Toe dit duidelik word prins Harry het sy toekomstige vrou gevind, het mense al begin gis oor haar familie. Dalk het sy ook ’n vreemde skepsel van ’n oom, soos Catherine, die hertogin van Cambridge – ’n swartskaap met ’n drankgewoonte en rondlopermaniere. Maar wie kan deesdae nog dié man se naam onthou?

En wie gee regtig om as daar deesdae ’n ander ramp van ’n karakter is – van ’n soort wat die koninklikes nog nooit ervaar het nie . . .?

Want net toe jy dink Thomas Markle het nou genoeg mond uitgespoel en gaan dalk terugstaan en sy gekneusde ego ’n ruskans gee, duik hy weer op. En sy jongste uitbarsting is omtrent bitter.

Meghan, die hertogin van Sussex, se 74-jarige pa het in ’n nege uur lange onderhoud oor drie dae met The Mail on Sunday nie teruggehou nie – “ ’n onsamehangende, selfbejammerende getier”, het een kritikus dit genoem.

Waar hy in sy beskeie huurhuis in Rosarito, Mexiko, gesit het, het Thomas sy dogter aangeval, na die koninklike familie gekap, die paleis sleggesê en ’n prentjie van homself geskets as ’n siek ou man wat nie meer lank het om te leef nie. En hy het beloof dis nie die laaste wat die wêreld van hom sal hoor nie.

Tot Meghan, Harry en die res van die koninklike familie berou toon en hom toelaat om kontak te maak met sy “geliefde Bean” – sy troetelnaam vir sy dogter – sal hy aanhou uitpraat daaroor, dreig hy.

“Ek is baie seergemaak dat sy my heeltemal uitgesny het,” sê hy.

“Ek het altyd ’n foon- en SMS-nommer vir haar assistente by die paleis gehad, maar nadat ek ’n paar kritiese woorde gesê het oor hoe die koninklike familie Meghan verander, het hulle my afgesny.

“Ek het geen manier om my dogter te kontak nie. Dis haar verjaardag op 4 Augustus, en ek wil vir haar ’n kaartjie stuur. Maar as ek ’n verjaardagkaartjie na Kensingtonpaleis sou stuur, sal dit net een onder duisende wees. Sy sal dit waarskynlik nooit sien nie.

Daar word gesê prinses Diana het die koninklike familie verander, maar sy was nie volmaak nie. Sy was steeds een van hulle. Ek dink Meghan is die een wat hulle in die 21ste eeu sal lei, as hulle haar toelaat.

“Ek het gedink om dit per prioriteitspos te stuur, maar die paleis sal dit waarskynlik drie dae lank in water laat week om seker te maak dit ontplof nie.”

Thomas beweer die skeuring tussen hulle is sy straf omdat hy voor Meghan se troue steelfoto’s gereël en ’n troupak gaan “aanpas” het. Hy erken dit was ’n “reusefout” – maar pleks van stilbly, het hy onlangs in Good Morning Britain verskyn en sake vererger.

Hy het protokol verbreek deur politiek en die koninklike familie in dieselfde asem te bespreek toe hy sê Harry was “oop” vir Brexit en dat die prins reken die Amerikaanse president, Donald Trump, “moet ’n kans gegun word”.

Hy het aan The Mail on Sunday gesê Meghan hunker na ’n baba, maar hy vrees hy sal sterf voor hy sy kleinkind kan sien.

“Meghan was glo omgekrap omdat ek gesê het sy en Harry sal waarskynlik gou ’n baba hê. Maar sy het dit self die afgelope ses of sewe jaar gesê. Harry het dit ook gesê. Dis oukei. Maar die oomblik dat ek dit sê, is ek die uitgeworpene.

“Hoe tragies is dit – om ’n kind sy oupa te ontneem omdat ek ’n paar kritiese woorde oor die koninklike familie kwytgeraak het?”

Hy sê hy het aangebied om vir Meghan en Harry verskoning te vra oor die gereëlde foto’s, maar hulle het gesê dis nie nodig nie – dat ’n verskoning net dinge erger sal maak.

“En toe bel ’n assistent my en sê: ‘Jy het die koninklike familie beledig, maar ek kan jou help om verskoning te vra.’ Ek was geskok.”

Thomas was “diep seergemaak” deur gerugte dat hy ’n hartaanval geveins het om dit te vermy om na die koninklike troue te gaan en “gewalg” deur berigte dat daar geen rekord is van hom wat in die hospitaal opgeneem is nie.

Hulle het haar teruggevat na die 1930’s, en dis belaglik. Ja, sy wys ’n bietjie skouer hier, ’n enkel daar, maar sy is nie die Meghan wat ek al die jare ken nie.

“Hospitale is onderworpe aan wette oor privaatheid, en wanneer jy opgeneem word, kan jy sê jy wil nie jou naam op hul rekords hê nie ingeval iemand bel om te vra.”

Hy glo die koninklike familie “maak dat Meghan hom op ’n manier behandel wat Harry se ma sou verpes het.

“Daar word gesê prinses Diana het die koninklike familie verander, maar sy was nie volmaak nie. Sy was steeds een van hulle. Ek dink Meghan is die een wat hulle in die 21ste eeu sal lei, as hulle haar toelaat.”

Foto: Great Stock

Thomas gee nie om as sy opmerkings sy nuwe skoonseun nog verder van hom vervreem nie. “Ek sal oorleef as Harry nooit weer met my praat nie.”

En wat die koningin betref? Hy het “hope respek vir haar” en dink sy het “’n merkwaardige taak verrig om die koninklike familie se waardigheid in moeilike tye te handhaaf”.

Dan voeg hy by: “Maar wie gee deesdae nog om oor ’n stowwerige ou kroon? Goed, dalk is dit gepoets, maar dis ’n stokou instelling, vasgekeer in een manier van doen.” 

Hy het herhaal wat hy in ’n vorige onderhoud gesê het oor hoe hy “die spanning op Meghan se gesig kan sien” – en dat die koninklike familie sy vrygeestige dogter gesteel het.

“Hulle het haar teruggevat na die 1930’s, en dis belaglik. Ja, sy wys ’n bietjie skouer hier, ’n enkel daar, maar sy is nie die Meghan wat ek al die jare ken nie.”

Hy is woedend daaroor dat Meghan hom nooit erkenning gee nie en net praat oor haar ma, Doria Ragland, ’n maatskaplike werker wat deesdae as joga-afrigter werk. Hy en Doria is geskei toe Meghan ses jaar oud was.

Sy het die vrou geword wat sy vandag is danksy alles wat ek vir haar gedoen het.

“Sy is nou haar ma se dogter. Dit lyk asof Meghan vergeet het sy het by my gewoon tot ek en Doria geskei het. En toe trek sy op 11 weer by my in tot sy 17 was en universiteit toe is.”

Hy sê hy het vir al haar opvoeding betaal – privaat skole en later universiteit – en het opgedok vir haar duur oorsese vakansies as tiener.

Foto: Pan Media

“Ek het toe goeie jare beleef, lekker geld gemaak en kon bekostig om vir haar die beste te gee. Sy het die vrou geword wat sy vandag is danksy alles wat ek vir haar gedoen het,” sê Thomas, wat ná ’n rits swak beleggings bankrot verklaar is.

“En kry ek enige erkenning daarvoor? En ’n dankie? Sy praat nie eens nou met my nie. Hoe harteloos is dit?”

Maar dalk is die verstommendste van al sy uitlatings dié een oor sy dogter: “Wat my die josie in maak, is hoe meerderwaardig sy voorkom. Sy sou niks gewees het sonder my nie. Ek het van haar die hertogin gemaak wat sy vandag is.”

Dis ’n ope vraag hoe die paleis Thomas se uitbarstings gaan hanteer – koninklike kenners glo hulle sal hou by hul strategie van “geen kommentaar is die beste kommentaar”.

Foto: Pan Media

“Die paleis kan dalk die een of ander tyd na Thomas Markle uitreik om ’n versoening te bewerkstellig, maar sal dit slegs met Meghan se toestemming doen,” sê Katie Nicholl, skrywer van Harry: Life, Loss and Love. “Sy hou by die standpunt dat sy nie met haar pa kan praat nie uit vrees dat enigiets wat sy sê, sal uitlek.”

Maar die skrywer Ingrid Seward glo Meghan moet haar pa bel en die vete “om sy én haar onthalwe” beëindig.

“Ja, sy uitbarstings klink vyandig en onsensitief, maar dis ’n man wat nog nie eens sy skoonseun ontmoet het nie. Is dit nie sy dogter se plig om met hom in aanraking te kom nie? Ek kan nie al een wees wat hoop sy sal dit doen nie.”

Maar Ingrid is dalk regtig al een wat so voel.

Selfs Chrissy Teigen, die uitgesproke model, het haar stuiwer in die armbeurs gegooi. “Hierdie man . . . hierdie man is aaklig. Wat is fout met hom? Laat jou dogter gelukkig wees, asseblief. Dit is vernederend.” 

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, PEOPLE.COM, OK.CO.ZA, EXPRESS.CO.UK, VANITYFAIR.COM