Binnelanders – Noah Geldenhuys (1)

Hy is nog in doeke, maar reeds ’n gereelde gesiggie op die kassie as Pippa Malherbe (gespeel deur Nadia Valvekens) se babaseuntjie, Dian.

“My broer is Germandt Geldenhuys, wat die rol van Louis Koster vertolk,” sê Andrucia Geldenhuys, Noah se ma. “Binnelanders het ’n baba nodig gehad en Germandt het Noah voorgestel.”

Die seuntjie is nou 13 maande oud en die afgelope twee en ’n half maande in die sepie. Sy sê die sepiebase stuur gewoonlik vir haar ’n e-pos met die tyd en datum wanneer hulle ’n toneel met Noah wil skiet.

“Hulle gebruik hom gewoonlik korter as ’n uur omdat kinders deur streng wetgewing beskerm word. Die enigste keer dat daar wel ’n paar trane was, was toe hy vir die baard van die akteur Richard van der Westhuizen (in die rol van die boer Dirk Venter) geskrik het.”

Binnelanders – Le-Anche van den Berg (6)

Die sesjarige Le-Anche, wat die rol van Nina in Binnelanders vertolk, het ook al ’n rol in ’n Dr. Oetker-pizza-advertensie losgeslaan. Benewens toneelspeel neem sy ook deel aan modelwerk, ballet en swem. Haar gunstelingakteur is haar eie televisie-pa, Reynardt Hugo, wat dr. Tertius Jonker in Binnelanders speel. Sy wil eendag heeltyds ’n aktrise wees.

“Toneelspel is beslis al wat ek vir die res van my lewe wil doen. Dit is my droom.” Le-Anche sê sy is mal oor die kameras, om voor mense op te tree en te sing en dans. Intussen spaar sy haar geld sodat sy eendag kan drama studeer.

7de Laan – Hlehle Ndlovu (10)

Hlehle, ’n gr. 4-leerder aan die Laerskool Emfulenipark, sê sy en haar 7de Laan-karakter, Khanyi, stem baie ooreen. “Ons werk albei hard en vaar goed op skool.” Die jong aktrise speel graag netbal en neem aan redenaars- en kunswedstryde deel.

“Ek het nie gedink ek sal kan toneelspeel nie, maar my dramajuffrou, Zelda Roelofs, het my so geïnspireer dat ek myself op die kassie wou sien,” vertel sy.

Sy is al haar handtekening gevra en neem baie foto’s saam met aanhangers.

“Dit het veral baie gebeur tydens ons laaste vakansie in die Kaap.” Hlehle se geliefkoosde akteurs in die Laan is Vinette Ebrahim (Charmaine), Deirdre Wolhuter (Mariaan) en Markus Haywood (oom Willie).

7de Laan – Vian Singleton (12)

Ontmoet die hoofseun van die Laerskool Midvaal op Meyerton, wat saans in 7de Laan te sien is as Thomas. Sy televisiema is Esti, oftewel die aktrise Reandi Grey.

“Mense sal sommer so voor jou inloop en ’n selfie neem met jou op die agtergrond,” vertel die jong akteur oor sy nuutgevonde bekendheid. “Ek stop hulle dan en vra of hulle ’n foto saam met my wil neem,” skerts Vian (saam met pa Anthony op die foto).

Sy gunstelingakteur op die stel is Francois Lensley, wat die rol van Marko vertolk. “Ons het dieselfde belangstellings.”

Vian sê sy toneelloopbaan meng nie in met sy skoolwerk nie omdat hy nie elke dag op die stel hoef te wees nie.

Hy het ook ’n rol in die Suid-Afrikaanse rolprent My Father’s War vertolk. Vian het ook in ’n internasionale fliek, Resident Evil: The Final Chapter, gespeel wat in Kaapstad verfilm is. Hy het ’n skoolseun gespeel. 

Benewens Vian se besige lewe as akteur is hy ’n kranige atleet en speel hy graag rugby, tennis en skaak. Die veelsydige akteur sing ook in die skoolkoor en neem aan redenaars- en kunswedstryde deel.

Getroud met Rugby – Johnny Potsanyane (15)

Ons ken hom as die bekkige TJ in kykNET se Getroud met Rugby. Johnny se karakter is in die sepie deur Schalk en Iva (Johan Scholtz en Nadia Beukes, foto) grootgemaak en aangeneem.

Op Vrydagmiddae direk ná skool laai sy aanneemma in die regte lewe, Sharon van der Westhuizen, hom op en neem hom na die ateljee, waar hy sy episodes vir die week opneem. Johnny lag toe ons oor sy snaaksste oomblik op die stel uitvra.

“My sepie-ma, Iva, moes in een toneel dronk speel. Ek het so groot geskrik toe sy amper omval,” skerts hy. Johnny, ’n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Randburg, sê hy wil graag ná skool tale en drama studeer.

Suidooster – Phoenix Bennett (13 maande oud)

Ontmoet die skattige Phoenix Bennett, wat die rol van baba Stella in die kykNET-sepie Suidooster vertolk Die bondeltjie liefde is die dogter van Bianca Fourie (Simone Biscombe, foto) en Stefan Gerber (Gideon Lombard).

In die regte lewe is haar pa die akteur Christian Bennett (foto), wat ook al ’n prominente gasrol in Suidooster gehad het as die skurk Harry Galant.

Phoenix is op 11 Januarie 2017 gebore en was skaars twee weke oud toe sy haar eerste toneel verfilm.

In Suidooster speel die veteraanakteur Cedwyn Joel haar oupa, AB Samsodien. “Almal by Suidooster is ongelooflik lief vir Phoenix en sy word op die hande gedra,” sê Cedwyn.

Foto’s: Onkgopotse Koloti, Gallo Images/Getty Images, verskaf