Hier in Lucky en Bianca du Plessis se Johannesburgse huis staan die babakamer al gereed vir die koms van hul eersteling.

Lucky vertel trots dis ’n seuntjie – en die eerste kleinkind in sy gesin om die Du Plessis-naam voort te dra. Maar agter dié skynbaar alledaagse feit is ’n roerende verhaal van medemenslike liefde.

Want anders as sy babaseuntjie wat vandeesmaand gebore word, is Lucky nie as ’n Du Plessis gebore nie, maar met ’n ander van.

Hy is as vyfjarige seuntjie deur ’n Afrikaanse gesin van Florida, Gauteng, ingeneem en het daarna ’n Du Plessis geword.

Lucky (31), vandag ’n omroeper by die radiostasie 947, wys na die foto’s teen die eetkamermuur.

Lucky saam met sy broers, Philip (links) en Charl, en hul ma, Marikie. Foto: Leandri Kruger

Daar staan hy en Bianca (37) op hul troudag saam met pa Erik en ma Marikie du Plessis asook Lucky se vier Du Plessis-sibbes.

Elkeen straal. “Hier is ook ’n foto van ons saam met Bianca se familie,” sê Lucky en beduie daarna. Vir Lucky is Erik en Marikie sy enigste ouers. Sy biologiese ma het hy nooit geken nie; sy biologiese pa het hy laas gesien toe hy drie was.

Sy pa se voormalige vriendin het hom daarna opgepas, maar Lucky vertel sy het hom mishandel en hy het haar laas gesien toe hy 10 was.

Sy vroegste jare is deur armoede gekenmerk, maar dit het verander toe hy op vyfjarige ouderdom die eerste keer in ’n klaskamer van die Laerskool Florida instap.

“Hierdie blondekopseuntjie met blou blou oë agter in die klas het sy hand opgesteek en gesê: ‘Hei, Lucky, jy kan langs my kom sit.’

Lucky by Marikie, sy suster, Lenadri (middel), en Philip en sy vrou, Yvette. Foto: Verskaf

“Hy het Afrikaans met my gepraat en op die een of ander manier het ek verstaan en in Engels geantwoord. Ons het begin gesels en boesemvriende geword.” Dié seun, Charl du Plessis (nou 32), sou eendag amptelik sy broer word.

Van sy biologiese ma weet Lucky net dat sy hom en sy pa kort ná sy geboorte in Kimberley verlaat het. Sy biologiese pa was ’n bokser; hy onthou hoe hy as kleuter gekyk het hoe sy pa ’n slaansak laat dreun.

Hy was omtrent drie toe sy pa se meisie op ’n dag met Lucky die pad vat. Johannesburg toe, het sy vir Lucky gesê. “Ek het gevra: ‘Kom my pa ook saam?’ Sy het gesê ons sal hom later sien. Ons het Kimberley verlaat en gestap en gestap,” vertel hy.

Die volgende paar jaar se omswerwinge was ’n pynlike ontbering vir die jong seuntjie. Op ’n dorpie êrens moes die verskrikte kleuter eendag met ’n pistool teen sy kop toekyk hoe twee mans sy pa se meisie leed aandoen, vertel hy nou.

“Daarna was sy baie in haarself gekeer,” onthou Lucky.

Hulle het weer die pad gevat, maar later by ’n man ingetrek. Die seuntjie moes sien hoe sy voog deur haar nuwe mansvriend mishandel word – en later het sy hom ook begin mishandel. Op ’n dag het die man se huis afgebrand en Lucky en sy voog is weer vort.

Hy was nog nie eens vyf nie. Hy onthou die aand toe hulle die Goudstad oplaas per trein genader het. “Die liggies was die mooiste ding wat ek ooit gesien het.”

In Johannesburg het hulle in armoedige omstandighede gewoon. En toe word dit tyd vir skool toe gaan, en daar ontmoet hy vir Charl.

“Ons het net gekliek en beste vriende geword. Hy het my van als vertel, ook van rugby. En smiddae by die huis het hy sy ma oor my gaan vertel.”

’n Paar maande later het Marikie vir Lucky na Charl se sewende verjaardagpartytjie genooi. “Ek het nie eens geweet wat ’n verjaardag was nie,” vertel hy.

Lucky het nie destyds geweet hoe oud hy is nie, en sy geboortesertifikaat kon nie opgespoor word nie. Die seuntjie het ál meer tyd in die Du Plessis-woning deurgebring. Dit het sy voog, sy pa se eksmeisie, kwaad gemaak, sê hy.

“Sy het gesê ek dink ek is beter as sy en my ál slegter begin behandel,” vertel hy.

Op ’n dag het Charl sy ma vertel hy is bekommerd; Lucky was ’n week laas by die skool.

Marikie het hom gaan soek en hom glo in ’n verlate motorhuis gekry waar hy lank sonder kos moes bly. Net daar het sy besluit Lucky woon voortaan by die Du Plessis’s.

Lucky sê Marikie het met sy pa se eksmeisie kontak gemaak en hulle het ’n ruk lank kontak behou, maar die verhouding het verbrokkel.

Omdat hy nie geweet het hoe oud hy is nie, het Marikie met behulp van toetse aan sy vingerbeentjies sy ouderdom laat bepaal. Volgens die uitslae was sy geboorte tussen Julie en September 1987, sê Lucky.

“Marikie het toe die dag en datum in die middel as my verjaardag gekies: 15 Augustus.” Gou was Lucky tuis in die Du Plessis-huishouding.

“Ek het nooit soos ’n buitestander gevoel nie. Ek en Charl het ’n kamer gedeel en ons het altyd lekker gespeel of gesels tot my ma kom sê ons moet slaap.”

In die openbaar het mense hulle soms aangestaar of opmerkings gemaak, maar dit het Lucky min geskeel.

Hy het die Laerskool Florida se hoofseun geword, Cravenweekrugby gespeel en ’n beurs losgeslaan om die gesogte St. Stithians-kollege in Sandton by te woon.

As tiener is hy amptelik deur Marikie en Erik du Plessis aangeneem. Omdat niemand toe geweet het waar sy regte ouers is nie, het die egpaar Lucky se foto as deel van die aannemingsproses in koerante laat publiseer, met die geleentheid vir enigiemand om beswaar te maak.

Niemand het nie – en toe word hy ’n Du Plessis.

Oor sy hegte verhouding met Lucky sê Charl: “Nie almal kan sê dat hul boesemvriend van hul kinderdae hul jonger broer geword het nie. Al wat ek kan doen, is om hom te bewonder en trots te wees op die man wat hy geword het – nie oor waar hy vandaan kom nie, maar danksy bloed, sweet en trane. Ek is gelukkig om hom in my lewe te hê.”

Lucky saam met sy pa, Erik, wat in Januarie weens prostaatkanker oorlede is. Foto: Facebook/Luckyduplessis

Met ’n naskoolse kwalifikasie in handelsnaamkommunikasie en bemarking het Lucky in die reklamebedryf beland, waar hy Bianca, ’n produksiebestuurder, ontmoet het.

“Hy’t my ’n paar keer uitgevra. Ek het elke keer nee gesê omdat hy jonger is as ek en ons in ander lewensfases was, maar eindelik het ek ingestem,” vertel sy.

Sy kyk liefdevol na haar man en sê: “Hy’s snaaks en mense word na hom aangetrek.” Hulle het ná ’n paar maande mekaar se familie ontmoet. Ná nog drie jaar saam het Lucky – toe reeds in die radiobedryf – die jawoord gevra.

In Desember 2016 is hulle by Hartbeespoortdam getroud. En met die koms van hul baba eersdaags staan hulle voor ’n nuwe hoofstuk.

“My seun sal die eerste Du Plessis wees,” sê Lucky. “My broer het dogters en my susters het seuns, maar hulle verloor natuurlik die van.” Bianca beaam: “Omdat Lucky aangeneem is, is dit vir ons spesiaal om ’n klein iemand te hê wat van ons albei deel is.”

Lucky by Lebogang Seboka en Greg Aldridge, sy kollegas by die radiostasie 947. Foto: Twitter/@Gregandluncky

Dan voeg Lucky by: “Dis net vir my hartseer dat my pa nie meer lewe om die outjie te ontmoet nie.” Erik is in Januarie weens prostaatkanker oorlede, maar die paar kon hom voor sy dood vertel hulle verwag.

“Sy pa het opgestaan, so swak soos hy was, sy arms om Lucky gesit en gesê: ‘Sien jy hoekom ek jou aangeneem het, my seun? Sodat jy die Du Plessis-naam kan laat voortleef,’ ” sê Bianca.

Die twee glimlag vir mekaar. “My lewe kon heeltemal anders verloop het,” sê Lucky.

“Ek sê altyd vir mense ek het ’n tweede kans gekry. Ek weet dit klink soetsappig, maar ek was in my lewe nog altyd op die regte tyd op die regte plek.”