Die twee duifies het oor die naweek ’n tradisionele Hindoe-verlowingseremonie in Moembai, Indië, gehad en albei hul families was teenwoordig. Die Amerikaanse sanger (25) en Priyanka (36), wat in Indië gebore is, het foto's van die seremonie en hul geliefdes in die sosiale media gedeel.

In die kiekies pryk almal in tradisionele Indiese klere.

Priyanka, wat bekend was as Bollywood-ster voordat sy in die Amerikaanse TV-reeks Quantico gesig gewys het, is tans in haar tuisland om ’n nuwe Bollywood-fliek The Sky is Pink te verfilm, berig Daily Mail.

Die fliek gaan oor Aisha Chaudhary, ’n dogtertjie wat ’n motiveringspreker geword het nadat sy op 13 met ’n longsiekte gediagnoseer is. Sy is in 2015 oorlede.

Future Mrs. Jonas. My heart. My love.

A post shared by Nick Jonas (@nickjonas) on

Die tonge het geklap toe Nick glo slegs twee maande nadat hy met Priyanka begin uitgaan het, haar die jawoord gevra het. Dit gons veral omdat sy 11 jaar ouer as hy is.

Hoewel Nick al Priyanka se ouers, Madhu en Ashok, ontmoet het, het ’n bron aan E! News verklap dat dit die eerste keer is dat Nick se ouers, Denise en Paul, hul seun se aanstaande skoonouers sou ontmoet.

“Priyanka wil hê dat alles tradisioneel moet gebeur, sodat haar familie se waardes respekteer sal word, so dit sal beslis ’n Indiese troue wees,” vertel die bron.

In ’n onderhoud met Times of India het Priyanka se ma, Madhu, haar insig oor die getroude lewe gedeel. "Vir ’n huwelik om suksesvol te wees, moet ’n paartjie eerder sit en vir mekaar se perspektiewe luister, as om te baklei," berig Times of India.

Sy het Priyanka van kleins af geleer dat die huwelik iets is waaraan ’n mens elke dag moet werk en dat ’n man bevoeg moet wees om deur dik en dun vir ’n vrou te sorg.

“Die beplanning gebeur baie vinnig, want Priyanka en Nick wil nie te lank wag voor hulle die knoop deurhaak nie,” sê die bron aan E! News.

Die paartjie het darem ook tyd afgeknyp om hul liefdadigheidswerk voort te sit. Nick het in sy Instagram-stories ’n video gedeel van sy verloofde wat tydens ’n besoek aan die St. Catherine-weeshuis in Moembai saam met een van die kinders dans.

Nick, wat roem verwerf het in die sanggroep Jonas Brothers met sy ouer broers Kevin (30) en Joe (29), het ook sy talente gewys en hul treffer Lovebug vir die kinders en Priyanka gesing. Hy wys ook soms gesig as akteur. 

Bronne: Daily Mail, Times of India, E! News