Die tweeling word tans deur Vince (Jacques Blignaut) en Aggie (Nobuhle Mimi Mahlasela) versorg.

Al is die jong akteurs wat die rolle van die tweeling Eddie en Vee vertolk albei leerders aan die Laerskool Wonderboom in Pretoria – El-Kody is in gr. 3 en Zoey in gr. 5 – het hulle mekaar die eerste keer op die stel ontmoet.

“Ons is nou baie goeie maatjies en bring soveel tyd moontlik saam deur. Hy is die broertjie wat ek graag wou hê,” vertel Zoey.

“Ons is amper soos regte boetie en sussie, die stryery ingesluit,” laat El-Kody hoor.

Dis nie die eerste keer dat El-Kody in Hillside ’n draai maak nie. Hy het in Desember 2017 vlugtig in die sepie verskyn as die jonger weergawe van Justin (Dann-Jaques Mouton).

Dié keer hoop hy dat hy langer in die Laan kan kuier.


Vince (Jacques Blignaut) en Aggie (Nobuhle Mimi Ma
Vince (Jacques Blignaut) en Aggie (Nobuhle Mimi Mahlasela) het onlangs die tweeling ingeneem. Foto: 7de Laan

Op haar beurt vertel Zoey dat sy al van baie jonk af oor dié sepierol gedroom het.

“Dit was ’n droom wat waar geword het. Ek het reeds in gr. 2 gesê ek sal eendag in 7de Laan speel en toe gebeur dit vir my.”

Die jongelinge het ook lekker gekliek met die 7de Laners Nazli George (Ivy), Duncan Johnson (Marvin) en Clint Aplon (Romeo), wat onderskeidelik hul ouers en broer in die sepie speel. Vir Zoey voel dit soos haar “tweede familie”.

El-Kody is mal oor sy TV-ma, Ivy (Nazli George), e
El-Kody is mal oor sy TV-ma, Ivy (Nazli George), en broer, Romeo (Clint Aplon). “Ons voel soos ’n regte familie,” sê hy. Foto: 7de Laan/Verskaf

“Daar is altyd iets lekker wat Clint uitdink vir ons om saam te doen. Hy is altyd vol pret idees,” voeg El-Kody by.

MEER OOR ZOEY

Zoey Volkwyn. Foto: 7de Laan/Verskaf
Zoey Volkwyn. Foto: 7de Laan/Verskaf

  • Sy is in George in die Wes-Kaap gebore en is deesdae ’n Pretorianer.
  • Haar rol as Vee is haar eerste TV-rol.
  • Dit was vir haar moeilik om tydens die inperking terug te keer stel toe. “Veral die social distancing, want ek hou van drukkies uitdeel. En ons moes maskers dra en gereeld handjies sanitize.

MEER OOR EL-KODY

El-Kody Langeveldt. Foto: 7de Laan/Verskaf
El-Kody Langeveldt. Foto: 7de Laan/Verskaf

  • Hy is op die Oos-Kaapse dorp Fort Beaufort gebore, maar woon nou in Pretoria.
  • El-Kody hou van skaatsplanktoertjies doen. “My ouers is nie baie ingenome daarmee nie, maar dis óf dit óf met slange teel,” vertel hy.
  • Hy skiet ook tans aan ’n nuwe M-Net-reeks, Labour of Love.

Sien dubbel

El-Kody se ouboet, Jiphtael Langeveldt (14), is ook ’n 7de Laner. Hy speel Vince (Jacques Blignaut) se seun, Christopher.

Jiphtael vertolk die rol van Vince se seun, Christ
Jiphtael vertolk die rol van Vince se seun, Christopher. Foto: 7de Laan

“Ek is baie opgewonde daaroor om in my boetie se voetspore te volg. Ek leer baie by hom,” sê El-Kody.

El-Kody se ouboet, Jiphtael Langeveldt (14), is oo
El-Kody se ouboet, Jiphtael Langeveldt (14), is ook ’n 7de Laner. Foto: Verskaf