Meghan, hertogin van Sussex, se eerste kinderboek
Meghan, die hertogin van Sussex, se eerste kinderboek het gemengde reaksies ontlok. Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters

Meghan (39), wat op 4 Junie die lewe geskenk het aan haar en prins Harry (36) se tweede kind, Lilibet Diana, het in Mei vanjaar onthul die boek is geïnspireer deur ’n gedig wat sy vir Vadersdag aan Harry geskryf het.

Benewens illustrasies van Harry en hul eersteling, Archie (2), bevat die boek ook illustrasies van Meghan wat klein Lili vashou sowel as die gesin se twee honde, Guy en Pula. 

Harry, Archie en hul honde, Guy en Pula, word in d
Harry, Archie en hul honde, Guy en Pula, word in die boek geïllustreer. Foto: Gallo Images/Reuters

The Bench is aan Harry en Archie opgedra. “Vir die man en seuntjie wat my hart laat doef-doef gaan,” skryf Meghan voor in dié boek. 

Dit verken die band tussen pa's en seuns, soos gesien deur ’n ma se oë, berig People.

The Bench is opgedra aan Harry en hul seun Archie.
'The Bench' is opgedra aan Harry en hul seun Archie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kritici is egter glad nie gaande oor die boek nie. Die Times se resensie lui: “Die storie bevat so min aksie en niks word op die spel geplaas nie, dit laat ’n mens wonder of die skryfwerk aan ’n meubelstuk oorgelaat is.” 

Dieselfde resensent meld ook dat dit nie eintlik op kinders gemik is nie, maar eerder ’n selfhulpgids is vir “behoeftige ouers”. 

Bel Mooney, ’n rubriekskrywer vir die Daily Mail en die skrywer van meer as 30 kinderboeke, stem saam. 

“Blykbaar het die hertogin van Sussex haar eerste kinderboek gegrond op ’n gedig wat sy vir haar man geskryf het. En dít, liewe mens, is die moeilikheid wat my betref.

The Bench is glad nie vir kinders nie; dis vir manlief Harry,” skryf Bel. 

Die boek is deur kritici gekap. Foto: Gallo Images
Die boek is deur kritici gekap. Foto: Gallo Images/Reuters

Daarteenoor het aanlyn gebruikers kommentaar op Amazon gelos wat sê die boek is niks minder as ’n skynprojek wat binne die familie moes gebly het nie. 

Aan die verkoopskant het dit ook nie goed gegaan vir die boek in Brittanje nie. 

Dit het nie Amazon se Top-200-verkoperslys gehaal nie, en was nommer 60 onder kinderboeke. Dít nadat die prys met R58 (£3) gesny is vanaf die oorspronklike prys van R249 (£12,95). 

By een winkel in Newcastle in Engeland is die boek op die winskopie-rak geplaas waar jy ’n tweede kopie teen halfprys kon kry as jy een koop. 

Maar nie almal braak gal oor die boek nie. Emily Phillips van die Evening Standard skryf Meghan se skryfwerk is "kalmerend, liefdevol, by tye stroperig, maar ek het op ’n kol ’n traan gepink". Maar, voeg sy by, "het ek genoem ek was sedert vyfuur op saam met my dogter?" 

Prudence Wade van die Independent juig oor die diversiteit van die karakters. "Pa's en seuns van verskillende agtergronde word verteenwoordig," skryf Prudence. "Dit beteken so baie kinders sal hulself sien in die bladsye van die boek, iets wat ’n groot impak kan hê."

Meghan is nie al lid van die Britse koninklike familie wat ’n kinderboek op die rakke het nie. Haar skoonpa, prins Charles (72), het in 1980 The Old Man of Lochnagar gepubliseer. Dié boek gaan oor ’n ou man wat in ’n grot woon op die koninklike landgoed by Balmoral in Skotland waar koningin Elizabeth haar somervakansies deurbring.

Prins Andrew se eksvrou, Sarah Ferguson (61), het ook al ’n gewilde kinderboekreeks, Budgie the Little Helicopter, gepen. Dis later in ’n TV-animasiereeks omskep. 

The Bench is van 21 Junie in Suid-Afrika beskikbaar. 

Bronne: Daily Mail, news.com.au, The Sun, womanandhome.com, independent.co.uk, standard.co.uk, people.com