Die Australiese aktrise Elizabeth Debicki is aangewys om die rol van die prinses van harte in die Netflix-reeks se komende vyfde en sesde seisoene te vertolk. “Prinses Diana se gees, haar woorde en haar dade leef voort in die harte van soveel mense,” sê die 30-jarige van die geleentheid.
“Dit is vir my ’n voorreg en eer om aan te sluit by die meesterlike reeks wat my van episode een af absoluut geboei het.”
Die aktrise van The Night Manager sal die rol oorneem by Emma Corrin (24), die nuweling wat ’n jonger weergawe van Diana in die reeks se komende vierde seisoen sal speel.
The Crown het ’n wisselende rolverdeling. Die drama volg die lewe van koningin Elizabeth II van die 1940’s tot vandag; dit het dus veranderings nodig om by die veroudering van die karakters aan te pas.
Die aankondiging is met ’n oorweldigend positiewe reaksie op Twitter verwelkom. ’n Opgewonde aanhanger beskryf dit as “die beste rolverdelingsbesluit ooit” en ’n ander sê hulle “ruik al die pryse”.
Kristen speel ook Di
Intussen het die onlangse bekendmaking dat Kristen Stewart (30) die prinses in ’n nuwe rolprent sal uitbeeld sosialemediagebruikers verdeel. Dié nuus was besonder omstrede op Twitter, veral onder Britte wat nie ingenome is dat ’n Amerikaner die rol gekry het nie.
Volgens Deadline dek Pablo Larraín se Spencer “ ’n kritieke naweek in die vroeë 1990’s toe Diana besluit het haar huwelik met prins Charles werk nie en dat sy moet afwyk van ’n pad wat haar op koers geplaas het om eendag koningin te word".
“Ek is jammer, al is Kristen ’n goeie aktrise, is sy bloot nie gepas vir die rol nie. Diana was klas en elegansie; Kristen is die teenoorgestelde daarvan,” skryf ’n gebruiker. En ’n ander een laat hoor: “Prinses Diana draai in haar graf om! Kan ons ’n petisie opstel om te keer dat dit regtig gebeur?”
Nog sterre wat Diana gespeel het
1 Serena Scott Thomas
In 1993 was Andrew Morton se biografie Diana: Her True Story, wat met haar samewerking geskryf is, ’n bioprent met Serena in die titelrol.
2 Julie Cox
Die omstrede fliek van 1996 gegrond op Anna Pasternak se biografie Princess in Love volg Diana se beweerde affair met kapt. James Hewitt.
3 Amy Seccombe
’n Jaar ná prinses Diana se dood is sy in die rolprent Diana: A Tribute to the People’s Princess gedenk.
4 Naomi Watts
Die Britse aktrise het die hoofrol vertolk in Diana, ’n biografiese fliek van 2013 oor die laaste jare van die prinses se lewe gegrond op Kate Snell se boek Diana: Her Last Love.
5 Caroline Bliss
’n Jaar nadat prins Charles en Diana getroud is, het Caroline die prinses in ’n dramatisering van die koninklike troue, Charles & Diana: A Royal Love Story, gespeel.
6 Emma Corrin
In seisoen vier van The Crown sal Diana bekendgestel word, en Emma, ’n Britse aktrise, sal die prinses van Wallis uitbeeld.
BRONNE: PAGESIX.COM, HOLLYWOODLIFE.COM, USMAGAZINE.COM, EONLINE.COM, DEADLINE.COM, TOWNANDCOUNTRYMAG.COM, GLAMOUR.COM, VANITYFAIR.COM
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET