Waar die gryskopvrou, netjies uit­gevat in swart en wit, in die leefvertrek van haar aftreehuisie op die Wes-Kaapse kusdorp Onrus in ’n gemakstoel sit, rol die woorde moeiteloos oor haar lippe.

Dit kom uit ’n solo-opvoering wat sy meer as 30 jaar gelede gelewer het: I will remember the crucial moment when coming through Trafalgar Square . . . war was declared October the 11th, 1899.

Foutloos en vol emosie dra die gevierde aktrise Wilna Snyman die begin van Dear Mrs Steyn voor. Dit is gegrond op die lewe van Emily Hobhouse, die Britse weldoener wat haar oor die lot van vroue en kinders in konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog ontferm het.

Sy onthou die opvoerings daarvan, ook in Europa, tot in die fynste besonderhede asof dit gister was.

Maar die werklike gister en die vorige dae en selfs ure is in ’n waas van vergetelheid gehul, verlore in ’n geheue wat deur alzheimersiekte geknou is.

“Sy het Saterdag saam met haar dogter gaan fliek, maar daardie aand kon sy dit nie onthou nie,” vertel Maureen Henn, Wilna se voltydse oppasser.

“Maar die volgende dag het sy uit die bloute oor die fliek begin praat.”

Wilna en haar dogter, Lize van der Walt, wat ’n ku
Wilna en haar dogter, Lize van der Walt, wat ’n kunsgalery op Hermanus bedryf.

“Die vergeetsiekte,” noem Wilna dié toestand waarmee sy nou al minstens ses jaar lank saamleef. Op 83 lyk die ve­teraanaktrise met haar grys kapsel en fyn vel feitlik nog nes haar geliefde karakter Madel Terblanche wat 7de Laan-kykers in die vroeë 2000’s leer ken het.

Ja, sy onthou nog 7de Laan, maar sy onthou veral ook die inleidende woorde van Dear Mrs Steyn.

“Moenie my vra hoe nie; dit is êrens in my motgevrete brein geprogrammeer,” vertel sy.

Wilna as haar karak- ter in 7de Laan, Madel Terbla
Wilna as haar karak- ter in 7de Laan, Madel Terblanche, saam met Waldemar Schultz, wat die rol van haar seun Jan-Hendrik vertolk het.

Tog is sy nie bitter of kwaad dat sy aan dieselfde siekte ly as haar geliefde ma nie.

“Ek het ’n ongelooflik wonderlike ma gehad,” vertel Wilna.

“Sy was diepsinnig, diep gelowig en vol wysheid. Ek was ver­skriklik lief vir my ma en sy het alz­heimersiekte gehad. Omdat ek so lief was vir haar, het ek haar altyd so jammer gekry wanneer sy vir my sê: ‘Oe, my kind, ek kan nie onthou nie.’ ”

“Ek weet hoe dit lyk,” voeg sy by.

Maar sy is nie van plan om voor “mnr. Alzheimer” te gaan lê nie.

“ ’n Mens moet alles in jou vermoë doen om die beste van die saak te maak en om positief te bly,” sê sy.

“As dit met jou gebeur, moet jy bestek neem. Jy het ’n keuse: Jy kan gaan lê en oorgee of jy kan opstaan.”

Dit het in 2013 bekend geword dat Wilna ’n stryd teen alzheimersiekte voer. Toe het sy aan Huisgenoot vertel sy vermoed al minstens vyf jaar lank dié siekte ­“bekruip” haar.

Aan die begin het sy naarstig lysies gemaak om alles te onthou, maar deesdae het sy net ’n kalender teen die muur en Maureen wat haar elke dag herinner wat op die program is.

Wilna se drie kinders uit haar huwelik met wyle Jaap Smit, Francois en Bennie Smit en haar dogter, Lize van der Walt, het Maureen sowat ’n jaar gelede as hul ma se regterhand aangestel.

Sy ry saam met Wilna rond, help met die huis­houding en sorg dat sy eet.

Saam met haar versorger, Mau­reen Henn, wat elke d
Saam met haar versorger, Mau­reen Henn, wat elke dag by haar is. Wilna is baie dankbaar vir die liefdevolle manier waarop Maureen na haar omsien. Hulle kuier ure lank saam, lag baie en Maureen neem haar gereeld rond wanneer sy afsprake het.

Wilna kies haar eie uitrustings, trek haarself aan en grimeer haarself, vertel Maureen.

“Sy sal dikwels hier sit en dan skielik opstaan om ander oorbelle aan te sit wat beter by haar uitrusting pas.”

Maureen neem haar gereeld om by Lize, haar kunstenaardogter met ’n galery op Hermanus, te gaan kuier. Wilna se vriendinne in die omgewing kom haar ook dikwels haal om saam met hulle koffie te drink of uit te eet.

“Daar is niks fout met haar nie; sy het nie pyn nie,” verduidelik Maureen.

“Sy sukkel net om te onthou.”

Is dit nie soms vir Wilna frustrerend as iets haar ontgaan nie?

“Ja,” erken Wilna met ’n moedige glimlag.

“Ek probeer soms om een van die boeke in my kop oop te maak, maar dan kan ek nie. Sommige goed onthou ek nog presies. Ek onthou my jare op die verhoog. Ek onthou die jare waarin ons die kinders grootgemaak het en ook vir 7de Laan.”

En sy onthou hoe sy as ’n gesoute verhoogaktrise op 50 besluit het dis tyd om haar eerste solo-opvoering, Dear Mrs Steyn, aan te pak.

Optredes in die buiteland

Sy het dit so suksesvol vertolk dat die departement van buitelandse sake haar destyds gevra het om dit by Suid-­Afrikaanse ambassades in Engeland, Skotland, Duitsland en Oostenryk te gaan opvoer.

“In Oostenryk het ons dit in die middel van Wene in ’n teater op­gevoer wat van die atmosfeer gedrup het,” onthou sy.

Daardie aand het sy die Britse am­bassadeur wat die vertoning bygewoon het voor stok gekry toe hy sê hy het ’n probleem met die Boervroue wat die gevangenskap in die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog teengestaan het.

“Die bliksem,” lag sy. Haar oë lag saam toe sy dié herinnering herleef.

Dan onthou Wilna van haar twee boeke oor Emily Hobhouse en vra Maureen waar dit is. Dié herinner Wilna geduldig daaraan dat sy dit aan iemand geleen het wat navorsing oor die Boereoorlog doen.

“Ek sê baie vir die tannie dit maak nie saak as sy iets nie kan onthou nie,” voeg Maureen by.

“Al wat belangrik is, is die hier en nou.”

Wilna kyk na haar voete, netjies by die enkels gekruis, en sê: “Ek doen nou wat hulle noem living in the moment.”

Die grootste begeerte wat sy vir die res van haar lewe het, is om volkome in God se genade te leef.

Dis nie ’n swaard wat oor my hang nie. Dit is deel van die noodlot en dit is deel van God se wil.

“Kyk hoe ge­seënd is ek; ek het Maureen wat my met liefde bystaan, ek is nie honger, dors of behoeftig nie. Kyk na my uitsig.”

Sy wys na die berge buite haar venster.

“Ek vind on­gelooflike vertroosting daarin.”

“Die vergeetsiekte” kan sy hanteer “omdat ek gelowig is”, sê Wilna.

“Dis nie ’n swaard wat oor my hang nie. Dit is deel van die noodlot en dit is deel van God se wil. Jy moet die beste daarvan maak. Jou pad is in elk geval vir jou uitgelê.”

Sy tel die bordjie met melktert op wat Maureen vir haar gebring het en neem ’n happie.

“Toe ek 50 word, het ek ’n solo­vertoning op die planke gebring,” kom dit skielik weer. Dan nadat sy dieselfde storie weer in detail klaar vertel het, vra Wilna: “Maureen, waar’s daardie boeke van my?”

Selfs toe sy ’n rukkie later die storie die derde keer vertel, voer sy jou telkens mee met haar kosbare herinnerings wat ondanks haar kwynende korttermyn­geheue soos ’n helder lig in haar brand – daardie lig wat geen vergeet kan verdoof nie.

Wat is demensie?

Demensie is die sambreelterm vir ver­skeie siektetoestande van die brein waardeur die geheue en denke aangetas word. Alzheimersiekte is die algemeenste vorm daarvan en maak tot 60% van die demensiegevalle uit wat opgeteken word.

Demensie is nie deel van die normale verouderingsproses nie, maar ouderdom is wel ’n belangrike risikofaktor.

Navorsing toon genetiese faktore kan jou kans verhoog om alzheimersiekte te kry.

’n Kenmerk daarvan is dat lyers se korttermyn­geheue oor onlangse gebeure aangetas word, maar aanvanklik nie hul langtermyngeheue oor gebeure van jare gelede nie.

Alzheimersiekte word deur abnormale veranderings in die breinweefsel veroorsaak, sê Karen Borochowitz, uitvoe­rende hoof van Demensie Suid-Afrika.

“Hoe vinnig demensie ontwikkel, hang van die individu af,” verduidelik sy.

“Dit kan nie genees word nie, maar die mediese wetenskap werk hard aan ’n deurbraak.”

Medikasie is reeds beskikbaar om die verloop daarvan te vertraag, maar dis net doeltreffend as dit in die regte stadium vir die soort demensie geneem word.”

Van die gevaartekens van demensie is geheueverlies, verwardheid oor tyd en plek, ’n swakker oordeelsvermoë, ’n onvermoë om daaglikse take te verrig, persoonlikheidsverandering en verlies aan inisiatief.

Ekstra bronne: www.alz.org, verywellhealth.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!