Net so is daar talle bruide wie se troudag skielik uitgestel is en hul droomrok hang óf in die kas, of hulle moes hul afspraak met hul rokontwerper vir eers uitstel. 

Gevolglik het die covid-19-pandemie en die gepaardgaande inperkingsmaatreëls ook modeontwerpers se lewe verander.

Janita Toerien, Kaapstad

Janita Toerien
Janita Toerien

Dit was vir haar ’n reuse-uitdaging toe sy besef sy gaan die res van die jaar geen inkomste verdien van die trourokke waarvoor sy so bekend is nie, vertel die Kaapse ontwerper Janita Toerien. 


Janita het onder meer die aktrise Amalia Uys, wat nou in ons tweede fliek Vergeet my nie op DStv BoxOffice te sien is, en die Fynskrif-aktrise Cintaine Schutte se trourokke ontwerp. 

Sy meen egter die wintermaande is oor die algemeen vir hulle ’n stiller tyd. “Ek het met elkeen van my bruide persoonlik gepraat en eers uitgevind hoe hulle trouplanne lyk en daarvolgens planne met elkeen van hulle gemaak.

In hierdie stadium is die werkslading nie regtig anders as ander winters nie, ons werk altyd so dat ons oor die Junie-Julie-skoolvakansie twee weke kan afvat en weer ten volle in Augustus kan begin werk. Ek dink aan die begin van lockdown was dit weird omdat Maart en April ons besigste tyd is. Nou is dit net ’n gewone winter,” verduidelik sy. 

Janita en haar span het egter besluit om die tyd en aanpassings te gebruik om nuwe projekte aan te pak.

“Ons het begin maskers maak en het lanklaas so hard gewerk, dag in en dag uit. Ek verruil dit vir niks. En nou, alhoewel ons steeds nie teen volle kapasiteit aan trourokke werk nie, het ek en twee vriendinne ’n nuwe onderneming, Shpickle, begin. Ons maak scrubs vir mediese personeel en ons werk net so hard,” vertel sy.

Tog is sy nie moedeloos nie en probeer sy om eerder hierdie nuwe geleenthede aan te gryp. 

“Ek is nie bekommerd oor my besigheid nie. Ja, dit is ’n onseker tyd en moeilik in die sin dat dinge net nie normaal is nie, maar ons het jare lank gewerk om ’n produk en diens te lewer aan bruide wat ek glo ons aan die anderkant gaan uitbring. Ons gaan ons besigheid aanpas, ons gaan nie net probeer survive nie, maar eerder kyk hoe ons kan floreer ná hierdie tyd van inperking en onsekerheid.”

Casper Bosman, Bloemfontein

Casper het die wêreld laat regop sit as ontwerper van die sysagte pienk aandrok waarin Rolene Strauss in 2014 in Londen die Mej. Wêreld-kompetisie gewen het.

Die ontwerper meen dit was vir hom ’n uitdaging om weer vars en oorpronklik te dink oor die nuwe fase wat vir die modebedryf aangebreek het sedert die covid-19-pandemie en nasionale inperkings Suid-Afrika kom verander het. 

“Toe fase vyf van die inperking aangebreek het, het ons alle werk en produksie gestop. Maar ons het vinnig besef dat ons nuwe planne en idees gaan moet maak sodat ons besigheid nie permanente skade sal ly nie. Ons het aansoek gedoen vir ’n permit en begin maskers maak tydens die tweede deel van fase vyf,” vertel Casper.

Hy meen die maskers hou hulle baie besig, maar sy span is ook steeds besig met ander bestellings vir uitrustings en rokke. “Ons is ten volle aan die gang met bestaande bestellings al is daar nie datums aan funksies gekoppel nie. Kliënte gaan steeds voort met die beplanning van hulle groot dag,” vertel hy.

Casper meen die jaar het goed begin en sy kliënte het opgewonde uitgesien na hul troudae of matriekafskeidfunksies. “Ons kliënte het uit die boks gedink met hulle idees en hul planne was groot. Die inperking het onsekerheid gebring by baie kliënte wat nie seker was of hul spesiale dag gaan voortgaan nie. Die meeste van ons kliënte se troues, asook matriekafskeide, is uitgestel na die einde van die jaar,” vertel Casper.

Hy meen wel dat dié soort funksies steeds sal kan voortgaan indien die nodige veiligheidsmaatreëls in plek is. Hy erken egter dit is ’n spanningsvolle tyd vir alle ondernemings.

“Ook vir ons as ontwerpers. Ondernemings moet nou die kans vat om aan te pas by die nuwe norm en nie stagneer nie,” sê Casper optimisties.

Hy het onlangs besluit om die binnenshuiseversieringsafdeling van sy onderneming uit te brei en hy werk in hierdie stadium aan die ontwerp van ’n boetiekhotel in Gauteng.

Anél Botha, Klerksdorp

 Foto: Instagram/@anelbothac
Foto: Instagram/@anelbothac

Anél is die vrou agter die noupassende rok vol kristalle waarmee Demi-Leigh Nel-Peters in 2017 die Mej. Heelal-kompetisie gewen het. 

Dit is vir haar nou veral uitdagend om al die balle in die lug te hou, vertel Anél. “As sakevrou is dit moeilik om al die hoede te dra wat ons nou moet. Al die luukshede waaraan ons gewoond is, bestaan nie meer nie,” sê sy.

Haar rol wissel nou heeldag tussen ma-wees, huisvrou, onderwyser, en sakevrou. “En daar is net 24 uur in ’n dag.”

Sy gaan haal boonop elke dag haar personeel by hul huise sodat hulle nie openbare vervoer hoef te gebruik nie. “Voorheen het ons gekla en gesê, ek het nie tyd nie, maar ek het nóú besef hoe waardevol tyd is,” vertel sy. 

Hulle was selfs tydens die begin van die inperking ongelooflik besig, vertel Anél. “Ek het nog nie een dag gerus nie. Ons is ses maande vooruit bespreek en ons het voorafbeplanning gedoen. Ons bestuurders het werk gehad om by die huis te doen en ons het begin om maskers en wintersklere te maak. Gelukkig was dit ’n sukses; die bestellings vir baadjies en maskers gaan nog goed aan.”

Hulle werk nog ook aan trourokke.

“Ons kliënte het uitgestel, maar darem nie afgestel nie. Die formaat van die troues verander net ’n bietjie. Ons het bruide wat ’n klein seremonie gehou het, maar later die groot troue sal hou, sodra dit moontlik is. Die matrieks wat nie ’n funksie gaan hê nie, laat maak steeds hul rokke , maar hulle hou dit vir hul eerstejaarsdinee of ’n intieme funksie wat hulle self reël om darem die mooimaak en herinneringe steeds vas te vang,” vertel Anél.

Die aantal matriekafskeidrokke waaraan hulle in die stadium werk is sowat 30% minder as verlede jaar, meen sy. “Maar die aantal trourokke waaraan ek werk, het minimaal afgeneem,” sê Anél.

Sy meen egter net soos Casper en Janita dat ontwerpers bereid moet wees om nuut te dink en aan te pas by die veranderings. “Onsekerheid is wel elke dag die grootste struggle, want ek hou van beplan. Maar tot almal besluit om weer soos Adam en Eva te word, glo ek ontwerpers sal werk hê,” skerts sy optimisties. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe