Flitsende kameras is niks nuuts vir dié gesoute aanbieder en voormalige model nie. Sy is so gemaklik voor die lens as in haar eie vel. 

Maar waar Minki van der Westhuizen vandag in stylvolle winterklere voor Huisgenoot se kamera pryk, lyk sy selfs tuiser as gewoonlik. 

Die rede? Die aantreklike man aan haar sy. Toe Ernst Joubert (38) sy sterk rugbyspelerarms om sy fyngeboude blonde vrou vou, kan jy sien Minki (35) voel veilig.

En toe sy met daardie aansteeklike laggie van haar in sy rigting kyk, begin ook hý voor die kameras ontspan.

Dis dié oudkaptein van die Goue Leeus-rugbyspan wat Minki se oë al jare lank laat blink, maar hy poseer selde saam met haar vir voorbladfoto’s.

Vandag hou Minki en haar Errie – haar troetelnaam vir hom – egter sáám hul lyf model vir Huisgenoot se voorblad hier op die Stellenbosse wynlandgoed Lanzerac om hul sewende huweliksherdenking op Saterdag 8 Junie te vier.

“Dit voel soos sewe dae,” spot Ernst in Minki se rigting. Sy rol haar oë gemoedelik vir haar man wat haar so heuning om die mond smeer. 

By dié glanspaar is duidelik geen sprake van die berugte sewe-jaar-jeukerasie nie.

“As die eerste sewe jaar so lekker was, vat ek graag sewe maal 70,” sê Minki vrolik.

Al was dit nes in enige huwelik nie altyd net maklik nie, was dit vir haar ’n voorreg om die eerste sewe spreekwoordelike sakke sout saam met die regte spanmaat op te eet. 

“As die eerste sewe jaar so lekker was, vat ek graag sewe maal 70,” sê Minki vrolik.

“Ons het in ’n kort tyd reeds ’n leeftyd se herinnerings saamgebou,” sê Minki.

Hy het ná hul troue gedink hulle kan nie nog liewer vir mekaar raak nie, vertel Ernst. 

“Maar ons liefde het selfs meer gegroei sedert ons ouers geraak het. ’n Mens sien die drie goedjies wat van ons afhanklik is, vir wie jy verskriklik lief is, en jy weet ons het mekaar so nodig om vir hulle die beste te kan gee,” sê hy oor hul dogtertjiekroos, Katerien (5), Elise (4) en Elsa (1).

Wat is hul suksesresep vir ’n huwelik wat hou ondanks die wipwarit van werkende ouers se besige lewe?

Hulle beskou God as die belangrikste bestanddeel in hul huwelik, sê albei.

minki van der westhuizen,ernst joubert,huweliksher
Wanneer Minki voor die lens lag, ont­span Ernst ook. Die egpaar sê hulle het in ’n kort ruk reeds ’n leeftyd se herinnerings saam gebou. Foto: Claudia De Nobrega

“Dis waar ons al ons krag, seëninge en genade vandaan kry,” sê Minki. “Ons besef alles is net sy goedheid en guns.”

Dis nou net mooi nege jaar sedert hul eerste ontmoeting in 2010. Dit was met ’n toeoogafspraak op Stellenbosch nadat ’n gemeenskaplike vriendin Minki van Ernst vertel het.

Hy het destyds vir die Engelse rugbyklub Saracens uitgedraf en was net met vakansie in Suid-Afrika.

Maar die liefdesvlam het gou so hoog gebrand dat Minki ’n paar maande later sak en pak Engeland toe is om by hom aan te sluit. 

Op die eerste herdenking van hul verhouding het hulle aan die Amalfi-kus in Italië verloof geraak waar hulle toe vakansie gehou het.

In 2012 het hulle op Wellington in die Boland kom trou.

Daarna het hulle nog drie en ’n half jaar lank in Engeland gewoon, waar hul twee oudste kinders gebore is. 

Eers nadat Ernst sy rugbystewels weggepak het, het hulle aan die einde van 2015 op Stellenbosch kom nesskop.

Hulle was skaars terug in die land toe Minki die nuwe aanbieder van Boer Soek ’n Vrou word.

Vir twee seisoene van dié gewilde kykNET-werklikheidsreeks het sy die land platgereis om boere liefde te help vind. 

Dis nou net mooi nege jaar sedert hul eerste ontmoeting in 2010. Dit was met ’n toeoogafspraak op Stellenbosch nadat ’n gemeenskaplike vriendin Minki van Ernst vertel het.

Toe sy met hul jongste swanger raak, het Minki tydelik van die kassie verdwyn, maar sy het vroeg vanjaar met haar eie geselsprogram, Minki, op VIA teruggekeer.

“Ek sou nie al hierdie dinge kon doen as dit nie vir Ernst se ondersteuning was nie,” erken sy. 

In die beginjare van hul huwelik, toe hy nog in Engeland rugby gespeel het, was Minki voltyds ma en tuisteskepper. 

Maar terug in Suid-Afrika, toe Boer Soek ’n Vrou haar vir lang tye van die huis weggeneem het, was dit Ernst se beurt om pa sowel as ma te speel. 

Hulle ondersteun mekaar en vul mekaar aan, sê albei, byna uit een mond.

minki van der westhuizen,ernst joubert,huweliksher
Al was dit nes in enige huwelik nie altyd net maklik nie, was dit vir Minki ’n voorreg om die eerste sewe spreekwoordelike sakke sout saam met die regte spanmaat op te eet. Foto: Claudia De Nobrega

“Dis tog wat ’n span is; om mekaar te dra,” sê die oudrugbyspeler. 

Terwyl sy haar brood voor die TV-kameras verdien, verkies hy om uit die kollig te bly.

“Wanneer ’n aanhanger ’n foto saam met haar kom vra, sal ek nege uit die 10 keer die een wees wat die foto neem. Die ander keer staan ek langs die kant,” lag hy. 

“Ek besef dis deel van haar werk en ek ondersteun haar daarin, en ek is gelukkig agter die skerms.” 

Vir Ernst is Minki, of Mienks soos hy haar noem, nie ’n glanspersoonlikheid nie, maar bloot sy vrou en die ma van hul drie dogters.

“Ons vriende sal dikwels kommentaar lewer oor hoe my lewe in die kollig nie vir hom saak maak nie,” sê Minki. 

“Dis vir my lekker, want dis ook nie hoe ek myself sien nie. Ek geniet my werk en die bedryf, maar in ons huis speel dit geen rol nie. Ons is nes enige doodgewone gesin.” 

Maar dis nie vir elke gesin doodgewoon dat hul ma klokslag Woensdagaande om agtuur op TV verskyn nie. 

Sit hulle dan almal reg om na haar geselsprogram te kyk? 

“Nee, die poppies is al agtuur saans in die bed. Hulle is baie gewoond aan mamma op die TV; hulle raak dus vinnig verveeld om na my op die kassie te kyk,” lag Minki. 

“Wanneer ’n aanhanger ’n foto saam met haar kom vra, sal ek nege uit die 10 keer die een wees wat die foto neem. Die ander keer staan ek langs die kant,” lag hy.

Sy en Ernst kyk dit gewoonlik saam. “Ek het net nou die aand weer vir haar gesê hoe sy my as aanbieder verbaas,’’ vertel hy. 

“Ek sê dit nie net omdat ek haar man is nie. Sy het regtig die ongelooflike vermoë om mense gemaklik te laat voel.”

Minki se geselsprogram, waarvan die tweede seisoen nou uitgesaai word, is so gewild dat ’n derde en vierde seisoen vanjaar nog verfilm word. “Dis ’n droom wat bewaarheid is,” sê sy. 

In dié weeklikse program gesels sy met bekendes en gewone mense, en verras dan haar ateljeegaste voor die kameras met mense wat ’n verskil in hul lewe gemaak het.

“Dit verbly my hart om te sien hoe ditmense se lewe aanraak. Ek voel as net een kyker geïnspireer voel en hoop kry, dan doen ek iets reg,” sê Minki. 

minki van der westhuizen,minki,geselsprogram,via
Minki se geselsprogram, waarvan die tweede seisoen nou uitgesaai word, is so gewild dat ’n derde en vierde seisoen vanjaar nog verfilm word. Foto: Claudia De Nobrega

Al is elke onderhoud vir haar spesiaal en uniek, sê sy die gesprek met Hein Knoetze, die oudhoof van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark wat in Februarie vanjaar deur ’n tragedie getref is, sal haar lank bybly. 

Vier leerders is dood en meer as 20 beseer toe ’n loopbrug by dié skool ineengestort het.

Ook die episode oor die brandslagoffer Pippie Kruger (nou 10) het Minki diep geroer. 

“Haar ma, Anicè, is so dapper en sterk en is ’n voorbeeld van onvoorwaardelike liefde en die opofferings wat ouers vir hul kinders maak – en boonop is sy so positief.” 

Pippie het by die dood omgedraai toe ’n bottel vuuraansteekjel op Oujaarsaand 2011 ontplof en sy ernstige brandwonde opgedoen het. 

Haar groot held, die sanger Bobby van Jaarsveld, het haar tydens die opname van die episode kom verras; dié aangrypende herontmoeting tussen Pippie en Bobby het Minki voor die kameras in trane gelaat.

As werkende ma is sy bevoorreg dat sy nie ’n agt-tot-vyf-werkdag het nie, sê Minki.

“My werk is vir kort tye intens, maar dan is dit weer ’n paar weke lank rustig.”

Terwyl die kinders soggens by die skool is, werk Minki ook van die huis af as ’n invloedsbemarker in die sosiale media.

Ernst, deesdae die hoof van die rugbyinstituut van die Stellenbosch-sportakademie, werk net om die draai van hul huis.

As werkende ma is sy bevoorreg dat sy nie ’n agt-tot-vyf-werkdag het nie, sê Minki.

“Hy kan die dogtertjies soggens by die skool aflaai; ek kan hulle smiddae gaan oplaai, hulle na hul buitemuurse aktiwiteite karwei en saam met hulle by die huis wees,” sê Minki. 

“Ons besef ons is bevoorreg om baie gehaltetyd as ’n gesin te kan deurbring.”

Net so tuis as wat sy voor die TV-kameras is, is hy nog op die rugbyveld.

“Rugby kom vir my natuurlik, en ek voel asof ek baie het om terug te gee,” sê Ernst, wie se oupa wyle Piet Malan ook ’n bekende rugbyspeler was wat in 1949 vir die Springbokke gespeel het.

Tussen albei se werkeise en hul verpligtings as ouers deur is dit soms uitdagend om tyd in te ruim vir net hulle twee saam.

“Ek kan nogal vinnig in ’n roetine vasgevang raak, en dis waar Mienks baie moeite doen,” vertel Ernst.

Hulle is nou in ’n seisoen “waar ons hoofsaaklik op die kinders fokus, maar dit bly vir ons belangrik om mekaar nie in die proses te verloor nie”, sê Minki.

“Ons oudste dogtertjie is nou op ’n plek waar sy alleentyd begin vra. In daardie opsig is Katerien baie soos ek: Ons is nie bang om te sê wat ons nodig het nie. Ek sal moan en vir Errie sê wanneer my tenk leeg is en ek alleentyd soek.” 

“Ek wil hê ons moet eendag wanneer die kinders uit die huis is steeds lekker dinge saamdoen. Die beste geskenk wat ons aan ons kinders kan gee, is om mekaar lief te hê.”

Dis vir hulle belangrik om saam drome te koester. “Eendag wanneer die dogtertjies groter is, sal ons graag weer lekker lank saam wil toer,” sê Minki. 

minki van der westhuizen,ernst joubert,huweliksher
Minki en Ernst beskou God as die belangrikste bestanddeel in hul huwelik. Foto: Claudia De Nobrega

Toe hulle in Engeland gewoon het, was Europa op hul agterstoep en het hulle heelwat plekke daar verken.

“Ek droom van ’n kothuis in die Cotswolds in die suide van Engeland,” vertel Minki, haar oë die ene sterre. Dis haar gunstelingdeel van Engeland. 

“Ek sal altyd ’n voorliefde vir die platteland hê. Dit laat my hart warm klop, op dieselfde manier as ons Suid-Afrikaanse platteland,” sê sy.

Ernst sien op sy beurt uit na ’n gesinsvakansie in die Krugerwildtuin wanneer al drie hul kinders groot genoeg is. 

Uit sy eie kinderjare het hy kosbare herinnerings aan hul wintervakansies daar.

“Ek onthou die koue, die vroeg opstaan, om dagin en daguit diere te soek. Dis iets plain en simple waaroor ek vir ons gesin droom.”

Het hulle enige uitdagings in hul huwelik? Stry hulle ooit?

Minki weet nou al sy moenie Ernst vra om iets teen die muur op te hang of hul baba te voer nie. 

“Dis nie sy gunstelingdinge om te doen nie,” sê sy. Hy is ook nie baie spraaksaam nie. 

“Ek dink meer oor goed as wat ek dit sal sê. Ek sal byvoorbeeld dink my vrou is fantasties, maar dit nie altyd vir haar sê nie,” erken hy.

“Ek wil hê ons moet eendag wanneer die kinders uit die huis is steeds lekker dinge saamdoen. Die beste geskenk wat ons aan ons kinders kan gee, is om mekaar lief te hê.”

Minki bieg op haar beurt dat sy soms geïrriteerd raak.

“Ernst raak nie maklik down nie en is easy to please. Ek is ook die meeste van die tyd gelukkig, maar die dag dat ek ongelukkig is, sal jy dit weet!” 

Wanneer iets krap, sal albei eers stil word. “Ons sal eers afkoel, maar kies dan altyd om te praat,” sê Minki. 

“Ons maak seker frustrasies en bekommernisse bou nie op nie; ons praat dit uit en gaan aan.”

Ernst voeg by: “Die groot positiewe is dat ons albei die ander se behoeftes eerste stel. Daar is nie selfsugtigheid nie. Inteendeel, ons ervaar albei baie plesier wanneer die ander een gelukkig is.”

In Engeland het hulle geleer hoe om as ’n span in die huishouding saam te werk.

Dit was ’n opwindende tyd, maar ook moeilik omdat hulle ver van hul steunnetwerk was. 

“Ons was net op mekaar aangewese en het geen ander keuse gehad as om ons huis- en ouerskapstake 50-50 te verdeel nie. Toe ons na Suid-Afrika terugtrek, het ons met die roetine volgehou,” vertel Ernst.

Minki lag en help hom reg: “Nie heeltemal nie, liefie, jy het effens meer ontspanne geraak...”

Hy lag. “Maar ons is bewus van mekaar, en as ons agterkom die een trek swaar, sal die ander een altyd inspring om uit te help,” voeg hy by.

“Niks maak my hart warmer as om te sien hoe Ernst met ons dogtertjies werk nie”

Ook hul ouerskapstyle vul mekaar goed aan, meen Minki. “Hy is hier en daar konserwatiewer en strenger met die kinders; ek weer meer geduldig en ontspanne. En iewers vind ons ’n middeweg wat vir ons gesin werk.”

Na wie aard die kinders? “Ek dink hulle is ’n goeie kombinasie van ons albei,” sê Minki.

Hulle kan reeds sien die twee oudstes het sagte hartjies. “Katerien is meer berekend en Elise weer meer van ’n vrye gees,” vertel hul pa.

Die ouerpaar is gretig om te sien hoe Elsa, “hul vriendelike, geselserige en vrolike baba” – soos haar ma haar beskryf - gaan ontwikkel.

Ná sewe huweliksjare saam waardeer Ernst en Minki mekaar nog elke dag. “Niks maak my hart warmer as om te sien hoe Ernst met ons dogtertjies werk nie,” sê sy. 

“Hy is ’n manly man wat van seunsgoed hou soos rugby, gholf en braai, maar wanneer hy by die dogtertjies is, is hy so liefdevol en sag.”

Hy besef nog elke dag van voor af “watter betrokke en liefdevolle vrou en ma Minki is”, sê Ernst. 

“Sy skep vir ons ’n huislike omgewing wat gelukkig en vol liefde is. Niks is vir my lekkerder as om ná ’n dag by die werk tuis te kom nie.”

En hoe gaan die glanspaar hul sewende huweliksherdenking vier? Hulle het ’n vriend se uitnodiging na ’n partytjie in die Paarl op dié dag aanvaar. 

Oor dié dubbele feestelikheid sê Minki: “Ons gaan sommer lekker partytjie hou.”

Want hulle het baie om te vier – die koms van drie dogtertjies en sewe jaar van liefde tussen ’n man en vrou wat duidelik bymekaar hoort. 

  • Die geselsprogram Minki word elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-­kanaal 147) uitgesaai.
7 kitsvrae ná 7 jaar
1. WIE HET EERSTE BELANGSTELLING GETOON?

“Beslis Minki,” antwoord Ernst. “Sy het van my geweet sonder dat ek daarvan bewus was.” 

Minki het in Mei 2010 by ’n gemeenskaplike vriendin van hulle in Frankryk gekuier. Dié het haar van Ernst vertel. 

Hulle het na foto’s van hom op Facebook gekyk en Minki het gehou van wat sy sien. Die vriendin het ’n maand later vir hulle ’n toeoogafspraak op Stellenbosch gereël.

2. WIE IS DIE SNAAKSTE?

“Ek sal sê ek,” sê Minki. “Maar my man dink nie ek is snaaks nie.” Ernst lag. 

“Dit hang af wie in die gehoor is,” sê hy. “Ek dink jy’s snaaks. Onthou, ek lag net binnensmonds.”

3. WIE IS DIE HARDKOPPIGSTE?

“Mienks,” sê Ernst. “Ek hou aan tot op ’n punt, maar gee dan op. Sy sal nog so ’n bietjie langer aanhou...”

4. WIE IS DIE BESTE KOK?

Ernst: “Minki wen loshande. Sy maak die lekkerste geregte – van lamskenkel en skaapboud tot boontjiebredie.”

5. WIE IS MEER GEORGANISEER?

“Beslis ek,” sê Minki. Maar Erns stribbel teë: “Ek is dan ’n bietjie obsessief-kompulsief en perfeksionisties oor dinge.” 

Sy vrou hou vol: “Ja, maar jou goed sal dae lank buite die bedkassie lê.”

6. WIE STRES DIE MAKLIKSTE?

Ernst: “Ek is die een wat vinniger stres. Minki sal my rustig hou.”

7. WIE IS DIE BESTE MET GELD?

“Uitgee of bespaar?” vra Ernst. “As dit bespaar is, sal dit beslis ek wees.” 

Minki gee toe: “Jy spaar meer, maar ek werk ook goed met geld. Jy is wel die een wat sal seker maak ons het oor 60 jaar nog geld.” 




  • Hare, grimering en stilering: Marí Conradie; Minki – grys trui en groen romp, Cotton On; roomkleur trui en serp, Zara; Ernst – en wit t-hemp en groen trui, Woolworths; grys trui, Woolworths; plek: Lanzerac, www.lanzerac.co.za