Die aktrise sê Desember en Januarie is gewoonlik rustyd vir haar, maar vanjaar is sy ook besig om 'n paar nuwe skuiwe te maak.

Een daarvan is dat sy en haar man, die sjef Reiner May, besig is om na 'n nuwe huis in Kaapstad te trek.

"Ons is besig om te trek so ek sien baie uit daarna. Ons trek na 'n sekuriteitskompleks toe en daar is baie geriewe soos 'n gim en 'n swembad en ek sien uit daarna om dit te gebruik. Ek gim baie, maar het ongelukkig nie altyd tyd om daar uit te kom nie, maar nou sal dit naby genoeg wees. Op die oomblik is dit die grootste ding waarna ek uitsien," sê Ann, wat Janice (Crystal-Donna Roberts) en Thys Cupido (Sherman Pharo) se dogter, Claudia, in Arendsvlei vertolk.

Ann en Reiner het in Augustus 2018 afgehaak. Hulle kon egter nie dadelik die groot geleentheid vier nie en het eers 11 maande later hul wittebrood in Zanzibar gehou. 

"Toe ons getrou het, was ons besig met werk, en ons kon nou eers verlof kry," het Ann in Julie aan Huisgenoot vertel. "Ons het mekaar beloof wanneer ons eindelik op wittebrood gaan, sal dit asemrowend wees en dat ons net sal ontspan," het die aktrise vertel. En dit was duidelik die moeite werd.

Sy het in 2019 geleer om te spaar en finansies te verstaan, vertel Ann.

Die aktrise geniet dit om in die vakansietyd op die strand uit te span. "My gunsteling is om Bikini Beach in Gordonsbaai toe te gaan. Ek hoop ek kan nog baie beach days hê," verklap Ann.

Ann onthul sy het in 2019 baie siek geraak en dat sy besef het dis omdat sy nie genoeg tyd vir haarself neem nie. Dis iets wat sy beplan om in 2020 te verander.

"’n Mens moet na jou lyf luister," vertel die aktrise. "Daar is baie nuwe dinge wat in die pyplyn is en ek kan dit nog nie eintlik deel nie, maar ek is baie opgewonde.