Sy was ’n Mej. Suid-Afrika wat die oë laat rek, die monde laat oophang en die tonge laat klap het.

Met daardie groot bos wilde krulle en byna gewaagde avontuurlus was Michelle Bruce drie dekades gelede allermins net ’n mooi gesig.

Daar was die keer toe sy sommer al haar klere laat waai het vir promosiefoto’s vir sykouse – toe verskyn sy in ’n Sondagkoerant met net ’n ellelange tou van geknoopte sykouse om daardie wilgerlatlyfie.

En die dag toe sy opdrag kry om stadig met ’n sportmotor om die Kyalami-renbaan te ry, net om sowaar voet in die hoek te sit. Dit alles omdat sy op 22 net haarself wou wees en nie in ’n boksie geplaas wou word nie, vertel Michelle, nou mev. Mountain.

Dié vryhede wat sy haar gegun het, het natuurlik nie sonder ’n prys gekom nie. Sy onthou hoe Bloemfontein haar ná die sykousvoorval verbied het om die res van haar kroningsjaar in die Rosestad op te tree.

“Daar was groot moeilikheid,” sê sy en lag. “Dit was glad nie aanvaarbaar vir ’n Mej. Suid-Afrika om haar so te gedra nie.”

Die pragtige vrou wat ons ontmoet op die strand in Kampsbaai, Kaapstad, haar tuisstad, lyk anders as die donkerkop wat Suid-Afrika in 1989 soos ’n vars bries getref het.

Haar vriendinne het haar aangemoedig om vir die Mej. SA-kompetisie in te skryf. Foto: Sun International

Sy het steeds ’n vlekkelose vel, spierwit tande en ’n lang bos hare, maar die haredos is al jare lank ’n natuurlike silwergrys kleur en hang deesdae reguit en sag om haar skouers. Maar moenie dat dié elegante voorkoms jou flous nie.

Al lyk sy nie meer soos die jong skoonheidskoningin wat bottels vol haarprodukte in haar kapsel ingeklits, gespuit en gekam het nie, kom jy gou agter dieselfde vuur brand nog in haar.

Nadat sy jare lank uit die kollig was, het Michelle (51) sowat ’n jaar en ’n half gelede besluit om haar passies te herontdek.

Sy het haar onderneming wat skoonheidsprodukte in- en uitvoer, prysgegee sodat sy na haar eerste liefde, modelwerk, kan terugkeer. En voor sy haar oë kon uitvee, het sy vir oudisies in die rolprentbedryf gegaan.

Vandag het sy al in sewe kortflieks en talle advertensies verskyn.

Een van die kortflieks, Booked, is vanjaar op die bekende Cannes-filmfees in Frankryk vertoon en ’n ander een, Disowned, was op die kortlys vir die 48 Hour Film Project, ’n internasionale kortfliekwedstryd.

Sy wil boonop nou haar vlerke sprei en modelwerk in Europa doen. En as geleenthede in die rolprentbedryf in Amerika oor haar pad kom, sal sy dit ook aangryp.

“Dit was nie ’n maklike besluit om die maatskappy toe te maak nie, maar ek het selfondersoek gedoen en myself afgevra wat my gelukkig maak en wat ek nog alles wil bereik voor ek doodgaan. Ek het modelwerk gemis, want ek is dol daaroor om op die verhoog te wees. En toe ek met die modelwerk begin, het toneelspel outomaties gevolg. “Dit voel of ek weer 18 jaar oud is,” sê Michelle stralend.

“Dis een van my opwindendste, angswekkendste avonture. Ek wil so graag hê almal moet hul passie in die lewe ontdek, want jy wil oor niks spyt wees nie.”

Haar figuur is steeds fyntjies, en teen die laatmiddagson komplementeer haar noupassende swart broek en kantbloes haar op al die regte plekke.

“Ek weeg al jare lank presies dieselfde,” verklap Michelle.

“Behalwe toe ek kinders gehad het. Toe het ek opgeblaas, maar ek weeg nog dieselfde as destyds.” Michelle en die Kaapse sakeman John Mountain (59) is nou 23 jaar getroud en die trotse ouers van Cody (22) en Romy (19).

Michelle saam met haar dogter, Romy, en seun, Cody. Hulle is albei akteurs. Foto's: Verskaf en Martin Kluge

Haar seun en dogter is ook albei akteurs en het toneelspeelkursusse voltooi. Sy huiwer nie om foto’s van haar kinders te deel nie, maar haar man verkies om uit die kollig te bly.

Michelle glo in ’n gesonde leefstyl en eet net organiese kos. Sy oefen minstens vier keer per week in die gimnasium of doen ’n ballet- of Sweat 1000-oefenklas en drink glad nie alkohol nie.

Dié dissipline is al vroeg gevestig, want sy doen van jongs af ballet. Sy het haar skoolloopbaan aan ’n kunsskool in Johannesburg begin, maar in gr. 9 het sy na ’n gewone akademiese skool toe gegaan omdat sy graag wetenskap wou neem.

“Ek wou ’n ruimtevaarder word, maar destyds was daar nie eintlik ruimteprogramme in Suid-Afrika nie,” vertel sy.

“As tiener was dit my droom om die eerste ballerina op die maan te wees.”

Dit was groot drome vir ’n klein dogtertjie, en hoewel sy nooit op die maan gaan dans het nie, was dit haar danspassies op die Mej. Suid-Afrika-verhoog wat die beoordelaars verwonderd gelaat het.

Michelle het van 16 af ook moderne danse geneem en ná skool modelwerk oorsee gedoen. Die Mej. Suid-Afrika-choreograwe het dadelik haar talent raakgesien.

“Ek het hierdie Barbarelladans in swart leer gedoen. My hare het woes gestaan. Dit was baie opwindend, want al die ander meisies se danse was baie rustiger. Ek het oor die agtergronddansers se rug gerol en hulle het my opgelig.”

Sy is tydens die kompetisie ook as Mej. Persoonlikheid aangewys, maar het nooit gedink sy sou dié titel wen nie.

Michelle sê sy het nog altyd daarvan gehou om grense te verskuif soos toe sy in haar kroningsjaar in geknoopte sykouse poseer het. Foto's: Misha Jordaan en verskaf

“Dit was vir my ’n moeilike jaar,” erken Michelle oor haar Mej. SA-pligte. “Jy is onder geweldige druk om baie geleenthede by te woon en jy moet altyd vol energie en op jou beste wees.

Destyds was daar nog nie sosiale media nie; daarom was die kompetisie vir almal ’n baie groot ding.

“Ek het soms tot vyf afsprake op ’n dag gehad. ’n Tipiese dag het begin met ’n ontbyt, dan ’n oggendtee. Oor middagete het jy ’n winkelsentrum geopen, die middag ’n radio-onderhoud gegee, en die aand moes jy ’n fliekvertoning bywoon.

“Dan moes ek tussendeur nog uitrustings ruil, iets probeer eet, my ouers vra om my iewers heen te neem of op ’n vliegtuig na Kaapstad, Durban of elders in die land klim.

“Uitputtend is nie die woord nie. Ek het op ’n punt gekom waar ek vir die organiseerders gesê het ek kan nie die pas volhou nie. Hulle het dinge afgeskaal na nie meer as drie afsprake per dag nie, maar teen die einde van daardie jaar was ek heeltemal uitgeput.”

Wanneer sy vandag terugdink, besef sy dat sy dalk moeilik was om te hanteer, erken Michelle.

“ ’n Bietjie soos ’n jack-in-the-box. Hulle het my probeer terugdruk, maar dan spring ek weer uit,” vertel sy.

“Ek het in Mei vanjaar by die Mej. Suid-Afrika-kompetisie se 60-jaarreünie in Johannesburg een van my voormalige bestuurders raakgeloop. En ek het vir haar jammer gesê dat ek haar soveel moeilikheid gegee het.”

Ná haar jaar as Mej. Suid-Afrika was sy ’n kort rukkie getroud met die prokureur Ian Stern, met wie sy vandag nog ’n goeie verhouding het.

Dit was saam met hom dat sy betrokke geraak het by ’n onderneming wat kondome versprei en MIV-bewusmaking doen.

’n Foto van haar wat ’n uitgerekte kondoom vashou, is in die vroeë 1990’s in die koerant gepubliseer en dit het die eertydse skoonheidskoningin weer onder skerp kritiek laat deurloop.

Sy weet hulle was daardie tyd eintlik liberaal, maar sê dit het haar darem nog ’n titel besorg: die Kondoomkoningin!

Nadat haar huwelik met Ian verbrokkel het, was sy ’n ruk in ’n verhouding met die voormalige leier van die DA Tony Leon. Maar hul paaie het ook geskei. Sy was in haar laat 20’s toe sy Kaap toe trek, en hier het sy John ontmoet. 

 

Michelle beskryf haarself as iemand wat eerlik, meelewend, lojaal en nederig is. Haar lewensfilosofie is om ander met respek te behandel, sê sy.

“Niemand het die reg om iemand anders seer te maak nie; en ons moet mekaar met meer goedheid hanteer.”

Dié dinge is vir haar veral belangrik omdat sy ook al ’n donker kant van die lewe ervaar het. Voor sy as Mej. Suid-Afrika gekroon is, was sy in ’n verhouding met ’n man wat haar mishandel het.

“Dit het my lank geneem om te verwerk en ek het steeds die emosionele letsels. Dit is waarom die #MeToo-beweging my so diep geraak het. Dit het baie herinnerings van mishandeling by my opgeroep, maar dis so bemoedigend om eindelik die golf van vrouestemme wat oor mishandeling praat oor die wêreld heen te hoor opklink. Daar is nie verniet ’n sêding nie: Mos groei nie in die donker nie en jy kan nie spoke in die lig sien nie.”