Hoewel sy dankbaar is om ingeperk te wees saam met haar man, Marc, en twee kinders, Alexandro (10) en Gabriella (8), was dit ietwat van ’n wipwaentjierit om aan die nuwe normaal gewoond te raak.

“Daar is goeie en slegte dae. Ek mis regtig my familie, veral my ma en pa,” sê Leanne. “Ek mis dit ook om saam met vriende te kuier, ’n drankie te geniet en lekker te lag. Maar om die tyd saam met my man en kinders te hê, is wonderlik.

“Ek voel asof ons mekaar op soveel verskillende maniere leer ken en dis ongelooflik.”

View this post on Instagram

Had to share my 7 year olds creativity. Checked my pic gallery & there it was. #kidsofinstagram #creativekids #braggingmom

A post shared by Leanne Manas ?? (@leannemanas) on

Voor die inperking het Leanne minstens vier of vyf keer per week geoefen. Skopboks, hardloop en tennis was hoe sy aktief gebly het.

“Ek het nie besef hoe aktief ek was totdat ons ingeperk is en alles gestop is nie! Skielik het selfsorg agterweë gebly met die ekstra verantwoordelikheid van werk en klasgee – en ek het toegelaat dat dit gebeur,” sê sy.

Leanne het in ’n onlangse Facebook-inskrywing gepraat oor watter uitdaging dit was om haar gesonde gewoontes tydens die eerste paar weke van inperking te handhaaf.

Sy vertel hoe sy nou weer op die regte pad is, maar dat sy wens die president wil die aantal ure waartydens mense mag oefen, meer maak.

“Ek probeer hard om terug in ’n roetine te kom en oefen minstens drie tot vier keer per week om my te laat kophou en vir my gesondheid.

“Ek hoop net die president maak ten minste die aantal ure wat ons mag oefen meer, en gee Suid-Afrikaners toestemming om smiddae ook te oefen – dit sal ’n groot verskil aan ons geestesgesondheid maak!”

Leanne sê haar vriende het haar aangemoedig om aan te sluit by skopboksklasse op Zoom en het haar aangemoedig om ’n hardloop/stapsessie van 7 km te doen.

“Dit is die belangrikste ding! Soms besef jy nie dat jy ’n laagtepunt beleef en in ’n groef verval nie. Maar mense wat jou ken en liefhet, kan dit dalk sien en aan jou uitwys. Moenie hulle ignoreer nie, luister na hulle en laat die advies toe in jou lewe. 

“Dis verstommend hoeveel mense geantwoord het: ‘Dit gaan nie goed met my nie’ toe ek uitgereik en die eenvoudige vraag ‘Hoe gaan dit?’ gevra het. Dit help hulle op maniere wat jy nooit sal besef nie.”

En noudat sy weer ’n gesonde leefstyl volg, hoe lyk ’n dag in die lewe van Leanne Manas tydens die inperking? Sy moet immers werk, moederskap en vrouwees balanseer.

“Ek skrik vieruur wakker, kruip uit die bed, trek aan en maak koffie, lees wat oornag en regdeur die oggend die nuus gehaal het. Daarna vat ek die pad en gaan werk, doen my grimering en hare, gaan stel toe en om 06:00 is ek regstreeks op televisie.

“Ons maak 09:00 klaar en dan haas ek my uit die gebou tot in my kar, en gaan huis toe om my man af te los wat na die kinders kyk. Ek trek uit en spring in die stort. Dan hou ek my lyf onderwyser en gee vir my kinders hul graad vyf en graad twee skoolwerk, en hardloop sonder ophou tussen hulle tweetjies tot 14:00.

“Dan doen ek Zoom-vergaderings wat ek geskeduleer het en begin aandete maak. Ek neem die kinders uit vir ’n bietjie sonlig en speel tennis of spring op die trampolien saam met hulle. Wanneer die son sak, is ek ’n totale ramp en val in die bed . . . en dan gaan die wekker weer 04:00 af!”

Met al hierdie verantwoordelikhede is die vir Leanne belangrik om ’n balans te handhaaf sodat sy nie vergeet om ook tyd vir haarself te maak nie.

“Ek probeer om ’n blaaskans te neem. Ek sal ’n middagslapie inwerk as ek kan. Maar naweke is my tyd vir laatlê of vroeg opstaan en voor 09:00 gaan hardloop. Ek het besef dit laat my kophou. Ek baklei met myself en wil weer aan die slaap raak, maar wanneer ek uiteindelik opstaan en dit gaan doen, voel ek fantasties!”