Die Oscar-wenner wat tussen 1990 en 2001 met die Mission Impossible-akteur getroud was, het in die Julie-uitgawe van die tydskrif Tatler gepraat oor haar verpletterende verlies ná 'n miskraam wat sy teen die einde van hul huwelik gehad het.

“Ek ken die hunkering. Dis ’n pynlike hunkering. En die verlies! Daar word nie genoeg gepraat oor die verlies van ’n miskraam nie. Dis ’n groot hartseer vir sekere vroue. Daar is baie pyn,” het Nicole (50) gesê.

“Die anderkant van soveel hunkering en pyn deurmaak, is die gevoel van verligting wanneer jy die kind het.”

Sy en Tom (55) het twee kinders, Connor (23) en Isabella (25), tydens hul huwelik aangeneem. Sy het daarna twee dogters, Sunday Rose (9) en Faith Margaret (6), by die countrysanger Keith Urban gehad, met wie sy in 2006 getroud is. 

Die Big Little Liars-aktrise het die eerste keer in 2007 in ’n onderhoud met Marie Claire onthul sy het ’n miskraam en ’n ektopiese swangerskap (waar die bevrugte eiersel buite die baarmoeder ontwikkel) gehad. 

“Ek het ’n miskraam teen die einde van my huwelik gehad en ’n ektopiese swangerskap aan die begin van my huwelik. Dit was ongelooflik traumaties vir my.” 

Nicole en Keith se ouerskapstyl fokus op oop kommunikasie. “Ons is ’n intieme gesin en bespreek baie dinge,” het sy in Oktober aan die tydskrif People gesê.

“Soms het ons ook leiding nodig, maar ons gesin is op ’n groot aantal vrae, liefde en steun geanker. Ons probeer ’n ses- en negejarige dogter leiding gee.” 

Nicole is vanjaar in ’n rits flieks te sien, waaronder die wetenskapsfiksiefliek Aquaman teenoor Jason Momoa, die drama Boy Erased, oor die seun van ’n Baptistepredikant wat gedwing word om aan ’n gay-omskakelingsprogram deel te neem wat deur die kerk gesteun word, en die misdaadaksieprent Destroyer met Sebastian Stan.

Bronne: E! Online, People, Tatler