Ná vele gerugte wat die ronde gedoen het, het die geliefde akteur op sy Facebook-blad aangekondig dat hy en sy vrou, Jeanne Flynn, ná net meer as 'n jaar uitmekaar is. 

Neels het geskryf: 

"Aan wie dit mag aangaan.

"Dit is met groot hartseer dat ek die nuus moet deel dat ek en my vrou se paaie geskei het.

"Ons het stelselmatig uitmekaar gegroei, maar bly steeds hegte vriende en wens mekaar net die beste vir die toekoms toe.

"Geen verdere kommentaar sal gelewer word nie en ons glo dat julle ons privaatheid in hierdie tyd sal respekteer."

Nie Jeanne of Neels wou enige verdere navrae aan Huisgenoot beantwoord nie. 

Jeanne (29), 'n voormalige model en persoonlike afrigter, het destyds Neels (39) se hart gesteel en die tweetjies het in Junie 2017 op die kusdorp, Witsand in die Wes-Kaap afgehaak. 

Die pragtroue is deur die kykNet-program Bravo! uitgesaai. 

Neels het opgewonde vertel: "Toe ek haar die eerste keer gevra het om te trou het sy lank gegiggel voor sy 'ja' gesê het. Nou gaan ek ’n getroude man wees vir ewig en altyd."

Die paartjie het op 5 April 2017 – ook op Witsand – verloof geraak. 

Hulle het mekaar op Facebook ontmoet. 

"Ek neem foto’s, en sy het eendag een van my foto’s op Facebook ge-like. Ek het toe na haar profiel gaan kyk en gedink sy lyk baie oulik. Daarna het ek haar uitgenooi vir ’n melkskommel, sy het opgedaag en die res is geskiedenis.

Neels is veral bekend as die "Met eisj"-man en het rolle in Binnelanders en Vir die Voëls vertolk. Hy het onlangs in die regsdrama Fynskrif gespeel en sal in Januarie in die nuwe dramareeks kykNet Dwaalster te sien wees. 

Neels se aanhangers het dadelik gereageer op die hartseer nuus: "Jammer dinge het nie uitgewerk nie, voorspoed vir albei van julle," het Suzette Fourie geskryf. "Ons respekteer jou wense, sterkte aan julle albei," het Dossie Labuscagne laat hoor. Ronita Loots het bygevoeg: "Dis nooit ’n maklike keuse nie, ek wens julle sterkte toe."