Dit is die tweede maand van die jaar 2020 –  02/2020; ’n datum en dekade met ’n mooi en strelende soort simmetrie daaraan.

Maar ondanks dié netjiese naam van die hede, sal daar natuurlik – soos altyd – onderlangs onderstromings kolk. Vrae, onsekerheid, uitdagings, al hou ons die blink kant bo.

Wie verwoord dit beter as daardie eiesoortige Afrikaanse ikoon Nataniël? In sy jongste boek, Kyk na my: Herinneringe aan ’n kindertyd, kyk die sanger, skrywer en aanbieder terug na sy vormingsjare.

En in ’n nuwe verhoogproduksie, Lily Refuses to Listen, verwoord die kunstenaar die dinge wat belangrik en beeld­skoon bly ten spyte van die aanslae van die lewe. “Out with the bull, in with the beauty!” verklaar die produksie se bemarkingsmateriaal.

Want in dié stuk vier hy “persoonlike ruimte, persoonlike keuses, selektiewe luister, selfsorg en veerkragtigheid”, selfs wanneer die werklikheid wreed is.

Om aan te sluit by sy me­moires en nuwe produksie skryf die sanger hier spesiaal vir Huisgenoot ’n brief aan sy jonger self, en ook ’n openhartige brief aan sy huidige self, die Nataniël van vandag.  

’n Brief aan my jonger self
Nata­niël in sy kinderjare. Foto verskaf
Nata­niël in sy kinderjare. Foto verskaf

Liewe Niël,

Dis Saterdag, buite skyn die son, jou ma en pa groet die mense wat verbystap, hulle maak grappies en lag.

In jou kamer is dit skemer; jy het self die gordyne toegetrek, jou bed is toe onder die tydskrifte, plakboeke, houers vol potlode, legkaarte en al die glinsterende Kerskaarte wat jy so versamel.

Jy is presies waar jy wil wees, maar jy is vies – vies omdat jy moes baklei om hier te wees; jy weet nie wie was reg en wie was verkeerd nie, maar jy het geweier om soos die ander dorpseuns na jou klasmaat se partytjie te gaan.

Jou ouers het beveel, verduidelik, gedreig, alles probeer, maar jy het geweier. Jy het geweet dis onmoontlik om aan hulle te verduidelik hoe aaklig dit sou wees.

“Simpel!” het jy geskree en die deur toegeklap.

Hulle het jou laat begaan. Nou sit jy hier op die hoek van die bed en kyk na jou skemerwêreld. Later sal jou ma kom klop en sê jy moet kom eet.

Later sal sy koekies voor jou deur kom neersit. Jy wat altyd honger is, sal dit net daar los. Nog later sal jy wakker word wanneer sy kom sê aandete is op die tafel.

Jy sal bly lê.

Nataniël in sy kinderjare. Foto verskaf
Nataniël in sy kinderjare. Foto verskaf

Jy is baie jonk, maar hierdie ongemaklike dae is reeds bekend aan jou en sal tot ’n ongemaklike lewe lei. Nooit, nie een keer nie, sal jy probeer om dit te verander nie.

Jou onvermoë om toe te gee aan dit wat jy verpes, sal lei tot vervreemding, gereelde isolasie, woede, beledigings, selfs klein oorloë, maar hierdie deel van jou gaan nooit verander nie.

Jou lyf weet dit; die aaklige situasies en bietjie-bietjie doodgaan waardeur miljoene mense daagliks gaan (om die vrede te bewaar of omdat daar geen uitkoms is nie) sal jy nooit verdra nie.

Jy sal oordeelsfoute maak of die verkeerde mense vertrou en wel in hierdie dryfsand beland, maar jy sal blitsig leer en weer vasskop.

Daar is dinge wat ’n mens erf, ander word gekweek deur jou belewenisse, ander kies jy. Daar is invloede: familie, die dominee, jou skooljuffrou, radiostories, dit wat jy hoor op die speelgrond of die boeke waarvoor jy so lief is.

Maar binne jou is ’n stem wat praat en hy praat die hardste, hy ken jou die beste en hy roep jou, selfs wanneer jy nie wil hoor nie.

Baie mense hoor hierdie stem eers laat in hul lewe, baie mense hoor hom té laat, eers ná ’n ramp of ’n afskeid. Jy het joune vroeg begin hoor, hy skree soos ’n kraai wat jou ’n blink ding wil wys.

As ’n jong seun het Nataniël altyd geweet hy is a
As ’n jong seun het Nataniël altyd geweet hy is anders as sy maats.

Jy wonder of daar fout is met jou. Jy wonder hoekom die hele skool mal is oor atletiek en jy nie, jy wonder hoekom die seuns mal is oor rugby en jy met afsku daai stuk grasperk vermy, jy wonder hoekom kinders gillend aan mekaar ruk en jy in doodse stilte die tafel wil dek wanneer die tannies kom vir Bybel­studie. Hou dadelik op wonder!

Hier in jou skemerwêreld voel jy huiwerig oor jou besonderse liefdes, jy dink dis normaal om skuldig te voel en dat jy bedoel is vir wegkruip.

Het jy vergeet hoeveel lig daar vir jou is? Hoe helder dit word wanneer jy naby die klavier is? In die kerk na die orrel staar?

Ouma se groot, wilde kombuis binnestap? Konsert hou saam met jou niggies? In die kerksaal kyk na die toergroep se toneelstuk? Donderdae die nuwe tyd­skrifte uit die posbus haal?

Eendag woon jy in jou eie huis, jy het beheer oor wie en waarmee jy jou omring. Vir nou mag jy die gordyn effens oopskuif, vir jou pop ’n nuwe mantel knip.

En wanneer ma se voetstappe verdwyn, mag jy die deur oopmaak.

Onthou, daar is koekies in die gang.

’n Brief aan my huidige self

Liewe Nataniël,

Dis nou byna 50 jaar later. Ek gebruik met opset die woord “liewe”, want dis die een woord wat jy nooit met jouself sou verbind nie.

Jy, nou gevestig as die dramatiese spook wat stories vertel en eienaardige liedjies sing om ’n dak oor jou kop te hê, sien jouself eerder as die bleek wese onder in die straat, die een naby wie se huis geen vreemdeling dit waag nie, die een vir wie mense huiwerig groet, want niemand kan voorspel wat die reaksie sal wees nie.

Nataniël se fluweelmantels en blink rokke getuig v
Nataniël se fluweelmantels en blink rokke getuig van die swierige styl waarvoor hy bekend is.

Is hierdie beeld jou eie of is dit net ’n eindelose speletjie? Is dit by wie jou vriende kuier of is dit ’n gepaste karakter vir die grenslose garderobe waarin jy so heerlik baljaar?

Jy het jou geliefde woning – die een plek op aarde waarin jy al 18 jaar vrede vind, die perfek gestileerde ruimte binne die sprokiesagtige klein woud – so pas in die mark gesit. Is jy gek? En sover ek weet het jy geen idee waarheen volgende nie, korrek?

Ek weet dat jy die afgelope paar jare onrustig is, dat jy nie na jou lyf luister nie, dat jy werk soos ’n malle, elke uur van elke dag, maand in en maand uit, nie vir roem of rykdom nie – jy het jou werklus dekades gelede gekies as jou leefstyl – maar die huidige waansin wys verandering is op pad.

Jy werk nog altyd met ’n plan: langter­myn, finansieel, artistiek.

Sy broer, Erik le Roux, het dié foto van hom genee
Sy broer, Erik le Roux, het dié foto van hom geneem in Frankryk. Foto verskaf

Jy weet presies wat jy in watter stadium of ouderdom wil aanpak, wat jy wil agterlaat, jou nuuskierigheid oor die moontlikheid van ’n splinternuwe, heel­temal onbekende, tweede loopbaan het jou nooit verlaat nie.

Jy het nooit ’n tekort aan idees nie, jy word steeds elke oggend wakker met opgewondenheid oor moontlik­hede. Jy verras steeds dié om jou met eindelose projekte.

Wat is die onsigbare frons wat jy saamdra?

Die ongemaklike lewe. Dis steeds daar. Steeds weier jy om deel te hê aan enigiets wat jou nie geval of inspireer nie.

Jy word beskou as moeilik, jy sê blatant nee vir ander se idees, jy weier om op televisie te verskyn as jy twyfel oor die styl of gehalte van ’n program, jy werk net met jou eie fotograaf, jou eie ontwerper, jou eie grimeerkunstenaar, jy daag net op as jy self in beheer is van jou beligting.

Jy hang nie rond in die sosiale media met ongevraagde menings nie, maar as jy wel gevra word, huiwer jy nie om ’n eerlike, direkte antwoord te gee nie.

Dit lei tot ongewildheid en isolasie, dit weet jy, dit het jy gekies.

Die teleurstelling.

’n Kunstenaar kan net werklike, langdurige sukses behaal binne die kultuur waar hy sy loopbaan begin het. Jy het geweet jou keuse van materiaal sal jou nie massiewe kommersiële sukses bring nie.

Jy het geweet jou keuse van styl sal jou nie die liefling van massas maak nie.

Nataniël se fluweelmantels en blink rokke getuig v
Nataniël se fluweelmantels en blink rokke getuig van die swierige styl waarvoor hy bekend is. Foto verskaf

In jou toewyding aan jou eiesoortige kollig, keuse van verhoog en jou lojale gehoor, het jy nooit verwag dat politiek, korrupsie, verval, gevaar, geldeenheid, emigrasie en onsekerheid so ’n doolhof voor jou sou neersit nie.

Die inspanning en spanning om dieselfde gehalte en kwantiteit werk vol te hou kan ’n rug breek. Is dit lewens­gehalte?

Jy glo nog altyd dat ’n mens moet klaarmaak wat jy begin het. Jy beleef nog elke dag werklike vreugde wanneer jy jou kostuums beplan, jou gesig verf, die eerste noot sing.

 Jy is steeds buite jouself van opwinding en vrees voor elke nuwe produksie, jy beleef al jou kleintydse fan­tasieë, jy is volkome onafhanklik. Gaan jy dit volhou?

Jou tuiste is te koop, jy is onrustig, jou hande jeuk. ’n Ongewone lewe is jou enigste lewe, sal jy dit elders vind? Of op ’n nuwe manier? En het jy die energie?

Net jy sal weet.

Uitgegee deur NB Uitgewers.
Uitgegee deur NB Uitgewers.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.