Die 49-jarige sangeres en aktrise Jennifer Lopez het die meeste aandag getrek op die rooitapyt by die première van haar rolprent Second Act in New York, berig E Online.

Sy was in ’n asemrowende warmpienk Giambattista Valli-rok van tulle uitgevat, met ’n ellelange sleep daarby. Sy het die pragskepping met silwer Jimmy Choo-platformskoene, ’n metaalagtige Jimmy Choo-palmtas en Lorraine Schwartz-diamantoorbelle afgerond, berig Pop Sugar

Sy het soos ’n droom gelyk. Foto: Gallo Images/Getty Images.

"Ek is in die eerste plek gek oor die kleur, en dan al die drama wat daarmee gepaardgaan,” was die ma van twee se opmerking op die rooitapyt. "Dit was groot pret."

Die sangeres se kêrel, Alex Rodriguez (43), het voor die rolprentpremière op Instagram ’n grappige foto gedeel van hom en Jennifer waar hulle vir die geleentheid gereed maak.

J.Lo
Foto: Gallo Images/Getty Images

"Ek dink my Pink Panther-voorkoms het haar geïnspireer. Op pad na die @SecondActMovie-première in NYC saam met my meisie!," het hy by die foto geskryf.

J.Lo
Foto: Gallo Images/Getty Images

Jennifer se fliek Second Act word op 14 Desember hier uitgereik. Haar 10-jarige dogter, Emme, gaan ook te sien wees in die musiekvideo van haar liedjie Limitless wat op die fliek se klankbaan is. Dit is deur Sia geskryf.

"Ek het vir ’n lang tyd nee gesê en toe het ek eindelik ja gesê," het J-Lo aan die TV-aanbieder Jimmy Fallon gesê. "En ek het gesê: 'Liefie, is jy seker? Jy kan nie halfpad deur sê jy is moeg nie. Ons moet dit doen.' Sy was so wonderlik en ek is so trots."

Bronne: E Online, Pop Sugar, Entertainment Online