Hallo, wêreld, ontmoet vir Miles

Chrissy Teigen (32) het onlangs die eerste foto van haar en John Legend (39) se pasgebore seun, Miles Theodore Stephens, gedeel.

“Hallo, wêreld! Dit is Miles Theodore Stephens!” het die aanbieder van Lip Sync Battle by die foto geskryf. “Ons verdiep ons in sy klein piepgeluidjies en gevroetel. Ons huis voel deur liefde oorweldig.”

Die paartjie is ook die ouers van ’n oulike tweejarige dogtertjie, Luna.  

Veels geluk!

Die Empire-aktrise Taraji P. Henson het onlangs haar verlowing aan die voetbalspeler Kelvin Hayden (34) aangekondig. Sy het ’n foto van haar diamantring gedeel en daarby geskryf: “Ek het ja gesê, julle!”

Taraji (47) het ’n seun, Marcel (24), by haar hoërskoolliefde, William Johnson.

In haar memoires, Around the Way Girl, wat in 2016 uitgereik is, het sy erken William, wat in 2003 dood is, het haar mishandel.

Goeie gene

Hul witwarm nuwe kletsprogram is nie al ding waaroor Jada Pinkett Smith (46) se ma, Adrienne Banfield-Jones (64), kan spog nie. Sy het onlangs ook op Instagram haar gebeitelde maagspiere in ’n bikinifoto gewys ’n dag voor ’n nuwe episode van haar Facebook Watch-reeks, Red Table Talk, uitgesaai is.

Jada Pinkett Smith (46).

Die ouma en gimfanatikus verskyn tans in die reeks Red Table Talk saam met haar dogter en kleindogter, Willow Smith (17).

Kyk hoe groot is Apple!

Gwyneth Paltrow (45) het onlangs ’n foto van haar ewebeelddogter, Apple Martin, op Instagram geplaas om haar geluk te wens met haar 14de verjaardag.

Die aktrise van Avengers: Infinity War het geskryf: “Jy is die lewenslustigste, skreeusnaaksste en pragtigste (binne en buite) jong vrou wat oral ronddwarrel.

Gwyneth saam met haar eks Chris Martin, Apple en hul seun, Moses (12).

"Jy is ’n wonderlike denker en ongelooflike liedjieskrywer.”