Klein-klein akteur

Hy het op 11 toneelklasse begin neem. Op 13 het hy sy groot deurbraak gemaak in die rol van die sanger Johnny Cash se ouer broer, Jack, in die biografiese fliek Walk the Line, teenoor Reese Witherspoon.

Pa se klong

Sy pa, John Mark Till, ’n luitenant-kolonel in die Amerikaanse weermag, is sy grootste inspirasie. By ’n kiekie wat hy van sy pa op Instagram gedeel het, skryf hy: ‘My pa is die coolste ou wat ek ken’  

Hartebreker

Lyk hy bekend? Die sexy ou was te sien in die popsangeres Taylor Swift (28) se musiekvideo van You Belong with Me.

Die twee het glo selfs kortstondig uitgegaan. Onder sy ekse is ook sy Hannah Montana-medester Miley Cyrus (25). Maar goeie nuus: Hy’s tans ’n enkelloper.

Videospeletjiemal

Hy’s nes baie tieners dol oor videospeletjies.

"Ek is ’n groot videospeletjie-geesdriftige, soms ’n bietjie te veel. Ek maak myself in my kamer toe om speletjies te speel. Dan skeep ek my vriende heeldag af."

Inspirasie

Hy is ’n aanhanger van Hollywood-legendes soos Marlon Brando, Heath Ledger, Johnny Depp en Kate Beckinsale, en sal graag saam met akteurs soos Will Ferrell, Matt Damon en Brad Pitt wil werk.

Aksieheld

Lucas (27) is tans op e.tv te sien as die jong katoeterkoning MacGyver in die moderne weergawe van dié aksiereeks van die 1980’s. Kleintyd was sy pa se bynaam MacGyver omdat hy so gereeld sy skoolprojekte wou doen, vertel Lucas.

  • Kyk MacGyver Vrydae om 20:30 op e.tv.

Bronne: IMDB.com, YouTube, CBS.com