Jy kan die twee mooi dokters deur ’n ring trek, hier waar hulle ontspanne in die Polo Club-restaurant van die Val de Vie-landgoed naby die Paarl sit.

Ons voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss teug aan ’n rooi cappuccino, en haar skoonsus, dr. Ledivia Strauss, drink koffie. Hulle is net so volmaak versorg soos die gemanikuurde grasperke en heinings buite die klubgebou.

Doer op die agtergrond glinster die reusagtige Paarlrots manjifiek in die oggendson. Albei vroue is in murg en been plattelandse meisies wat kleintyd groot gedroom het – Rolene op Volksrust in Mpumalanga, en Ledivia, die suster van D’Niel (35), Rolene se man, op Keimoes in die Noord-Kaap.

Rolene (25) dra vandag ’n elegante swart broekpak met ’n blommetjiespatroon; haar gladde, bruin hare tuimel oor haar skouers. Ledivia (37) dra ’n vlootbou rok en haar blonde kapsel krul met punte sag na bo.

Ledivia en Rolene voltooi saam die Ultra-Trail-wedloop van 35 km verlede jaar in Kaapstad.

Maar hulle het baie meer met mekaar gemeen as net die Strauss-van en skoonheid.

Albei spog met ’n mediese graad agter hul naam en albei is geesdriftig oor die gesondheid van vroue. Daarby het albei hul man tydens ’n Desembervakansie op Hartenbos se strand ontmoet: Ledivia vir Retief Uys (38) in 2004, en Rolene vir D’Niel in 2011.

Vandag is dié mans albei sakelui wat hul vroue trots ondersteun in hul nuwe onderneming, die sentrum vir holistiese gesondheid wat Ledivia later vanjaar op die landgoed oopmaak.

“Dit gaan oor die voorkoming van siektes, om veroudering teë te werk en om jou te help om die beste moontlike weergawe van jouself te wees,” verduidelik Ledivia die dienste wat by die RevitaHealth-sentrum aangebied gaan word.

Rolene en D’Niel het in November verlede jaar saam met hul eenjarige seuntjie (wie se naam hulle privaat hou) na die landgoed verhuis, en Ledivia-hulle in Januarie van Upington af. Sy en Retief het ’n dogtertjie, Amè (6).

“Amè dink hy (Rolene se seuntjie) is haar lewende pop,” vertel Ledivia. Die twee skoonsussies is duidelik geheg aan mekaar. “Weet jy hoe amazing dit is om grimeerlesse by Mej. Wêreld te kry?” sê Ledivia met ’n laggie.

“Dit was vir my lekker om haar verlede jaar in haar eindeksamen by te staan. Ek was in Upington en sy in Bloem, en ons was heeltyd op WhatsApp. Toe sy die laaste vak in November skryf, het ek haar gebel en net soveel soos sy gehuil uit pure dankbaarheid.”

Die twee het mekaar ook op WhatsApp aangemoedig om vir die Ultra-Trail-wedloop van 35 km in Kaapstad te oefen en dit toe in Desember saam voltooi. Noudat hulle naby mekaar woon, hoef hulle nie meer op WhatsApp te boer nie; hulle kan mekaar in lewende lywe ondersteun.

“Sy is my oefen-buddy; ons draf gereeld saam. Dis ons manier van wegkom. Dan pas die mans die kinders op,” vertel Rolene. “Dis ’n bonding-ervaring.”

Uit die bloute meld ’n vrou in oefendrag haar by ons tafel aan.

“Welkom hier op Val de Vie!” juig sy en gryp Rolene se hand.

“Ons is so opgewonde oor die skoonheidsalon wat julle hier gaan oopmaak.”

Rolene en Ledivia bly glimlag; nie een word van stryk gebring deur die verwarring tussen ’n sentrum en ’n salon nie.

“Nee, dit gaan ’n gesondheidsgeoriënteerde sentrum wees,” verduidelik Ledivia dan geduldig. Ledivia het aan die Universiteit Stellenbosch medies studeer en later in Frankryk kursusse in teenverouderingsmedisyne gedoen terwyl Retief sewe jaar lank daar professionele rugby gespeel het.

Rolene en haar man, D’Niel Strauss, by hul seuntjie.

Sy spesialiseer nou in estetiese geneeskunde, oftewel die mediese veld wat kyk na teenveroudering.

“Dis nie my werk om mense plooivry te maak nie; dis om hulle beter oor hulself te laat voel. Die sielkundige verandering wat ek waarneem, is baie meer as die fisieke verandering,” sê Ledivia.

“Ons vroue is visuele wesens. Wanneer ’n vrou goed voel oor haarself, is sy ’n beter vrou en ma vir haar kinders. Dit is hoekom ek al die afgelope 10 jaar estetiese medisyne doen.”

Met die gebruik van niechirurgiese behandeling kon sy byvoorbeeld al ’n vrou help wat in ’n ongeluk letsels aan haar gesig opgedoen het, asook iemand wat Bell-paralise aan die een kant van haar gesig gehad het.

"Dis nie ydelheid nie. Vroue moet goed voel in hulself.”

Ledivia het ’n lang pad gestap sedert haar rabbedoekinderjare op haar pa se dorperskaap-en-wingerdplaas naby Keimoes. Nadat sy as dokter gekwalifiseer het, wou sy eers in narkose spesialiseer.

Maar toe gaan speel Retief rugby in Frankryk en sy is saam. Van 2007 tot ’09 was hulle in Narbonne, waar sy in die ongevalleafdeling van ’n hospitaal gewerk het. Daarna het Retief vir Brive-la-Gaillarde in die suidweste van Frankryk gaan rugby speel.

Sy kon teen dié tyd vlot Frans praat en het in Bordeaux ’n twee jaar lange nagraadse kursus in mesoterapie gedoen aan die Victor Segalen-universiteit en daarna by ’n dokter gewerk wat sportbeserings daarmee behandel.

Met dié terapie word middels ingespuit op plekke waar selvernuwing moet plaasvind. Volgens Ledivia word dit in estetiese geneeskunde vir verskeie toestande gebruik, onder meer haarverlies en selluliet.

Ledivia by haar man, die rugbyspeler Retief Uys, en dogter­tjie, Amè, toe hulle nog in Frankryk was.

Sedert hul terugkeer uit Frankryk drie jaar gelede het sy op Upington gewerk as algemene praktisyn wat ook estetiese behandelings doen. Haar holistiese benadering behels dat sy onder meer DNS-toetse gebruik om vas te stel wat die regte behandeling vir elke pasiënt is.

“Sommige mense het byvoorbeeld ’n groter geneigdheid om suikersiekte te ontwikkel as ander en moet versigtig wees wat hulle eet; ander kan eet wat hulle wil."

"Ons almal kan ons omgewing en dit waaraan ons blootgestel word, verander. Dis waaroor ons pasiënte raad gee."

“Ons werk vir elkeen ’n individuele eet- en oefenprogram uit, gee vitamiene en stel leefstylveranderings voor, en ons help met slaappatrone en stresvlakke,” verduidelik Ledivia.

Gesonde gewigsverliesprogramme, chemiese velafskilfering en vullers sal van die dienste by die sentrum wees.

Rolene, wat haar mediese graad in Desember aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein gekry het, kan nie as dokter praktiseer voor sy haar internskap en gemeenskapsdiens gedoen het nie.

Tot dan is sy betrokke by die bemarking van die sentrum, waar sy haar ervaring in die skoonheidsbedryf wil inspan om ander vroue “die beste moontlike jy” te laat word. Dit sal motiveringspraatjies en raad aan vroue insluit.

Haar mediese beroep is op ys, sê Rolene.

“Op die oomblik fokus ek op ma-wees en ander geleenthede. Wanneer ek later gereed is, sal ek dit (die internskap en diensjaar) doen.”

D’Niel se ouers, Amelia en Charel Strauss (links); D’Niel en Rolene; en Rolene se ouers, Theresa en Hennie Strauss (agter), in Maleisië vir haar verjaar­dag tydens haar jaar as Mej. Wêreld.

Sy gaan ’n kantoor in die sentrum hê en haar Mej. Wêreld-rok daar in ’n glaskas sit, voeg sy by. Nie een van die twee aanvallige skoonsusters hoef lank te dink oor hul definisie van mooi nie.

“Skoonheid is innerlik en uiterlik,” meen Rolene. “Wanneer jy iemand ontmoet en dink sy is mooi, word sy óf mooier óf leliker hoe langer jy haar ken. Dit is skoonheid.”

“Mense moet onthou hoe jy hulle laat voel het toe julle mekaar die eerste keer ontmoet het. Mense moet lekker voel in jou geselskap,” is Ledivia se definisie.

“My oupa het altyd gesê alles met ’n ‘te’ is verkeerd, behalwe tevrede en te voet,” vertel Ledivia. “Jy kan te veel botoks kry. Dan sal ek halt roep. Maar as jy by die ‘te’ in ‘tevrede’ uitkom, is ek gelukkig.” 

FOTO'S: SUZANNE SWART, VERSKAF