En nou, byna twee dekades later, lyk die twee akteurs beter as ooit!

Dit was die algehele konsensus onder aanhangers toe die akteur Ivan Zimmermann ’n foto van hom en sy voormalige kollega, Nico Panagio, deel wat wys hoe hulle destyds gelyk het teenoor vandag.

2002 @real7delaan & 16 years later...2018.... @nicopanagio

A post shared by Ivan Zimmermann???? (@ivanzimmermann1) on

Die ou foto is in 2002 geneem toe Ivan en Nico albei akteurs in die sepie 7de Laan was. Ivan het die rol van Steyn vertolk en Nico het George Kyriakis gespeel.

“Iemand het die foto uit die bloute vir my gestuur,” vertel Ivan. “Dit is ’n foto wat van die televisie geneem is terwyl daar ’n heruitsending van die sepie aan die gang was. Die pel van my het iets gesê in die lyn van: 'Kyk, hier het jy nog hare'," sê Ivan.

Ivan en Nico het oor die jare nog steeds kontak met mekaar. Hulle het juis mekaar die naweek by die oud-7de Laner Diaan Lawrenson se veertigste verjaardagpartytjie die naweek raakgekuier en toe vir die hom die foto gewys. Hulle het toe besluit om dit na te boots.

“Ek en Nico het drie maande uitmekaar by 7de Laan begin werk. Ons het ons eerste oudisies saam gedoen en dit was soveel pret.  Met die improvisasie deel moes ons twee broers vertolk en ons net aangehou en aangehou met die stuk. Hulle moes later vir ons sê ons kan nou op hou.  

“Dit was baie goeie tye en dit was regtig ’n voorreg om daar te werk. Dit was my eerste groot rol op televisie en ’n mens leer ongelooflik baie.”

Hy en Nico het in die jare daarna weer saam in ’n toneelstuk Playboys gesig gewys waarvan Diaan se man, Jody Abrahams, die regie behartig het.

Ivan wat die afgelope paar jaar in Melkbosstrand woon, is later vanjaar in die film Thys en Trix te sien as Ben, waarin Bouwer Bosch en sy vrou, die aktrise Leandie du Randt Bosch, die hoofrolle vertolk. Benewens sy groot passie vir fietsry, werk Ivan ook deesdae by ’n firma wat regsdienste aan mense verskaf. 

In 2016 het hy ’n vyf maande lange ekspedisie vanaf die Chinese hoofstad, Beijing, na Istanboel in Turkye op sy fiets aangepak. Die jaar voor dit het hy van Kaïro na Kaapstad getrap.

#makeklapperkopsafeagain Dodgy Mountain on my @rockymountain_za

A post shared by Ivan Zimmermann???? (@ivanzimmermann1) on