Met ’n kombinasie van glansryke aantrekkingskrag en komiese tydsberekening het sy iets reg­gekry wat talle akteurs van haar generasie afgunstig laat: die kuns om die oorgang van ’n televisieliefling na ’n witwarm silwerdoekster suksesvol te bemeester.

Jennifer Aniston is verreweg die suksesvolste van die Friends-sestal; met ’n koel R283 miljoen was sy verlede jaar die derdebesbetaalde aktrise ter wêreld en haar flieks is loketgoud.

Tog is daar dié wat steeds sê: “Die arme Jen . . .” In hul oë is sy die mooi gesiggie wie se liefdeslewe sukkel, die vrou wat haar geliefde altyd aan ’n ander skoonheid moet afstaan, en ’n vrou van 50 wat vergeefs daarna hunker om ma te word.

Sy het met die jare vir die wêreld probeer sê sy’s heeltemal oukei, dankie, maar die skindertonge was steeds nie oortuig nie, en gerugte van ’n troebel gemoed het bly rondvlieg.

Maar nou benadruk ’n nuwe boek deur die New York Times-­topverkoperskrywer Ian Halperin dit gaan meer as goed met Jen – sy is gelukkig, vervuld en lei trouens haar “beste lewe”.

Jennifer se huwelik met Brad Pitt het op die rotse
Jennifer se huwelik met Brad Pitt het op die rotse beland ná sy affair met Angelina Jolie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy nuwe boek, Friends with Benefits, verklap ook hoe Jennifer nou “laaste lag”, veral oor haar ou aartsvyand Angelina Jolie, wat in 2005 die rede was vir haar egskeiding van haar des­tydse man, Brad Pitt.

En hoe het sy dit reggekry om die hartseer en bitterheid te oorkom? Deur in haar “innerlike wese en uiterlike gesondheid” te belê, sê Ian.

Dit wys jou net wat in die lewe saak maak, is nie hoe jy begin nie, maar hoe jy eindig.

Hy het met 350 mense gesels wat óf met Jen saamgewerk het óf met haar bevriend is, en talle sê sy het nog nooit so goed gelyk nie – haar oë blink, haar vel gloei en sy straal joie de vivre uit.

“Wie sou kon dink Jen sou ooit beter as Angelina Jolie lyk?” het een vriend aan Ian gesê.

“Dit wys jou net wat in die lewe saak maak, is nie hoe jy begin nie, maar hoe jy eindig. Ek is so bly vir haar.”

“Sy soek nie werklik na geluk nie; sy soek welstand,” sê nog ’n vriendin.

“En sy het dit duidelik reggekry. Sy het werklik die afgelope paar jaar as mens gegroei. En sy helder ’n vertrek op waar sy ook al gaan. Ek dink nie daar was al ’n aktrise wat beter as Jen op 50 lyk nie.”

Sexy teen ’n prys

Maar dis nie goedkoop om so sexy te lyk nie.

Ian, wat al talle onthullende boeke oor bekendes soos die Kardashians, Michael Jackson en Kurt Cobain geskryf het, beweer haar jeugdige voorkoms kos ’n stewige R4,3 miljoen per jaar.

Op 50 is Jennifer Aniston steeds een van die moois
Op 50 is Jennifer Aniston steeds een van die mooiste vroue in Hollywood. Maar sy bestee baie geld en tyd aan uiterlike sowel as innerlike skoonheid. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy bestee glo jaarliks R3,5 miljoen aan terapie, jogaklasse en laservelvernuwing.

Haar velsorgroetine, wat duur gesigolies en serums insluit, beloop R22 700 per maand, en ligstrepies vir haar beroemde haredos jaag haar elke ses weke R14 000 uit die sak.

Oefensessies met Los Angeles se voorste fiksheidsinstrukteurs kos maandeliks R56 000 – boks is glo tans haar guns­teling – en sy gee soortgelyke bedrae uit aan ’n “dieet-afrigter” en gesonde maaltye wat spesifiek vir haar aangepas is.

Sy bestee ook glo groot geld aan klere en reis, en beskou laasgenoemde as die “geheim tot jonk en nuuskierig bly”.

Haar talent om beeldskoon te bly was veral duidelik op haar 50ste verjaardagpartytjie in Februarie.

Innerlike selfvertroue is die ware geheim tot uiterlike skoonheid.

Jen, wat geklee was in ’n swart lyfpak wat haar vietse figuur en daardie goue vel beklemtoon het, het fantasties gelyk waar sy saam met haar beroemde pelle – onder wie  George en Amal Clooney, Ellen DeGeneres en Demi Moore – gekuier het.

Maar uitstekende fisieke sorg is net die helfte van die suksesresep, het Jennifer in ’n onlangse onderhoud laat val.

“Ek voel nou fisiek beter as in my 20’s en ek het ook meer lief. Innerlike selfvertroue is die ware geheim tot uiterlike skoonheid.”

En sy sou nie so ver gekom het sonder om in haar geestesgesondheid te belê nie, meen sy.

Die aktrises Kate Hudson (links) en Gwyneth Paltro
Die aktrises Kate Hudson (links) en Gwyneth Paltrow was onder die gaste. Foto: Instagram

“Kry terapie. Raak ontslae van al die twak. Raak ontslae van die gifstowwe en geraas. Verstaan wie jy is. Leer oor jouself.”

’n Groot gedeelte van dié “gifstowwe en geraas” het natuurlik met Angelina te doen, en ’n groot deel van Ian se boek gaan oor die sage wat mense meer as ’n dekade ná die egskeiding steeds fassineer.

Jen het glo aan vriende gesê sy sal “nooit” met die pruilmondskoonheid praat nie.

Angie se affair met Brad, wat in 2004 begin het toe hulle die fliek Mr. & Mrs. Smith verfilm het, het ’n “waansinnige Bermuda-driehoek” geskep, wat haar “verpletter en geestelik afgemat” gelaat het, sê Ian.

Brad Pitt het 'n affair met Angelina Jolie aangekn
Brad Pitt het 'n affair met Angelina Jolie aangeknoop. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Dit was baie moeilik vir Jen. Niemand verwag van haar om ooit in dieselfde vertrek as Angelina te wil wees nie. Sy het haar man gesteel en vir hom soveel kinders gegee terwyl Jen en Brad gesukkel het.

“Ek dink nie Jen sal onder enige omstandighede ooit weer die deur oopmaak vir Angelina nie.”

Angelina

Dit het beslis nie gehelp dat die twee gedurig teen mekaar afgespeel is nie – Angie as die seksueel gewaagde, ge­tatoeëerde verleidster met ’n donker kant, en Jen as Hollywood se meisie van langsaan, die arme verstote vrou.

Ian het ook in 2009 ’n onthullende boek oor Angelina en Brad geskryf genaamd Brangelina: The Untold Story waarin hy aanvoer Angie het sake in eie hande geneem nadat sy keelvol daarvan was om as ’n mansteler gebrandmerk te word.

Hy beweer sy het ’n “gemene maar doeltreffende veldtog” van stapel gestuur om Jen in ’n swak lig te stel deur stories aan die media te laat uitlek.

“Spesifiek gesproke dat Jen haar loopbaan bo ’n gesin geprioritiseer het, wat haar kop laat stamp het met Brad, wat na kinders gesmag het,” het hy geskryf.

In 2009 het Jen teruggekap toe sy kaal poseer het vir die voorblad van die mans­tydskrif GQ met ’n strategies geplaaste das. Dit was haar manier om “haar te bevry van die foltering wat sy tydens die egskeiding verduur het”, vertel Ian.

In 2009 het Jen kaal poseer vir die manstydskrif G
In 2009 het Jen kaal poseer vir die manstydskrif GQ.

“Dit was bevrydend en het haar bemagtig,” sê een van die aktrise se vriendinne.

“Sy móés dit doen. Sy het basies ’n sterk boodskap aan Angelina gestuur dat sy oor die seer en vry is.”

Prins Harry

Foto: Gallo Images/Getty Images

Daardie voorblad het toevallig prins Harry se oog gevang. Ian beweer die rooikop was jare lank versot op die ?aktrise.

“Hy het vir vriende gesê sy’s ‘prinses­materiaal’.”

Harry het glo Jen se nommer in die hande gekry en vir haar teksboodskappe begin stuur.

“Een bron het my vertel Jen was bewus van Harry se verliefdheid, maar wou hom nie aanhits nie vanweë die ouderdomsverskil.”

Die prins is 16 jaar jonger as sy. Hoewel ’n woordvoerder vir Jennifer die bewerings ontken dat die prins vir haar boodskappe gestuur het, hou Ian vol dit het wel gebeur.

“Ek staan by alles in die fliek en boek.” Daar word ’n dokumentêr gemaak oor Ian se onthullings oor Jen se lewe.

“Jen het as ietwat van ’n grap ?in Hollywood begin, maar is nou een van die gewildste sterre,” sê Ian.

“Almal is versot op haar omdat sy ’n ware vriendin is, sy’s nooit venynig nie en het opreg en plat- op-die-aarde gebly ten spyte van vies­like op­skrifte en skandale.”

EKSTRA BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, HOLLYWOODLIFE.COM, EONLINE.COM, PEOPLE.COM, USWEEKLY.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.