Die geboorte van sy seun het hom tot die besef laat kom: Iets sal moet verander. “Ek het heeltyd gedink ek moet nog oor 20 jaar hier wees vir my seuntjie. Daar is nou ’n mensie wat van my afhanklik is,” verduidelik die sanger Dewald Wasserfall (33).

Toe hy en sy vrou, Anél (31), hul eersteling in Augustus verlede jaar verwelkom, het Dewald nog ’n lywige 110 kg geweeg. Hy het skielik besef hy leef nie gesond genoeg vir sy nuwe verantwoordelikheid nie. Dit was “ ’n massiewe reality check,” sê hy.

“Ek het geweet ek neem nie die regte besluite wat oefening en eetgewoontes betref nie.”

Toe hy ’n maand of wat later na ’n video-opname van 2016 se Afrikaans Is Groot-konsert kyk en homself op die verhoog sien, het die sanger van treffers soos Jy Is die Storm finaal besluit: tot hier toe en nie ’n enkele kilogram verder nie.

Hy het voorheen 110 kg geweeg. Foto: Verskaf

“Ek het uitgefreak toe ek besef hoe sleg ek gelyk het. Dit was baie ongemaklik,” sê Dewald.

Dit was juis kort voor 2017 se Afrikaans Is Groot-konsert in November verlede jaar en Dewald het besef daar sou nie genoeg tyd wees om voor die konsert gewig te verloor nie.

“Dis nie lekker as jy ’n kleedkamer met Jay en Bobby deel en weet jy’s ’n bietjie oorgewig nie. Ek het in die hoekie weggekruip en my hemde so vinnig moontlik aangetrek.

"Ek het liewer nie kaalbolyf daar rondgeloop nie. Ek was maar skaam,” erken hy.

Maar die Dewald wat ons vandag by sy huis in Lynnwood, Pretoria, binnenooi, straal van die selfvertroue. Hy glimlag van oor tot oor, duidelik trots op sy splinternuwe lyf: vier broekgroottes kleiner en sowaar ’n blokkiesmaag ryker.

Hy het vroeër vanjaar binne 12 weke ’n volle 19,5 kg liggaamsvet afgeskud met die bekende Kaizen Wellness-gewigsverliesprogram.

Sy medesangers Jannie Moolman en Dozi het Huisgenoot al vertel hoe dié program hulle gehelp het om die kilo’s te laat wegsmelt, en dit was Jannie wat hom aangemoedig het om dieselfde eet- en oefenplan te volg.

(Van links) Jacque Visagie van Kaizen Wellness saam met Jannie Moolman, Dozi en Dewald Wasserfall. Foto: Verskaf

Op 8 Januarie vanjaar het Dewald die eerste keer ingeklok by die Pretorianer Jacque Visagie, die man agter die program, en verbete aan sy nuwe leefstyl begin werk.

Hy erken dis nie net lekker om beter te voel en lyk nie; hy geniet dit ook nou om klere te koop. Voorheen het hy in klerewinkels eers gekyk watter kledingstukke in sy grootte beskikbaar is voor hy gekyk het of hy van die hemp of broek hou.

“Ek het met opset groot klere gekoop om die vet weg te steek. En die groter groottes klere is nooit op uitverkoping nie,” kla hy. “Maar deesdae kan ek koop waarvan ek hou.”

Waar sy klerekas vroeër hoofsaaklik uit swart, grys en donker skakerings bestaan het, lyk hy vandag vrolik in sy blou-en-wit blokkieshemp en noupassende jeans.

“Jy weet mos, swart klere steek die vetrolletjies weg en laat ’n mens maerder vertoon,” verduidelik hy met ’n laggie.

Maar dit is nou iets van die verlede.

Dewald het hom met die jare afgeskeep en dis hoekom hy vet geword het, erken die sanger. Hy het al voorheen probeer gewig verloor, maar beskryf dit as halfhartige pogings.

“Op skool was ek atleties gebou. Ek het rugby gespeel en maar 85 kg geweeg.”

Ná sy skooljare in Alberton, Gauteng, het hy geleidelik uitgesit tot hy die skaal op 110 kg laat kreun het.

“ ’n Besige sosiale lewe en die leefstyl op die pad wanneer jy toer, het vir die ekstra 25 kg gesorg,” sê hy.

Dan tel hy die kitskosse wat hy verorber het op vyf vingers af: hamburgers, nóg hamburgers, pizza, aartappelskyfies en ribbetjies.

“Ek kan nie sonder ribbetjies lewe nie. Ribbetjies bestaan om ’n rede,” bieg hy oor lekker eet. Daarby het hy ’n drankie geniet – veral ná optredes en by glansgeleenthede.

“Ek het eindelik daarmee vrede gemaak en dit nooit weer reggekry om minder as 100 kg te weeg nie. Ek kon net nie gesonde eetgewoontes kweek nie.”

Met sy nuwe eetprogram het hy “besef dit is nie altyd nodig om daai tweede en derde drankie te drink nie. Een is genoeg.

“Dit is nie die maklikste ding wat ek al gedoen het nie, maar dit is ook nie die moeilikste ding nie,” vertel hy oor die program.

“Dit gaan oor jou mindset. Dit het my geleer om my lyf te ken en hoe om reg te eet en te oefen.”

Op die dae wat hy wou slaplê, het hy hom bloot herinner hoekom hy hierdie nuwe reis aangepak het: vir sy kind, vir sy selfvertroue en vir sy loopbaan.

“Wanneer ’n mens weet hoekom jy iets doen, bekommer jy jou nie meer oor die hoe nie.”

Tog was dit swaar om van sjokolade en roomys weg te bly. “En ’n bietjie whisky en wyn . . . en bier,” voeg hy by.

Hy het tydens die 12-weke-program heeltemal ophou drink.

Dewald is nou vier broekgroottes kleiner. Foto: Fani Mahuntsi

“Ironies genoeg het ek en twee pelle in dié tyd ons eie kroeg in Centurion oopgemaak. Ek moes water en koffie drink terwyl die res ’n drankie geniet. Hulle het my erg gespot.

“Maar nou kan ek ook daar eet en drink,” sê Dewald ewe trots en glimlag stout.

Al is die program agter die blad, leef hy steeds meer gedissiplineerd en hou hy “95% van die tyd” by die lesse wat hy daar geleer het.

Die oefengogga het nie laat los nadat dit hom gebyt het nie. Anél spot haar man slaap selfs deesdae in sy oefenhemde.

Dewald kap speels terug: “Dit raak mos nou koud!” Hoewel hy nie meer soggens halfvyf opstaan om te oefen nie, gaan hy steeds vyf keer per week gim toe.

Aanvanklik was sy spiere “baie seer” wanneer hy geoefen het, maar nou vertel hy triomfantelik: “Ek verlang daarna as ek nie oefen nie.”

Met ’n nuwe baba in die huis was dit nie altyd maklik om douvoordag op te staan om te oefen nie, veral wanneer dit pappa Wasserfall se beurt vir pajamadril was.

Sunday mornings...

A post shared by Dewald Wasserfall (@dewaldwasserfall) on

Maar hy het deurgedruk.

“Hy is darem ’n supermaklike baba,” skerm Anél vir hul kleinding, wie se naam die paartjie nie wil bekendmaak nie.

“Hy is makliker as gr. R-wiskunde. Hy gee regtig nie ’n oomblik se moeilikheid nie. Hy is nes sy ouers, met ander woorde, hy het nie issues nie,” beaam Dewald.

Hulle is al sewe jaar getroud en Anél het hom destyds met sy ekstra kilo’s aanvaar, vertel Dewald. “Sy het altyd gesê sy het nie juis omgegee nie.”

Maar dan glimlag Anél ondeund: “Hy lyk nou mooi.”

En ingenome voeg sy by: “Dit het my nooit gepla hoe hy lyk nie; vir my het hy altyd goed gelyk. Dit is vir my net belangrik dat hy goed voel oor homself.” 

SO HET DIE KILO’S WEGGESMELT

Hy het vyf keer per week twee uur op ’n slag geoefen, vertel Dewald. Dit was ’n kombinasie van kardio-oefeninge om hom fikser te maak en oefeninge om sy spiere te versterk.

’n Tipiese dag het soggens om halfvyf met sy oefensessie afgeskop. Met sy tuiskoms het hy vir Anél met die baba gehelp voor hy ontbyt maak: ’n sny roosterbrood met drie eiers en ’n porsie groente.

Middag- en aandete het uit maalvleis, groente en patat as koolhidraat bestaan. Wanneer die lus vir iets soets hom oorval het, het hy aan vrugte soos druiwe, lietsjies, mango’s en aarbeie gepeusel.

Alkoholiese drankies was taboe en hy moes water of koffie drink tot hy sy teikengewig bereik het.