Suster Catherine Rose Holzman (89) het in die hof inmekaargesak en gesterf.

Catherine en nog nonne is in 'n hofstryd met die Roar-sanger gewikkel oor hul klooster in die Los Angeles-buurt Los Feliz wat sy drie jaar gelede gekoop het.

Die Immaculate Heart of Mary-nonne het die klooster in 1971 gekoop en gesê hulle wou daar aftree. Maar die aartsbisdom van Los Angeles het hulle in 2011 uitgesit.

Foto: standwiththesisters.org

Die regstryd handel nou oor wie die regte het om die eiendom te verkoop. Die nonne sê die regte verkoopprosedure is nie gevolg nie, aangesien die klooster onder die beheer van die Vatikaan is en nie die aartsbisdom van Los Angeles nie.

Die aartsbisdom het dit aan Katy vir meer as R170 miljoen verkoop, terwyl die nonne die eindom aan Dana Hollister, 'n restauranteienaar van Los Angeles, vir meer as R180 miljoen wou verkoop het. “Ons het haar gevra om ons te red en die eiendom te koop. Dana het haarself nie op ons afgedwing nie,” het Holzman ure voor haar dood gesê.

Die hof het bevind dat Dana ingemeng het met die verkoop van die klooster.

In Desember het die hof ten gunste van Katy beslis en gesê Dana moet meer as R180 miljoen se skadevergoeding aan Katy en die aartsbisdom betaal. Maar Dana het verlede week vir bankrotskap aansoek gedoen en die saak is nou vir eers op ys weens dié aansoek. 

Katy en die aartsbisdom het die nonne ook gedagvaar en gesê hulle het geen reg om die eiendom te verkoop nie, berig Buzzfeed

Voor Vrydag se hofverrigtinge het Catherine aan die media gesê sy “smeek Katy om die regsgeveg te beëindig”. 

“Aan Katy Perry, asseblief stop. Dit doen niemand enige goed nie. Dit maak net baie mense seer,” het sy gesê, berig Fox11

'n Verteenwoordiger vir Catherine en die ander bejaarde nonne sê dit is ’n baie hartseer tyd vir hulle. “Suster Catherine was sagmoedig en vriendelik. Sy het gesterf terwyl sy opgestaan het vir haar regte en die regte van al die nonne wat vir te lank stilgehou is.” 

Die nonne se verteenwoordiger sê Katy en die aartsbisdom stoom voort met hul plan sonder dat hulle "omgee vir wat reg en regverdig is".

In ’n video wat die nonne op YouTube gelaai het, sê hulle die aartsbisdom het hulle uitgesit uit hul woning waar hulle hul lewe lank wou bly en het die eiendom verkoop om “geld te maak”. 

Bronne: FOX11, Buzzfeed