Britney Spears
Britney Spears. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die 39-jarige sangeres het nie enige name genoem nie, maar haar aanhangers is oortuig sy het na haar jonger suster, Jamie Lynn (30), verwys.

“Hoe durf diegene vir wie jy die liefste is, net mooi niks sê nie?” het sy op Instagram geskryf. “Het hulle selfs ’n hand uitgesteek om my in daardie tyd uit te help? Hoe durf julle nou dit openbaar maak dat julle omgee . . . Het jy jou hand uitgesteek toe ek verdrink het?”

View this post on Instagram

A post shared by Britney Spears (@britneyspears)

Britney het onlangs ’n nuwe prokureur, die gewese aanklaer Mathew Rosengart, aangestel om haar te verdedig in haar hofstryd teen die omstrede kuratorskap waarvolgens haar lewe en haar loopbaan in haar pa, Jamie (69), se hande geplaas is.

Sy het beskryf hoe sy basiese dinge ontneem is: haar keuse rondom geboortebeperking, koffie, haar rybewys en selfs die vitamiene vir haar hare.

“As dit nie mishandeling is nie, dan weet ek nie,” het sy gesê.

Hoewel Jamie Lynn vantevore onwillig was om haar suster se kuratorskap te bespreek, het ’n bron aan Us Weekly verklap dat sy “100% ten gunste van #FreeBritney is. Sy en Britney het nog altyd ’n spesiale band as susters gehad. Jamie ondersteun Britney en was daar vir haar. Sy’t na Britney se toesprake geluister, vir haar gebid en bemoedigende boodskappe met haar gedeel.”

Jamie Lynn Spears
Jamie Lynn Spears. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar Britney het Jamie ingevlieg op sosiale media.

“Ek hou nie daarvan dat my suster by ’n toekenningsaand opgedaag en my liedjies gesing het nie,” het die sangeres gesê. Sy verwys hier waarskynlik na Jamie Lynn se huldigingsoptrede tydens die 2017 Radio Disney-musiektoekennings, ’n geleentheid waar Kelsea Ballerini, Sofia Carson en Hailee Steinfeld ook van Britney se grootste treffers gesing het.

Jamie Lynn het die verhouding met haar suster aangespreek ná Britney se ontstellende getuienis in die hof in Junie vanjaar.

“Ek dink dit is baie duidelik dat ek van die dag wat ek gebore is, my suster net liefgehad, bewonder en ondersteun het,” het die Zoey 101-ster op haar Instagram Stories verkondig.

“Ek bedoel, sy is my freaking ousus bo enige van hierdie nonsens. Ek gee nie om of sy na die reënwoud wil wegvlug en ’n zillion babas in die middel van nêrens wil hê nie, en of sy wil huis toe kom en die wêreld wil regeer op ’n manier waarop net sy kan soos soveel kere vantevore. Ek het niks om te wen of te verloor watter kant toe ook al nie.”

Britney en Jamie in hul jonger dae.
Britney en Jamie in hul jonger dae. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die situasie raak my nie, want ek is net haar suster wat net bekommerd oor haar geluk is.”

Terwyl Britney dalk nie die ondersteuning van haar familielede het wat sy graag sou wou geniet nie, kan sy wel staat maak op een van die popsterre van die 1990s – die Backstreet Boys-sanger AJ McLean – wat dit baie duidelik gemaak het dat hy Team Britney is. Hy verwys na haar kuratorskap as “malligheid” en “heeltemal wreed”.

Volgens AJ het die laaste gesprek wat hy met Britney gehad het sy hart gebreek.

AJ McLean
AJ McLean. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Daar is hierdie verstommende kolwyntjiewinkel waarnatoe sy gaan, ek gaan ook soontoe,” het hy onlangs in ’n onderhoud met Andy Cohen gesê.

“Die laaste keer wat ek haar gesien het, het dit my hart gebreek. Sy was saam met ’n man. Ek neem aan dit was ’n veiligheidswag, moontlik ’n bestuurder.”

Britney het hom aanvanklik nie herken nie en hy het homself aan haar voorgestel.

Britney-aanhangers buite die hof.
Britney-aanhangers buite die hof. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Sy’t net hierdie soort van glasige uitdrukking op haar gesig gehad. Soos, wel, asof sy net nie geweet het wie by haar was nie. Dit het haar ’n minuut of so geneem. Toe besef sy dit is ek en ons het mekaar omhels en vir ’n kort tydjie gesels. Ek kon sien dit was net nie sy nie. Ek sien nie die mens wat ek reeds jare en jare lank ken nie.”

Britney se hofsaak kom weer op 29 September voor.

Bronne: theguardian.com, eonline.com, foxnews.com, pagesix.com, indiatoday.in
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe