Charné Hugo
’n Gelukkige gesin: van links is Ammie, Charné en haar pa, Johan. Foto: Facebook

Hulle vra net gebede, sê die familie van die Ons Lieflinge-sangeres, Charné Hugo, wie se pa, Johan, die afgelope naweek ’n noodoperasie in ’n Wes-Kaapse hospitaal moes ondergaan nadat hy vermoedelik twee hartaanvalle gehad het.

Al was dit teen Maandag steeds nie bekend hoe lank Johan (65) nog in die hospitaal behandel sou word nie, het dokters Sondag aan die familie bevestig dat sy toestand bestendig is, vertel Charné se broer, Sven, aan Huisgenoot.

“In hierdie stadium gaan dit goed met hom,” sê Sven. “Hy is stabiel en sterk goed aan. Dokters glo hy sal volkome herstel. Vir nou is dit vir ons belangrik om fyn te luister na wat hulle sê en om te doen presies wat nodig is vir hom om weer aan te sterk.” 

Charné Hugo
Die Lieflinge-sangeres Charné Hugo se pa, Johan, moes ’n noodoperasie ondergaan nadat hy die naweek twee hartaanvalle gehad het. Foto: Facebook

Die sangeres se pa is Vrydagaand na ’n hospitaal gehaas. Hy moes kort daarna ’n noodoperasie ondergaan waartydens twee stente in sy hart geplaas is.

Die familie wou nie Maandag onmiddellik verder oor sy gesondheid uitbrei nie. 

“Daar is nog te min inligting en te veel onsekerheid,” sê Sven. “Maar ons is tevrede met sy vordering. As alles goed verloop – soos dokters voorspel – sal hy binnekort ontslaan word.” 

Die Lieflinge: Charné saam met haar duetmaat, die sanger Rudi Claase. Foto: Verskaf
Charné Hugo
Ammie saam met Johan. Foto: Facebook

Oor die naweek het Charné se ma, Ammie, familie en vriende bedank vir hul boodskappe van gebede en bemoediging. Sy het ook in ’n inskrywing in die sosiale media gesê dit gaan goed met Johan nadat hy twee hartaanvalle oorleef het.

“Hou asseblief vir Johan in jul gebede,” het sy gevra. “Ons bid vir ’n spoedige herstel.” 

Maandag het Charné se duetmaat, die sanger Rudi Claase, ook gebede en ondersteuning vir die Hugo-familie gevra.

“Ek vra dat julle vandag ’n gebedjie opstuur vir my liefling, Charné, asook Ammie en Johan Hugo. Hulle krag en geloof is die afgelope week erg getoets en daar lê nog baie dinge voor. Lief vir jou, Nétjie . . . Ek dink aan jou.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe