Hy is die rykste man op Forbes se lys van die rykes. En van Dinsdag af ook een van die rykste mense in die geskiedenis, berig CNN

Volgens die Britse nuuspublikasie The Guardian was nog net een mens meer as ’n $100 biljoen werd – Bill Gates, stigter van Microsoft, in 1999.

Die Amerikaner Jeff Bezos, uitvoerende hoof van Amazon.com, se netto waarde het die afgelope week ’n rekordhoogte van $105,1 biljoen bereik – meer as R1 300 biljoen – nadat Amazon se aandeelprys met 1,4% gestyg het.

En hiermee het Jeff, stigter van die e-handelsreus, stof in die oë van Bill Gates geskop, wat nou tweede op die ranglys van die wêreld se rykstes is.

Tog, berig The Guardian, as die inflasiekoers in ag geneem word, sou Andrew Carnegie, John D. Rockefeller of Henry Ford die titel vir die rykste mens in die geskiedenis kon opraap.

Bill Gates sou ook glo steeds veel ryker as Jeff gewees het, as hy nie so baie van sy aandele aan die Bill & Melinda Gates-stigting geskenk het nie.

Jeff het Amazon.com in 1995 as 'n aanlyn boekwinkel begin en sedertdien het dit gegroei en verkoop deesdae 'n groot verskeidenheid produkte, van elektroniese toerusting tot juwele en speelgoed.

Die beginjare van Amazon.com. Foto: Skermgreep/ Jeff Bezos & Amazon - An Inside Look (1999)

Die res van die vyf rykstes op Forbes se lys: 

In die derde plek is Warren Buffet. Die 87-jarige Amerikaner is $88,2 biljoen werd. Hy is die voorsitter en uitvoerende hoof van die houermaatskappy Berkshire Hathaway.

Die vierde rykste mens is Mark Zuckerberg, die stigter en uitvoerende hoof van Facebook. Hy is volgens Forbes se lys van die rykstes $75,7 biljoen werd.

Vyfde is die Spanjaard Amancio Ortega, die rykste mens in Europa en die rykste kleinhandelaar ter wêreld. Hy is ’n stigterslid van die Inditex-modegroep, wat die bekende klerereus Zara besit.