Dis nou die een ding waaroor ’n mens nie sou verwag sy is onseker nie – sy is dan pas as Suid-Afrika se heel mooiste onder al die mooistes gekroon.

Maar Tamaryn Green het min selfvertroue wat haar voorkoms betref. Dis moeilik om te glo, maar haar skoonheid is iets waarmee sy moes leer saamleef, sê sy, want sy het altyd gevoel mense veroordeel haar as gevolg daarvan.

“In my grootwordjare het ek altyd gevoel ek moet myself aan mense bewys, want jy kan nie by ’n vertrek instap en verwag mense moet tot in jou hart kan kyk nie,” vertel sy die oggend nadat sy as ons nuwe Mej. Suid-Afrika aangewys is.

As jy ’n sekere manier voorkom, dink mense sommer maklik jy’s arrogant en verwaand en dit skep ’n versperring tussen jou en hulle, verduidelik sy. Maar sy kla nie.

Die 23-jarige mediese student is in die wolke ná die glansaand in die Sun Arena in Time Square, Pretoria, waar die kroon op haar pragtige kop geplaas is.

Tydens ons onderhoud het Tamaryn weer die kroon op haar donkerkop. Sy is al van vieruur die oggend op om onderhoude met radio- en TV-stasies te voer, maar die vorige aand se gloed is steeds daar – geen sprake van moegheid op haar lieflike gesig nie.

Tamaryn Green van die Paarl in die Wes-Kaap is pas as Mej. Suid-Afrika gekroon en sien uit na die avonture wat dit vanjaar sal bring. Foto: Lubabalo Lesolle

“Dit was nog altyd my droom,” vertel sy. “Toe ek jonger was, het ek altyd na die Mej. Suid-Afrika-kompetisie gekyk en al die pragtige vroue vol selfvertroue gesien en ek wou ook so wees.

“Ek wou nog altyd my gesin trots maak.” En dis presies wat sy gedoen het.

Pa David (60), ma Ellirene (53), suster Lauren (26) en kleinboet Dawson (20) was almal in die gehoor om haar goue oomblik te beleef en agterna het sy en haar ma agter die verhoog mekaar omhels en gehuil.

Nou borrel sy: “Dit was alles net te wonderlik.”

Skoonheidskompetisies was nog altyd een van Tamaryn se passies.

As leerder aan die Sekondêre Skool New Orleans in die Paarl het sy die Mej. New Orleans-titel verower. Sy was ook die eerste prinses in die Mej. Drakenstein-kompetisie wat die munisipaliteit aangebied het.

Later het Mej. Landbou gevolg. “Ek het daarvan gehou om in die openbaar te praat en het maklik leiding geneem,” vertel sy.

Tamaryn se leierskapsvaardighede het juis daartoe gelei dat sy eers as onderhoofmeisie van die Laerskool William Lloyd en later hoofmeisie van die Sekondêre Skool New Orleans aangewys is.

Sy het akademies goed gevaar en ná skool by die Universiteit van Kaapstad ingeskryf om medies te studeer.

Sy is nou in haar finale jaar, woon nog in die koshuis en het tot nou toe daarvan gehou om naweke huis toe te gaan om flieks te kyk en haar ma se lekker Sondagkos te eet.

Studie is vir die hele gesin belangrik. Albei haar ouers werk in die opvoedkunde – haar ma as ’n onderwyseres en haar pa as ’n leerplanraadgewer.

Tamaryn sê sy kom van ’n “gewone werkersklasgesin” en betaal haar studie met beurse en studielenings.

Dit verras haar altyd as mense hulle teen haar voorkoms blindstaar en dink sy is anders as hulle.

“Ek het begin besef dis nie reg nie; dis mos hoe ek gebore is – ek moes dit leer omarm en gebruik.”

Daarom het sy as skoolmeisie modelwerk as ’n stokperdjie begin doen.

“Dit was ’n manier om sakgeld te verdien en ’n bietjie van die boeke weg te kom.

“My selfvertroue het gegroei en ek het besef mense reageer positief wanneer hulle foto’s van my in tydskrifte sien.

“My gemeenskap het SMS’e gestuur om te laat weet hulle is trots ek vaar so goed.”

Vriende en kennisse spreek haar naam op Afrikaans uit. Dit was ook al wat sy gehoor het toe sy gekroon is.

Dit was haar twee beste vriende, Hybre Marinus en Robyn Solomons, wat saam met haar gesin in die gehoor was en haar naam uitgeskree het: “Tamaryn! Tamaryn!”

So opgewonde soos wat sy is om Mej. Suid-Afrika te wees, so bang is sy “ek verloor myself. Ek hoop ek sal dwarsdeur my jaar nederig bly en nooit vergeet waar ek vandaan kom nie.”

Sy word geïnspireer deur Rolene Strauss, die voormalige Mej. Suid-Afrika wat in 2014 ook as Mej. Wêreld gekroon is.

Rolene was ook nog met haar mediese studie besig en het na haar jaar as Mej. Wêreld na die universiteit teruggekeer om haar studie te voltooi.

“Ek wou eers my studie voltooi, maar toe bewys sy ’n mens kan albei doen.”

Sy gaan later vanjaar aan die Mej. Heelal-kompetisie deelneem en hoop sy kom ook met daardie titel huis toe.

Waar en wanneer die kompetisie gehou sal word, moet nog bevestig word. Demi-Leigh Nel-Peters, die huidige Mej. Heelal, laat groot skoene wat gevul moet word, maar Tamaryn glo sy sal dit kan vol staan.

Vol selfvertroue verklaar sy: “Daar’s geen rede waarom Mej. Suid-Afrika nie weer kan wen nie.” 

Ons twee mooistes: Mej. Wêreld en Mej. Heelal?

Daar is pas vir die eerste keer twee wenners in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie aangewys: een wat later vanjaar aan die Mej. Heelal-kompetisie gaan deelneem (Tamaryn Green) en die ander wat Suid-Afrika in die Mej. Wêreld-kompetisie sal verteenwoordig (Thulisa Keyi).

Die Mej. Heelal-kompetisie is ’n Amerikaanse kompetisie; die wenner kry die geleentheid om die sakewêreld te verken. Mej. Wêreld is in Londen gebaseer en die klem is hoofsaaklik op liefdadigheidswerk. Uit dié twee is een Mej. Suid-Afrika, Tamaryn, aangewys.

Thulisa Keyi is as Mej. Wêreld Suid-Afrika aangewys om Suid-Afrika later vanjaar in dié kompetisie te verteenwoordig. Tamaryn gaan aan die Mej. Heelal-kompetisie deelneem. Foto: Lubabalo Lesolle

Ons ander mooiste

Die 26-jarige skoonheid Thulisa Keyi van Mdantsane buite Oos-Londen is aangewys as ons skoonheid wat aan die Mej. Wêreld-kompetisie sal deelneem.

Sy het nog nooit voorheen aan ’n skoonheidskompetisie deelgeneem nie en moet haarself steeds knyp om seker te maak sy droom nie.

“Om op ’n verhoog te stap as Mej. Suid-Afrika is net ’n droom, iets wat jy van ver af sien. Dis vir daardie mense bedoel en nie vir ons nie.

“Maar as meisies van Mdantsane my nou sien, sal hulle die mag van moontlikhede sien. Hulle sal dink, as sy dit kan doen, waarom kan ek nie?”

Thulisa het aan die Universiteit van Kaapstad studeer en woon nou in Fourways, Johannesburg. Sy is besig met haar klerkskap by een van die vier grootste ouditeursfirmas in die land.

Haar oorwinning was vir haar bittersoet, want toe sy net 17 was, is haar pa op hul tuisdorp vermoor.

“Ek het nog nooit eintlik kans gehad om afsluiting te kry nie, want ek moes net op my studie konsentreer. Maar op hierdie punt van my lewe kan ek nadink en sê, ja, dit het met my gebeur, maar ek kan my ervaring gebruik om my gemeenskap te help en te wys ’n mens kan hartseer en swaarkry deur opvoeding oorbrug.”

Tamaryn by haar ouers, ­Ellirene en ­David. Sy is in die wolke daaroor dat sy hulle kon trots maak. Foto: Verskaf

Flitsvrae aan Tamaryn

Grootste modeflater?

Toe kort toppies in die mode was en ek my hele maag gewys het. Ek skaam my dood.

Wat is vreemd aan jou?

Ek eet nie sjokolade nie en het ’n fobie oor ore en tone. 

As jy as iemand anders kon terugkom, wie sou dit wees?

Seker Nelson Mandela en ek sou langer president wees.

Watter reuke herinner jou die meeste aan jou ouerhuis?

My ma se vars gebakte brood.

Een ding waarsonder jy nooit uit die huis gaan nie?

My selfoon.

Hoë hakke, plat skoentjies, tekkies of plakkies?

Tekkies.

Jou trooskos?

Springmielies.