DIS DIE WARE BEÁTA

Die 23-jarige aktrise het in die Paarl in die Boland grootgeword. 

Nadat haar ouers, Martin (57), ’n prokureur, en ma, Melvina (49), ’n projekbestuurder, in 2004 geskei is, het Beáta en haar suster Tshidi, wat ’n jaar ouer as sy is, saam met hul ma op Gordonsbaai gaan nesskop. 

Beáta het uitgeblink op skool en op die sportveld. 

Nadat sy in 2014 aan die Hoërskool Hottentots Holland op Somerset-Wes gematrikuleer het, het sy drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer en onlangs haar honneursgraad in produksiebestuur en vervaardiging verwerf. 

PAD NA DIE KASSIE

beáta bena green,aktrise,arendsvlei
Foto: Verskaf

As kind het sy altyd gedink sy kan enigiets word. 

“Daar was ’n paar belangstellings, maar die kunste en aktrise wees was beslis van die sterkstes,” sê sy.

Die rol van Kim in Arendsvlei is haar eerste grote. Maar die oudisie wat sy in Mei verlede jaar afgelê het, was eintlik vir die rol van die hoofmeisie, Debra. 

“Ek het een oggend ná my filosofie­klas Kaapstad toe gejaag om die oudisie af te lê,” sê Beáta. 

Sy is daarna terug Stellenbosch toe vir ’n ander klas en het ’n paar weke lank niks gehoor nie. 

“My agent het my toe skielik een middag gebel en gesê ek het ’n ander rol losgeslaan, en dié karakter se naam is Kim.”

Die rol van Debra het aan die oud-7de Laner Kay Smith gegaan. 

Beáta het sommer gou aangepas op haar eerste dag op die stel. 

“Ek onthou hoe vriendelik almal was en hoe tuis ek in die omgewing gevoel het. Ek het toe besef ek is in die regte bedryf.”

EK’S G’N KIM

beáta bena green,aktrise,arendsvlei
Beáta as Kim in Arendsvlei. Foto: Verskaf

Sy en Kim verskil soos dag en nag, sê Beáta. 

“Ek dink die enigste ding wat ons gemeen het, is ambisie. Anders as Kim was ek nooit op skool versot op seuns nie. Ek was ook nie so arrogant en verwaand nie.” 

Beáta was voorbeeldig verby; nes Debra, die karakter waarvoor sy aanvanklik ’n oudisie afgelê het, was sy in matriek haar skool se hoofmeisie (sy’t oorgeneem by haar ouer sus Tshidi) en voorsitter van die leerlingraad. 

“Ek was baie voorbeeldig, ’n aktiewe sportvrou en betrokke by baie buitemuurse aktiwiteite en programme,” vertel sy. 

Sy’t aan als van netbal, atletiek en hokkie tot drama, ballet en hiphopklasse deelgeneem. 

IN KIM SE SKOENE

melanie du bois,beata bena green,aktrise,arendsvle
Beáta Bena en Melanie du Bois. Foto: Instagram/@beata_bena_green

Haar karakter, Kim, se storielyn het al die oë laat rek. 

Kim het ’n ongesonde obsessie met haar eks Vernon Booysen (Dillon Windvogel) en is deesdae die sekretaresse by die Hoërskool Arendsvlei. 

“Kim laat my lag,” sê Beáta. “Dis vir my verfrissend om heeltemal anders te wees as wat ek is en ook om die karakter te verstaan.” 

Sy meen dis baie maklik om ander te oordeel omdat hulle anders is. 

Maar om rolle soos dié van Kim, wat nie altyd likeable is nie, eerlik te probeer vertolk, dwing ’n mens in ander se skoene in en help jou verstaan hoekom hulle is soos hulle is, sê sy. 

Onder haar gunstelingstelmaats is Crystal-Donna Roberts, oftewel die magshonger Janice Cupido, en die oud-7de Laner Melanie du Bois, wat die skooljuffrou Ronel Foster speel. 

Sy bring meestal haar etensuur saam met dié twee deur, verklap Beáta. 

SAKEVROU

beauta bena green,aktrise,gradeplegtigheid
Foto: Instagram/@beata_bena_green

Beáta het op 17 motiveringspraatjies begin lewer en op 21 haar eie onderneming, Beatitude Trading, gestig wat op maatskaplike ontwikkeling fokus. 

Dit bestuur projekte wat die gemeenskap ophef. “Dit was nog altyd my passie om gemeenskapswerk te doen,” vertel sy.

Sy was “verlig” toe sy onlangs haar honneursgraad in produksiebestuur en vervaardiging voltooi het. 

“Al die harde werk was die moeite werd. Dit was ook vir my ’n simbool van ’n nuwe begin,” vertel Beáta. 

Sy’t planne om volgende jaar haar meestersgraad in vervaardiging aan te pak. 

FAMILIEVAS

beata bena green,aktrise,familie
Foto: Instagram/@beata_bena_green

Sy is deur en deur ’n familiemens, vertel Beáta, die vierde van vyf kinders. 

Sy woon nou in die Strand, net ’n klipgooi van haar ma af. 

Haar pa, twee broers, Viran (30) en Senor (21), en oudste suster, Kristel Ilke Snyders (28), woon nog in die Paarl. 

“My suster Tshidi woon sedert verlede jaar in Suid-Korea.”

GOEIE GENE

beáta bena green,tamaryn green,aktrise
Tamaryn en Beáta Bena Green. Foto: Instagram/beata_bena_green

Die huidige Mej. Suid-Afrika, Tamaryn Green (24), wat verlede jaar tweede gekom het in die Mej. Heelal-kompetisie, is Beáta se niggie aan vaderskant.

Die jong aktrise het self ’n paar skoonheidstitels agter haar naam. 

Sy is in 2013 as Mej. Tiener Suid-Afrika gekroon. 

“In 2017 het ek die provinsiale afdeling van die skoonheidskompetisie Mej. Mamelodi Sundowns gewen – ek het R60 000 gewen en dit gebruik om vir my studie te help betaal.” 

Sy’t boonop die titel by haar ousus Tshidi oorgeneem – goeie gene, inderdaad! 

beata bena green,aktrise,familie
Foto: Instagram/@beata_bena_green

Daarna het sy in die topvyf in die nasionale afdeling beland en was sy een jaar lank ’n ambassadeur vir die Mamelodi Sundowns sokker­klub. 

Beáta doen nog af en toe modelwerk en is ook ’n stemkunstenaar vir ’n paar oorgeklankte buitelandse sepies op e.tv.  

Sy bring haar vrye tyd saam met familie en vriende deur. 

En wanneer sy kan, sit sy met haar neus in ’n Harry Potter-boek of herkyk sy flieks. 

Beáta verklap
1. Ek is verslaaf aan Harry Potter.
2. Ek drink soms tot ses koppies tee per dag.
3. Ek is versot op my familie en naaste vriende.
4. Ek skrik soms vroegoggend wakker (tussen twee- en vieruur) net om my drome en planne neer te skryf.
5. Ek is ’n introvert en soms baie skaam. 
Beáta se raad

Haar advies vir aspirantakteurs wat graag wil toneelspeel? 

“Ken jouself voor jy in hierdie bedryf inkom sodat dit jou nie verander nie en sodat mense nie oor jou loop nie,” meen sy. 


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.