Bo die deur van die ateljee waar hy in sy 130 jaar oue vissershuisie op Gansbaai steeds met liedjies boer, hang ’n bordjie met die woord “Vasgetroud”. 

Dit het as nommerplaat op die blou kruiwa gepryk waarmee Anton Goosen sy bruid by hul huweliksonthaal ingestoot het.

Nou, byna twee jaar later, is hy en die veel jonger, blonde Estie steeds dolverlief. 

“Ek kan nie onthou dat ons al ooit baklei het nie. Ons ondersteun mekaar. Ons hoort by mekaar,” sê die 73- jarige pa van Afrikaanse rock van die aantreklike onderwysstudent wat nou al langer as ’n dekade aan sy sy is. 

“Ons koer nie in die openbaar nie,” sê Estie, maar voeg by: “Hy sal vir my hier by die huis soentjies gee.” 

Nou, byna twee jaar later, is hy en die veel jonger, blonde Estie steeds dolverlief.

Hier agter die poeierblou mure van hul tuiste op die prentjiemooi Wes-Kaapse kusdorp kan hulle wegkom van “die nasty mense” – soos sy hulle noem – wat gedurig probeer uitvis presies hoeveel ouer Anton as sy derde vrou is. 

Hy is geïrriteerd oor mense se beheptheid met die ouderdomsverskil tussen hulle. “Ouderdom is ’n geestestoestand. My liggaam voel great,” sê hy. 

“My uitgangspunt is soos Bob Dylan sing: Forever young.” Wanneer mense aanhou karring, sal Anton sê: “Sy is 65 en lyk baie goed vir haar ouderdom.” 

Toe Estie ons by die voorhek met twee Jack Russell-honde, Mika en Tau, al blaffend om haar voete verwelkom, lyk sy boheems in ’n vloeiende sigeunerromp, haar lang hare in ’n los bolla vasgesteek. 

Anton se grys hare wat hy gewoonlik los oor sy skouers dra of in ’n poniestert vasbind, hang in ’n vlegsel. “Estie vleg dit vir spesiale geleenthede,” vertel hy. 

Vir haar het hy die liedjie Ou Blou Geroeste Kruiwa op sy jongste album, Padkos, geskryf. 

Anton stoot Estie op hul troudag in ’n nuwe kruiwa
Anton stoot Estie op hul troudag in ’n nuwe kruiwa na die onthaal. Foto: Facebook/@antongoosenliedjieboer

Waar ons by ’n tafel op die sonstoep gesels, vertel hy die storie daaragter: Kort nadat hulle begin uitgaan het, het hy Estie se tuisgemaakte sop so gemis terwyl hy op ’n toer in Gauteng was dat hy haar uit die Kaap daarheen laat vlieg het. 

“Ek het haar op die lughawe gaan haal met my ou Corsa-bakkie wat al deurgeroes was. Toe ek verskoning vra oor die gehalte van die bakkie, antwoord sy ek kon haar ook maar met ’n ou geroeste kruiwa kom haal het,” onthou hy. 

Dis dié dat hy haar op hul troudag in Junie 2017 op die buurdorp Stanford in ’n blou kruiwa gelaai het – maar toe darem ’n splinternuwe een. 

Mense vra haar soms hoe dit voel om met ’n legende getroud te wees. Hy is immers die sanger en liedjieskrywer van treffers soos Kruidjie Roer My Nie, Boy van die Suburbs, Blommetjie Gedenk aan My en Silver de Lange. 

Onlangs is sy stem ook oor die radio gehoor in die sewende Liedjieboer-rumoerreeks wat hy Maandagaande op RSG saam met Lise Swart aangebied het. Dit was ter viering van die Musiek-en-liriekbeweging van 1979. 

Hy is geïrriteerd oor mense se beheptheid met die ouderdomsverskil tussen hulle. “Ouderdom is ’n geestestoestand. My liggaam voel great,” sê hy.

Hul musikale dokumentêre reeks Musiek en Liriek 40, wat die Afrikaanse musiek van die afgelope 40 jaar vier, was ook op kunstefeeste soos die Woordfees en Innibos te sien. 

Anton was deel van die Musiek-en-liriek-beweging, wat ontstaan het as teenvoeter vir die klakkelose vertalings van oorsese liedjies wat destyds in Afrikaanse musiek die norm was. 

Die beweging het as inspirasie gedien vir alternatiewe musiek deur sangers soos Jan Blohm en die Bellvillebende met onder andere Francois van Coke. 

Ná ’n loopbaan van byna 40 jaar is hy ’n lewende legende.

Anton en Estie se paaie het 11 jaar gelede in Londen gekruis waar hy gaan optree en sy tydens ’n brugjaar as sekuriteitswag by ’n klerewinkel gewerk het. 

Toevallig het onder andere Michael Jackson en Amy Winehouse in daardie tyd daar kom inkopies doen, vertel Estie. 

In ’n Suid-Afrikaanse kuierplek, Aardvark, het hulle ná Anton se vertoning gesels en agtergekom albei het bande met Gansbaai, Estie se tuisdorp, waar Anton deur die jare gereeld vakansie gehou en ’n jaar tevore gaan nesskop het. 

Anton en Estie se paaie het 11 jaar gelede in Londen gekruis waar hy gaan optree en sy tydens ’n brugjaar as sekuriteitswag by ’n klerewinkel gewerk het.

“ ’n Maand of wat later het ons mekaar op Facebook raakgeloop. Daarna het ons aan mekaar begin skryf, en met haar terugkeer het ons gekuier. Sedertdien is ons aanmekaargeplak,” sê hy. 

Estie is as gr. R-onderwyseres gekwalifiseer en werk aan haar B.Ed.-graad deur afstandsonderrig aan die Noordwes-universiteit. Sy is ook ’n knap fotograaf en het die omslagfoto vir Anton se album Padkos geneem. 

In hul leefvertrek vol skilderye wys sy na ’n abstrakte landskap wat Anton vir haar by Lion’s Club op die dorp gekoop het toe hulle begin uitgaan het. 

“Ek het haar vir kos en kuns genooi,” verduidelik hy. Dis knus in die kombuis met sy vuurherd. Hier op die stoof maak sy vir hulle gesonde kos volgens die bantingdieet wat hulle die afgelope vier jaar volg: vleis, vis, baie slaai en bevrore bessies met dubbelroomjogurt. “Ons vermy suiker soos die pes,” sê sy. 

Hulle het albei vier jaar gelede ophou rook. “Ek het nog nooit so goed gevoel nie,” vertel Anton terwyl ons agter hom deur die huis stap waar ’n ou klavier jou in die voorportaal verwelkom. 

anton goosen
Die voorportaal van hul huis met rakke wat kreun van boeke en mure vol familie­foto’s en goue plate uit Anton se loopbaan. Foto: Misha Jordaan

Goue plate uit sy roemryke loopbaan glinster in die middagson. In een hoek van die sitkamer is ’n kontrabas uit die ou Tsjeggo-Slowakye wat hy in die laat 1960’s vir R18 op ’n veiling gekoop het. 

Teen die oorkantste muur hang ’n elektriese kitaar wat eintlik ’n CD-speler en radio is. “My skoonma het dit vir my vir Vadersdag gekoop,” vertel Anton oor Estie se ma, El-Marie Victor. 

Op die boonste verdieping van die huis is die uitsig oor die hawe verruklik. “Die see het my gesond gemaak,” sê die sanger wat ná ’n rooftog in 2007 in Gauteng ’n nuwe heenkome hier gevind het. 

Hy het 20 jaar op ’n plaas langs die Hennopsrivier gewoon waar gewapende rowers daardie nag op hom toegeslaan het. Hulle het gedreig om sy Jack Russell, Skye, te skiet as die hond nie ophou blaf nie. 

“Ek was nog nooit so geheg aan ’n dier nie. Sy was uit die hemel uit,” sê hy. 

Ná ’n loopbaan van byna 40 jaar is hy ’n lewende legende.

Hulle het albei oorleef, maar Skye is in 2014 aan nierversaking dood. Die nagmerrie-ervaring het hom laat besluit om Gansbaai toe te trek en die negatiewe in iets positiefs te verander. 

“Negatiwiteit laat ander negatiewes uitbroei,” sê hy filosofies op die sonstoep. Teen die muur agter hom hang onder meer ’n bossie bokkoms, ’n braairooster en geroeste fietse. 

Skelpienk en helderoranje bougainvilleas blom in die agtertuin met sy braaiplek. Teen die agtermuur is jin-en-jang-tekens geverf. 

Voor hy Estie ontmoet het, was Anton 20 jaar lank enkellopend. “Maar die isolasie van alleenwees is nie gesond nie. Om saam met iemand te wees bring vervulling. Dis jin en jang,” verduidelik hy. 

Die Rapportjoernalis Hanlie Retief werk nou aan ’n biografie oor hom. “Toe Hanlie my met ons verlowing vir haar rubriek nader, moes ek letterlik gaan sit en uitwerk hoeveel jaar hy ouer is as ek,” vertel Estie. 

Ná soveel jare saam skryf sy die sukses van hul verhouding toe aan goeie kommunikasie.

“Toe besluit ek, nee, sodra ek die syfer sê, is dit al waarop mense gaan fokus. Hulle gaan nie sien hoe ons dag vir dag vir mekaar omgee, goedjies doen en saamleef nie.” 

Ná soveel jare saam skryf sy die sukses van hul verhouding toe aan goeie kommunikasie. 

“Die rock ’n roll-leefstyl is glad nie so wonderlik as jy self toer en tussenin studeer en soms in weird gastehuise bly nie. Dan moet ’n mens kan kommunikeer. Julle moenie apart leef nie. Julle kan apart goed doen, maar moet lekker kan gesels oor wat in jul lewe aangaan.” 

Ja, hulle verskil soms. “Maar ons is nie onnodig lelik met mekaar nie. Hy het my nog nooit ’n rede gegee om te wonder of hy iemand anders het of nie vir my lief is nie. Hy kommunikeer met my. Dit is die klein goedjies...” 

Soos wanneer sy opstaan om vir hom oogdruppels te gaan haal. Die sonbril wat hy dra, “is nie net vir cool wees op die verhoog nie”, sê Anton. 

Die oog voel beter nadat Estie oogdruppels daarin gegooi het. En dan sê die liedjieboer met warmte in daardie heserige stem wat van hom ’n eietydse legende gemaak het: “Dankie, my bokkie.” 

  • Anton Goosen is op 26 April op die Suidoosterfees in Kaapstad saam met onder andere die Soweto String Quartet in die vertoning Anton Goosen & Vriende te sien.