Tot siens, Ruben; Hallo, Ryno!

Adrian (23) het in 2017 sy debuut op TV gemaak as Ruben Cloete in die hospitaal­dramareeks Binnelanders.

Verlede September het sy agent hom aangeraai om ’n oudisie af te lê vir die rol van die rugbyspeler Ryno Roberts in nog ’n kykNET-sepie, Getroud met Rugby (GMR).

En op 8 Oktober, net twee weke nadat sy laaste tonele in Binnelanders geskiet is, het hy by GMR ingeval.

View this post on Instagram

Here we go! 2018 what's up?! #letsgetit

A post shared by Adrian Steyn (@adysteyn) on


Sy karakter, die Stryderspeler Ryno, kry aanvanklik die wind van voor en ervaar diskriminasie omdat hy gay is.

“Ryno word deur vele uitdagings in die gesig gestaar as gevolg van sy seksualiteit,” vertel Adrian.

“Sy stryd vir wat reg is en elke mens se vryheid om te wees wie hulle wil, is iets waarmee ek my kan vereenselwig.”

Hy was aanvanklik senuagtig oor die rol “omdat ek nie geweet het hoe mense die onderwerp gaan ervaar of ontvang nie”, sê hy.

“Maar ek dink met so baie ander stories wat al vertel is, het dit ietwat sagter geval. Dit is vir my lekker om te weet ek dra by om ’n storie te vertel waarmee talle mense dalk nog worstel. Verder is ek reg vir wat ook al kan gebeur en dit is vir my opwindend en ’n lekker uitdaging om aan dié karakter lewe te gee.”

Spiertier

Adrian is gesteld op sy fiksheid en dit help veral met die kleedkamertonele in GMR, wat met rugbybrekers soos Blitz (Werner Coetser) spog. Hy ken sy storie op die rugbyveld.

In sy skooldae het hy vir die eerste rugbyspan van die Hoërskool Langenhoven op Riversdal uitgedraf.

“Ek was altyd ’n groot aanhanger van die sport. Ek geniet rugby al van laerskool af. Vandat ek kan onthou, was gesondheid nog altyd vir my uiters belangrik; ek het al voor GMR hard geoefen.

“Al wat verander het, is dat ek heelwat groter moes raak wat spiere betref. Daarom het ek my dieet en oefenplan begin aanpas en ook ’n bietjie raad by ervare mense gevra.”

Wes-Kaapse klong

Adrian woon in Linden, Johannesburg.

“Ek is op Riversdal in die Wes-Kaap gebore en het tot die einde van my hoërskool­loopbaan daar gebly,” vertel hy.

“My skooljare was lekker. Ek was nooit regtig lief vir die akademie nie, maar het oukei gevaar. Ek was nou nie die gewildste ou nie, maar ook nie ’n buitestander nie. Ek het daarvan gehou om my klasmaats te vermaak, maar ek was ook voorbeeldig.”

In sy matriekjaar in 2013 het hy in die leerlingraad gedien, aan sport deelgeneem en was hy soms sy skool se gelukbringer. Hy het ook altyd aan konserte en eisteddfods deelgeneem.

Tog het hy eers op hoërskool van ’n loopbaan as akteur begin droom toe hy ’n verteller was in ’n musiekspel wat sy skool opgevoer het.

“Die gevoel wat ek ervaar het toe die gordyne vir die eerste aand se vertoning oopgemaak word, was al wat ek nodig gehad het om te weet dis wat ek vir ’n lewe wil doen.”

’n Akteur word gebore

Adrian is in 2014 na die Tshwane-uni­versiteit van Tegnologie se kunste­kampus in Pretoria om drama te studeer. Drie jaar later het hy sy honneurs­graad verwerf. In dieselfde jaar het hy sy televisie­debuut in Binnelanders gemaak.

Hy is nie al akteur in die gesin nie.

Sy broer, Mornè Steyn, is ’n gekwalifiseerde akteur. Hy fokus net meer op die akademiese kant as die toneelspeelkant en is ’n lektor aan die Uni­versiteit van Kaapstad. Hul pa, Attie, is ’n sakeman en deeltydse boer en hul ma, Hester, het haar eie onderneming.

Adrian tuis

Hy hou van lees, skryf en oor sy toekomsplanne dink. Hy geniet dit ook om saam met sy vriende uit te hang, ’n goeie TV-reeks te kyk of Xbox te speel.

“Ek hou ook van kos maak,” sê hy.

“Ek sal gereeld ’n nuwe gereg beproef en ’n goeie wyn daarby geniet.”

En hy geniet dit nie alleen nie.

“Daar is iemand in my lewe,” vertel hy.

“Sy is beslis die meisie en trouvrou van my drome. Ons ken mekaar al van skooldae af.”

Maar meer wil hy nie oor die gelukkige nooi verklap nie.

Adrian se gunstelinge
Fliek: 'Sjoe, daar is soveel! Ek dink The Departed
Fliek: 'Sjoe, daar is soveel! Ek dink The Departed, want die regisseur (Martin Scorsese) en akteurs (Jack Nichol­son en Matt Damon, foto, en Leonardo DiCaprio) is van my gunstelinge. Dit het goeie plot twists.'
TV-reeks: 'MasterChef en The Voice SA (met Francoi
TV-reeks: 'MasterChef en The Voice SA (met Francois van Coke en Lira, foto) omdat jy nie weet wat gaan gebeur nie.'
Loopbaan-hoogtepunt: 'Om twee TV-rolle ná mekaar i
Loopbaan-hoogtepunt: 'Om twee TV-rolle ná mekaar in Binnelanders (saam met Reynardt Hugo, foto) en Ge­troud met Rugby te kry is ’n groot voorreg. Ek is dankbaar vir die geleent­hede wat oor my pad kom.'
Rugbyspan: 'Die Lions (met Warren Whiteley, foto),
Rugbyspan: 'Die Lions (met Warren Whiteley, foto), want ek bly nou in Johannesburg.'
 Peuselhappie voor die kassie: 'Springmielies en n
Peuselhappie voor die kassie: 'Springmielies en neute.'


Kom neem deel aan die gesprek! Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!

  • Getroud Met Rugby word weeksdae om 21:00 op DStv-kanaal 144 uitgesaai. Herhalings volg op Sondae om 09:00 op dieselfde kanaal.