Dit lyk soos ’n prentjie uit ’n vakansiebrosjure.

Die akteur en TV-aanbieder Nico Panagio op ’n lang, wit strand met die turkoois see agter en langs hom. Sy bruingebrande vel gloei en ’n grys T-hemp kleef aan sy gespierde lyf.

Maar ongelukkig gaan hy nie daardie hemp uittrek en ’n bietjie in die son lê of in die branders duik nie; hy is in hierdie tropiese paradys om te werk.

Om die waarheid te sê, dit raak soms sommer baie moeilik en hy moes al verskeie kere hier ontbering aanskou . . .

Want nie ver hiervandaan nie is ’n verlate eiland waar 18 Suid-Afrikaners nou in ’n stryd om oorlewing gewikkel is. En dis nie grappies nie; hulle ly regtig honger: Al wat hulle kry om te eet, is wat hulle self gevang kry of in ’n beloningsuitdaging gewen het.

Ja, dis amper tyd vir die werklikheidsreeks Survivor South Africa, wat van 3 Mei af op Donderdagaande met Nico as aanbieder op M-Net uitgesaai word.

Vandag gesels hy eksklusief met Huisgenoot van El Nido in die Filippyne, waar die verfilming van die sesde seisoen van Survivor SA al ’n paar weke aan die gang is.

“Verskeie groot rolprente is al in hierdie omgewing geskiet,” vertel hy.

Vir die span wat nie voor die kameras moet probeer oorleef nie, is dit inderdaad ’n paradys. “Ons wat agter die skerms werk, sal soms net ons kop skud en wonder of ons regtig werk,” sê Nico oor die beeldskone omgewing.

Nico is al sedert die begindae van die eerste Survivor-reeks in Amerika 'n groot aanhanger. Foto: Instagram

“Die waarheid is dat ons vrek hard werk, maar dis ongelooflik mooi en lekker! Die water is helderblou en hier is allerlei mooi rotsriwwe met baie gediertes en gedoentes in die water en op land.”

Terwyl die deelnemers allerlei uitdagings moet trotseer, spot Nico die enigste ding waaroor hy hom moet bekommer, is dat ’n klapperdop dalk op sy kop val.

“Glo dit of nie, maar die getal mense wat wêreldwyd sterf weens ’n kokosneut wat op hul kop val, is meer as dié wat weens haaiaanvalle doodgaan. Die kokospalms en -neute is enorm. Ons kyk almal heeltyd op wanneer ons deur die woude loop,” vertel hy geamuseerd.

Toe kennisse en kykers hom tydens die uitsending van die vorige seisoen oor sy ervarings in die vreemde uitvra, was hul eerste vraag altyd: “Is Survivor SA regtig so rof soos wat dit op die kassie lyk?”

Nou antwoord Nico daardie vraag sommer by voorbaat: “Ek sê altyd nee – want dit is 10 keer so erg.”

Hy verduidelik: “Die deelnemers word deur allerhande goggas gebyt; hulle het sere en jeukplekke.

Elke dag dat ’n stel vir ’n uitdaging opgestel word, is ek jaloers

"Hulle slaap op riete. Al is hulle op ’n tropiese eiland, is dit bibberkoud wanneer dit reën. Hulle was hulle in die see, maar die sout se taaiheid bly kleef en hul toilet is die naaste bossie.

Hul enigste kos is wat gevang en versamel word of wat hulle kry as hulle dit regkry om ’n beloningsuitdaging te wen.”

Klink dit na ’n paradys vir die mense wat saam met Nico in daardie pragtige uithoek van die aarde is?

Dink weer . . .   Al is Nico net die aanbieder van die reeks en nie self ’n deelnemer nie, terg hy dat hy en die res van die produksiespan agter die skerms ook ’n eie Survivor SA-spel speel.

“As ons nie besig is om te verfilm nie, berei ons voor vir tonele wat verfilm gaan word. Ons toets die stelle van die uitdagings, maak seker alles is veilig opgeslaan en gaan deur die reëls.

“Ek woon vergaderings by waar ek uitvind wat tussen die deelnemers op die eiland aangaan sodat ek weet hoe om die uitdagings en stamberade te benader.”

Terwyl die deelnemers op die groep eilande bly, gaan Nico en die produksiespan op die hoofeiland daar naby tuis.

“Alles gebeur op ’n ander eiland, wat beteken dat ons heelwat bootritte moet aandurf, ver moet stap en toerusting ronddra.

“Tyd vir rondlê en die son opslurp, is baie min.”

Tydens die verfilming ervaar hy nes die deelnemers daagliks hoe die adrenalien deur sy are bruis, vertel die aantreklike aanbieder.

“Vir my en die produksiespan is dit elke dag opwindend om te hoor wat tussen die deelnemers gebeur en wie wat gedoen het.” Hy verklap kykers kan hulle regmaak vir uitdagings wat die deelnemers gaan laat bloed sweet op land en in die water, maar mag nog nie daaroor uitbrei nie.

“Ons stel die deelnemers in die loop van die seisoen bloot aan baie verrassings, wat maak dat hulle hul strategieë heeltyd moet heroorweeg en op die ingewing van die oomblik ’n plan moet maak,” beaam Ingrid Engelbrecht, publisiteitsbeampte van M-Net.

Die deelnemers is juis almal gekies omdat hulle bekend is met die reeks en al vooraf mal was oor Survivor SA; op die kassie sal kykers dus sien hoe mense wat vertroud is met die eilandontberings hul slimste truuks inspan om te oorleef.

“Hulle verstaan nie net van oorlewing en hoe om die hongerpyne te trotseer nie, maar beraam heeltyd strategieë om ’n stappie vooruit te wees,” verduidelik Ingrid.

Waar die deelnemers in vorige seisoene tussen 27 en 29 dae op die eiland was, sal dié wat tot aan die einde van die verfilming van die nuwe seisoen nie uitgestem word nie 39 dae daar wees. 

In die bondel is ’n hele paar denkers, oordonderende persoonlikhede en natuurlik dié wat al die verkeerde knoppies gaan druk om op die ander se senuwees te werk, sê Ingrid.

Nico is al sedert die begindae van die eerste Survivor-reeks wat in Amerika uitgesaai is en deur Jeff Probst aangebied word ’n groot aanhanger. Toe die reeks daarna deur M-Net vir Suid-Afrika verfilm is, het hy self ingeskryf en dit gemaak tot by “die kortlys van 20 of 30 kandidate.

Nico sê sy voete jeuk al jare om self aan uitdagings soos dié uit vorige reekse deel te neem. Foto: Instagram

“In daardie stadium was ek nog in 7de Laan (as George Kiriakis) en hulle het besluit hulle wou nie vir daardie seisoen mense met ’n openbare profiel kies nie. Ek dink dit was die eerste keer in my lewe dat ek te famous vir iets was,” skerts hy.

Hy was teen dié tyd al aanbieder van drie vorige aflewerings van die reeks, maar wens nou nog hy kon ook self aan die uitdagings daarin deelneem.

“Elke dag dat ’n stel vir ’n uitdaging opgestel word, is ek jaloers. My produksiespan laat my nie toe om dit self uit te toets nie, want as ek iets oorkom, het hulle nie ’n aanbieder nie. Ek toets dit soms uit as hulle nie kyk nie,” erken hy. Hy leer met elke seisoen wat hy aanbied iets nuuts.

“Dis soos skaak: Die reeks bly dieselfde en die reëls is basies dieselfde, maar elke spel het ’n ander uitkoms.” Hy en die produksiespan het baie min kontak met die deelnemers omdat die spel vereis dat hulle gestrand is.

Hy gesels met hulle by uitdagings, as iemand handdoek wil ingooi of mediese hulp kort en in die stamberaadsessies. En sê nou hy kon wel self deelneem? Wat sou hom op daardie verlate eiland gehelp het?

“My gees, karakter, God en familie,” antwoord hy. “Die spel maak baie seker jy weet hoe afhanklik jy van die mense in jou lewe is.”

Nico sê hy is nie daaraan gewoond om twee maande van sy gesin weg te wees soos nou nie. “My lewe, my hart, my siel en my asem is my vrou en kinders. Dis vir my moeilik om sonder hulle te wees.”

Christi en Nico. Foto: Instagram

Wanneer die verlange knaag, maak hy staat op video’s en foto’s wat hy van hulle ontvang. “Maar dit kom nie naby daardie klein lyfies van jou kinders vasdruk nie, en dieselfde geld vir my vrou.”

Vroulief Christi (40) het met die vorige drie seisoene wat hy aangebied het elke keer kom kuier, en sy gesin kom dié keer weer, vertel hy opgewonde.

“My kinders is baie lief vir swem en ek dink hulle gaan heeldag in die water wees.” Dis juis om sy twee dogters, Evah (7) en Shay (5), se onthalwe dat hy so fiks en gesond bly.

Hy doen selfs hier in die verte moeite om langs die kus of op die koppies in die omgewing te gaan draf wanneer hy ’n oggend of middag vry het.

“Evah het my eendag gevra: ‘Pappa, hoekom hardloop jy so baie?’ Want wanneer ek by die huis is, gaan ek elke tweede dag in die Kaapse berge draf.”

Sy antwoord? “Liefie, eendag as jy oud genoeg is om saam met my te hardloop, sal ek graag saam met jou wil kan hardloop.

"Ek wil saam met jou bergfiets ry, bergklim, branderplank ry en staproetes aandurf. Ek wil nie te oud wees om enigiets saam met jou te doen nie.”

Op 44 erken hy “hoe ouer ’n mens word, hoe moeiliker word dit om by te hou met hoe jy gelyk het toe jy jonger was”. Die uiteinde daarvan is dat jy harder werk en gesonder is.

Al geniet hy van tyd tot tyd ’n lekker koue bier of ’n pizza of hamburger, probeer hy ’n gesonde balans handhaaf.

“Ek dink die grootste ding van gesond bly is om vreeslik baie te lag.”

En dan verklap die aantreklike aanbieder wat so ernstig voor die Survivor SA-kameras lyk dat lag juis een van die belangrikste bestanddele van sy gelukkige huwelik is. Hy en Christi, vertel hy, “doen dit heeltyd”.