Sy verdwyn gewoonlik op die agtergrond wanneer die voorste gesin op Buckinghampaleis se beroemde balkon pronk – maar dis presies wat sy wil hê, baie dankie.

Sophie, die gravin van Wessex, is heel tevrede daarmee dat ander koninklikes al die aandag trek terwyl sy’n lae profiel handhaaf. Maar moenie ’n fout maak nie: Dié 54-jarige vrou van die koningin se jongste seun, prins Edward (55), is allesbehalwe ’n verlepte muurblommetjie.

Al is sy nie ’n toekomstige koningin of ’n glansryke voormalige Amerikaanse aktrise nie, het sy tog iets wat haar ’n voorsprong bo die res gee: Sy is die Britse monarg se witbroodjie.

Gravin Sophie Wessex
Prins Edward en Sophie by hul kinders, James en Louise. Foto: Gallo Images/Getty Images

Koningin Elizabeth (93) deel graag ’n grappie met Meghan, skinder by Kate en gesels met Camilla oor perde, maar dit kom nie naby die hegte verhouding wat sy met Sophie het nie.

En die wêreld het onlangs in ’n roerende oomblik gesien presies hoe intiem die band tussen die koningin en dié skoondogter van haar is. Dit was tydens ’n glansryke onthaal by Buckinghampaleis waar die werk gevier is van die Koningin Elizabeth-diamantjubileumtrust om bewustheid oor voorkombare vorme van blindheid te skep.

Terwyl Sophie haar skoonma in ’n toespraak gehuldig het, het die koningin stralend en in haar noppies toegekyk.

“Mama, wanneer ek van my reise teruggekeer het, was ek so trots om die werk wat ek gesien het met jou te deel,” het sy gesê.

Gravin Sophie Wessex
Sophie, die gravin van Wessex, huldig haar skoonma, koningin Elizabeth, by ’n onthaal in Buckingham­paleis. Die werk van die Koningin Elizabeth-diamant­jubileumtrust is op dié geleentheid gevier. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Elke keer het jy met belangstelling geluister en was jy gretig om te hoor hoe die werk vorder, en elke keer was ek verstom oor jou dieptekennis wat jy met my oor elkeen van hierdie lande gedeel het.”

Party toeskouers was verbluf oor sy die monarg so informeel aanspreek, maar paleisbeamptes was nie verbaas nie. “Sy is vir Haar Majesteit soos nog ’n dogter,” het ’n bron aan die Britse koerant The Sun onthul.

“Sy vertrou op haar soos wat sy nie met die hertogin van Cambridge (Kate) of die hertogin van Cornwall (Camilla) doen nie,” het ’n koninklike assistent vertel.

Toe Sophie Rhys-Jones in 1999 met prins Edward trou, het talle mense iets te sê gehad oor die ooreenkomste tussen haar en prinses Diana. Met haar blonde hare en groot glimlag het die nuweling baie na prins Charles se vrou getrek.

Maar Sophie was ’n makliker mens om mee oor die weg te kom en nie lief vir die kollig nie, tot groot verligting van die koningin en ander senior koninklikes.

Sekere kommentators reken dis dalk die rede hoekom haar huwelik floreer het terwyl ander in die huis van Windsor misluk het – en hoekom die koningin haar so blindelings vertrou.

Vriende beskryf Sophie, die gewese grootbaas van haar eie skakelmaatskappy, as ’n vrou vol dryfkrag.

Die dogter van Christopher Rhys-Jones, ’n uitvoerende beampte by ’n bandefirma, en Mary, ’n sekretaresse, het in ’n middelklashuis in Kent grootgeword, en die koninklike lewe was vir haar vreemd toe sy en Edward in 1993 begin uitgaan. Tog het sy haar bes gedoen om in te pas.

“Sophie het aan die begin van die huwelik vir haar ’n taaklys opgestel: Leer hoe om behoorlik perd te ry, vis te vang, wild te skiet en, meer onlangs, koets te ry,” vertel ’n vriend.

Maar nes Kate (37) en Meghan (38) het sy aanvanklik gesukkel om by haar nuwe rol aan te pas. Kort voor haar troue het ’n herrie losgebars nadat The Sun ’n wasige ou foto op die voorblad geplaas het van waar ’n manlike kollega by die radiostasie waar sy gewerk het haar hemp optrek.

Gravin Sophie Wessex
Sy tree as mentor op vir Me­ghan, die hertogin van Sussex. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die koerant is later gedwing om verskoning te vra. Ná haar troue was sy van plan om aan te hou werk by haar firma. Maar nadat die poniekoerante in 2001 ’n opname laat uitlek het waarin sy die oudpremier Tony Blair afkraak en onvleiende dinge oor die koninklikes kwytraak, is sy gedwing om haar onderneming te sluit en ’n voltydse koninklike te word.

Nou, met 250 verpligtings per jaar, is sy een van die hardwerkendste lede van die Britse monargie.

In haar vrye tyd sien jy haar gereeld waar sy saam met die koningin kerk toe gaan; sy sal sorgsaam ’n blokkieskombers oor haar skoonma se skoot glad stryk terwyl hulle in die monarg se Rolls-Royce ry.

“Die koningin hou daarvan om kalm te raak voor kerk en vir haar help Sophie se teenwoordigheid daarmee; dit stel haar op haar gemak,” sê ’n paleisbron.

Hulle geniet glo ook fliekaande saam. Die koningin het op Sophie se aandrang The Crown, Netflix se reeks oor haar bewind, gekyk en was glo versot daarop.

Die Wessexe woon net ’n klipgooi van Windsor, in Bagshot Park, saam met hul kinders, Louise (15) en James (11). Die gesin bring graag tyd by die Windsorkasteel deur, tot groot vreugde van die koningin.

Sophie en Edward se versugting na ’n rustige lewe uit die openbare oog was duidelik toe hulle nee dankie gesê het vir titels vir hul kinders.

As kleinkinders van ’n monarg was Louise en James daarop geregtig om “Haar Koninklike Hoogheid prinses Louise” en “Sy Koninklike Hoogheid prins James” genoem te word, maar hul ouers het die meer beskeie lady Louise Mountbatten-Windsor en James, burggraaf van Severn, gekies.

Een ding wat Edward nie so gretig was om prys te gee nie, was die span van ses lyfwagte wat die gesin dag en nag oppas.

Die prins was glo woedend toe daar ’n ruk gelede besluit is hy en sy vrou en kinders sou net beskerming hê wanneer hulle by amptelike pligte betrokke was. Maar Sophie was glo baie bly hieroor.

“Sy verkies om nie 24 uur per dag ’n polisielid by haar te hê nie; dit beteken sy kan die kinders op haar eie by die skool gaan haal, sonder ’n bohaai,” sê ’n vriend.

Sy het gesukkel om swanger te raak en is beskermend oor haar kroos. Louise, wat in 2011 ’n strooimeisie by prins William en Kate se troue was, is skeel gebore en het ’n paar jaar gelede ’n operasie ondergaan om die oogprobleem reg te stel.

Gravin Sophie Wessex
Sophie was die baas van ’n skakelfirma toe sy en Edward mekaar in 1993 ontmoet het. Daar is gegons oor die sterk ooreenkoms tussen haar en prinses Diana. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hoewel Sophie weier om in die openbaar oor haar dogter se sigprobleme te praat, het dit haar geïnspireer om ’n beskermvrou van die liefdadigheidsorganisasie Vision 2020 en ’n wêreldambassadeur van die internasionale agentskap vir die voorkoming van blindheid te word.

En dis moontlik ook hoekom haar skoonma haar gekies het om die adjunk van die Koningin Elizabeth-diamantjubileumtrust te wees. Volgens mense in die binnekring beskou die monarg Sophie as ’n staatmaker, “die betroubaarste” onder die koninklikes.

Daar is gerugte dat sy beplan om ná prins Philip se dood Sophie tot hertogin te bevorder deur Edward die titel hertog van Edinburgh te gee – die titel wat Philip tans het.

Sy het nog ’n belangrike rol aan Sophie toevertrou: om as mentor vir Meghan op te tree en haar by die koninklike lewe te help aanpas.

Die koningin glo omdat Sophie, nes Meghan, nie van ’n adellike agtergrond kom nie en haar eie suksesvolle loopbaan gehad het voor sy met Edward getrou het, is sy die beste toegerus om die hertogin touwys te maak.

“Die koningin hou van die idee dat Sophie Meghan se nieamptelike mentor is,” vertel ’n bron in die binnekring.

“Sophie is dikwels by Windsor (waar Harry en Meghan in Frogmore Cottage woon), sy neem die kinders vir ritte op die koningin se perde en hulle speel by die kasteel. Dis ’n rustige leefstyl – baie soortgelyk aan wat Harry en Meghan vir hul kleinding wil hê.” 

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, SUN.CO.UK, EXPRESS.CO.UK, TELEGRAPH.CO.UK