Mej. Heelal toe gaan,” vertel Natasha tydens ’n video-oproep aan Huisgenoot, kort voor haar vertrek na die kompetisie.  

Natasha, wat voorheen vir drie jaar as ’n skakelbeampte by ’n prokureursfirma gewerk het, kom oorspronklik van Centurion in Gauteng. Sy is ook die stigter en eienaar van haar eie onderneming, Natalia Jefferys, wat aandrokke en trourokke verhuur.

Haar projek Destiny Designed was ook daarop gemik om plaaslike ontwerpers soos sy te bemagtig.

“Ek het juis die projek gekies om ’n platform vir ontwerpers te skep, waar hulle hul storie kan deel en meer verteenwoordig voel. Wat wonderlik was is dat ek dit uit ervaring kon doen; ek het 12 ontwerpers gekies wat hul werk kon wys en hul besigheid ’n tweede kans gee, want baie moes amper hul deure sluit weens covid-19,” vertel sy. 

Al het sy die derde plek behaal in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie, wat in Oktober verlede jaar in Kaapstad gehou is, is sy toe as die land se verteenwoordiger vir die Mej. Heelal-stryd aangewys. 

Op die ouderdom van 10 het sy aan haar eerste skoonheidskompetisie deelgeneem.

“Hou vas, ek moet jou wys,” sê Natasha en soek die foto op haar selfoon en wys dit op die skerm.

“Ek het sulke krulhare gehad. My sussie het my gehelp om my hare reguit te maak, maar my ma was woedend toe sy by die huis kom. Sy het gesê ek gaan met my natuurlike hare loop en toe huil ek. Dit was ’n traumatiese dag vir my, maar toe wen ek.” 

Sedertdien het sy gereeld aan kompetisies deelgeneem.

“Toe ek 13 was het ons ons huis verloor; beide my ouers wat in die bankwese gewerk het, is gesekwestreer. Jy kry skaam daaroor en wil nie daaroor praat nie, maar dan kom jy op so ’n platform en jy besef hoe baie mense moet dit hoor en dat daar baie Suid-Afrikaners is wat sukkel of wie se ouers werkloos is.” 

Sy moes later modelwerk vir ander redes doen toe haar pa, Willem, sy werk in 2009 verloor het. Haar ma, Ninette, het ook self haar rokke begin maak. Sy het later haar aandrokke vir ’n ekstra inkomste verhuur. Dit, asook ontwerp as skoolvak, het die saadjie geplant om haar eie besigheid te begin wat vandag alreeds vyf jaar oud is.

“As ek geweet het 'n  kompetisie het prysgeld, dan het ek deelgeneem. Dit was ’n manier hoe ek snoepiegeld gehad het of hokkietokse kon koop.” 

natasha joubert
Ma en dogter. Foto: Instagram/@natasha_joubert

Dis ook tydens die Mej. Suid-Afrika-kompetisie verlede jaar wat sy vir die eerste keer behoorlik oor haar pa se dood kon rou. Hy is op 1 Augustus 2013, op sy 49ste verjaardag, aan septisemie oorlede.

“Ek was 16 jaar oud toe hy dood is. As ek oor hom gepraat het, het ek gehuil en dit het goed gevoel.” 

natasha joubert
Natasha en haar broer, Reinier, en suster, Danielle. Foto: Instagram/@natasha_joubert

Haar gesin was nog altyd haar grootste ondersteuningsnetwerk. Haar broer Reinier (26) en suster Danielle (28) is albei prokureurs.

“Hulle is werklik mense wat uitkyk vir my, wat advies gee en na wie ek nog altyd opkyk.”

Sy het ook ’n hegte band met haar ma wat saam met haar in die besigheid is en haar grootouers aan moederskant. “Hulle het saam met my gedroom en was selfs in Kaapstad, al kon hulle nie Mej. Suid-Afrika kom kyk nie.” 

Tuis is sy ook ma vir haar Maltese hondjies, Cody en Bailey.

“Cody is nege jaar oud en baie sentimenteel vir my, want dit was my pa se hond. As Bailey my in die aande sien is dit asof sy my vir ’n jaar lank nie gesien het nie,” vertel sy laggend. 

Sy is ook vir die afgelope ses jaar in ’n verhouding, maar verkies om nie haar kêrel se naam te noem nie.

“Hy is my high school sweetheart,” giggel sy. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe