Hul helderste herinnerings aan hul pa kom van videobeelde van ’n kookwater krieketspeler wat as snelbouler sy slag wys.

Maar al kan Corbin en Eathan Bosch weinig onthou van die bekende pa wie se sporttalent hulle geërf het, kan hulle sy teenwoordigheid vandag op die krieketveld aanvoel.

“Wanneer ek op daardie veld stap, probeer ek hom net so trots maak as wat ek kan,” sê Eathan (21) oor die pa wat hy nooit geken het nie.

Tertius Bosch
Die oorlede krieketheld, Tertius Bosch. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die voormalige Proteakrieketspeler Tertius Bosch was net 33 toe hy op Valentynsdag 2000 ná ’n stryd teen die seldsame Guillain-Barré-sindroom dood is.

Eathan was toe 22 maande oud en ouboet Corbin vyf jaar. “Ek kan eerlikwaar niks van daardie tyd onthou nie; ek kan nie eens onthou dat my pa in die hospitaal was nie,” sê Corbin (nou 24).

Tertius en ­Karen-Anne destyds met hul eersteling, klein Corbin. Foto: Verskaf

“Ek kan nie onthou hoe sy stem geklink het nie. Ek het nie herinnerings aan ’n pa se liefdevolle aanraking nie.” In krieketkringe is hy en sy kleinboet vandag bekend as die “Bosch boys”.

Albei speel nou op provinsiale vlak krieket: Corbin vir die Titans van Centurion en Eathan vir die Dolphins van Durban.

“In die krieketgemeenskap ontmoet jy baie mense wat ons pa geken of saam met hom gespeel het. Mense vertel ons gedurig hoe vinnig my pa geboul het en dat dit angswekkend was om teen hom te kolf,” vertel Corbin trots waar Huisgenoot voor ’n plaaslike T20-wedstryd op Willowmoorepark in Benoni met die twee broers gesels.

Ethan speel in die wedstryd, maar Corbin is vandag weens ’n besering ’n toeskouer. Maak hul pa se roem dit nie vir hulle moeiliker om self naam te maak nie?

“Jy leef in jou pa se nalatenskap,’’ sê Eathan.

“Om in ’n koerant te verskyn wat sê Tertius Bosch se seuns speel ook krieket, is iets wat my geëerd laat voel. Ons het immers albei die talent gekry om die spel te kan speel waarvoor ons so lief is en waarvoor ons pa so lief was.”

Uit videomateriaal waarna hy in sy ouma aan moederskant se huis in Vereeniging gekyk het, het hy probeer om sy pa te leer ken, vertel Corbin.

“Ek kan sy stem hoor; ek kan sien hoe hy opgetree het. Dit sit ’n prentjie in jou kop en jy kan byna onthou.”

Die Bosch-seuns saam met hul ma, Karen-Anne. Corbin sê sy het vir hulle alles gegee wat hulle wou hê en ondersteun hulle tot vandag toe in alles wat hulle doen. Foto: Verskaf

Al het Tertius nie bly leef om sy seuns op die krieketveld te sien uitblink nie, is dit vir hulle asof hy in die gees daar by hulle is. Soos Corbin verduidelik: “ ’n Mens voel sy teenwoordigheid, sy aura.”

Tertius, ’n tandarts, het in die laat 1980’s en vroeë ’90’s met sy prestasies gereeld die nuus gehaal, en ná sy dood was hy weer in die nuus – toe oor bewerings dat hy vergiftig is.

Hoewel Guillain-Barré-sindroom, ’n chroniese siekte wat die spiere aantas en stelselmatig verswak, as die oorsaak van sy dood aangegee is, is sy oorskot twee keer opgegrawe om vir gifstowwe te toets.

Geen bewyse van vergiftiging kon gevind word nie en die polisie het hul ondersoek in 2008 laat vaar. Intussen was ’n familietwis oor Tertius se boedel ook groot nuus.

Dit het in 2003 in die appèlhof gedraai nadat sy familie ’n handgeskrewe dokument ontdek het waarin hy sy vrou, Karen-Anne, onterf en hul oudste seun, Corbin, as enigste erfgenaam aangewys het.

Dié dokument is eindelik deur die hof as Tertius se laaste wens aanvaar. Van al dié verwikkelings was Corbin en Eathan as kinders onbewus; Karen-Anne het hulle nie daarvan vertel nie.

“Ek dink my ma het ons van al die nuusopskrifte en omstredenheid weggehou, wat eintlik ’n goeie ding was,” sê Corbin.

Eathan en Corbin het gedugte boularms en blink nes hul pa, Tertius, as snelboulers uit. Foto: Petri Oeschger/Gallo Images

Die eerste keer dat hy daarvan gehoor het, was toe hy as 14-jarige aanlyn inligting oor sy pa gesoek het. “Jy lees en wonder, maar is te jonk om te verstaan,” sê hy hieroor.

Hy het dit wel met sy ma bespreek, maar haar nie daaroor gekonfronteer nie, sê hy. Teen die einde van sy hoërskooljare het hy ook met ’n sielkundige oor sy pa gepraat.

“Dis baie ver in die verlede. Ek is baie lief vir my ma, en sy sou nooit iets doen om ons seer te maak nie.”

Hy praat met groot deernis en lof van Karen-Anne (46), wat met haar derde man, Brian van Onselen, ’n oogkundige van Pretoria, getroud is.

“Sy het ons alles gegee wat ons wou hê en nog meer. Sy het ons ondersteun en doen dit steeds. Dit het ontsaglik baie gehelp, maar het nie vir die feit vergoed dat my pa my nooit sien krieket speel het nie.”

Twee jaar ná hul pa se dood het Corbin en Eathan saam met hul ma uit hul geboortestad, Durban, na Pretoria getrek. Hy speel al krieket vandat hy begin loop het, vertel Corbin. In tuisvideo’s van hom as kleuter stap hy met ’n klein kolfie rond.

“En toe Eathan kon loop, het ons saam begin krieket speel.” Albei het op skool al op die sportveld presteer – Corbin ook as hokkiespeler wat in sy skooldae aan Pretoria Boys High vir die Suid-Afrikaanse Skole-span gekies is.

Eathan het hom op krieket toegespits en ’n sportbeurs losgeslaan om sy hoërskoolloopbaan aan die privaat Hilton- kollege in KwaZulu-Natal te voltooi.

Daarna het hy by die Dolphins in dieselfde provinsie aangesluit. Corbin is in 2013 vir die Suid-Afrikaanse o.19-krieketspan gekies terwyl hy ’n student aan die Universiteit van Pretoria was. Hy het nie sy studie voltooi nie, maar vir die Titans begin krieket speel.

In 2016 is hy Australië toe, waar hy vir ’n klub in Brisbane gespeel het, maar ’n jaar later het hy teruggekeer en weer by die Titans aangesluit. Die broers het nog nooit in dieselfde span gespeel nie, maar het al teen mekaar te staan gekom.

Mense vertel gedurig vir hulle hoe vinnig hul pa geboul het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit was in Januarie 2018 met ’n semi-professionele wedstryd waarin Corbin vir Northerns gespeel het en Eathan vir KwaZulu-Natal, toevallig dieselfde spanne waarvoor hul pa op sy dag gespeel het – destyds Noord-Transvaal en Natal.

“Ek onthou toe Corbin sy aanloop vat om vir my te boul, dink ek: Jô, dis nie meer tuinkrieket dié nie,” vertel Eathan.

Tog het kleinboet toe oor ouboet koning gekraai. “Hy het my uitgeboul. Dit spook by my,” spot Corbin.

“Daarby het hy al ’n kolhou in gholf geslaan en ek nie.”

Albei het hul pa se boularm geërf. Corbin boul nog vinniger as hy, sê Eathan. Corbin en Eathan staan onderskeidelik 1,88 m en 1,91 m in hul sokkies, maar Tertius sou vandag nog ’n goeie 5 cm bo sy seuns kon uittroon.

Met sy blonde hare en blou oë trek Corbin na sy ma, terwyl Eathan ’n donkerkop is soos sy pa. Toe hy na die ou video’s kyk, het dit hom getref hoe baie sy kleinboet na hul pa lyk, vertel Corbin.

“Ek onthou hoe ek eenkeer die video gestop het, en aan die manier waarop my pa sy kop na die kant toe gedraai het, was dit Eathan se ewebeeld. Daar is soveel ooreenkomste – dit hang net af of Eathan ’n boepie gaan kry,” terg sy ouboet.

Hoop hulle om dieselfde hoogtes as hul pa te bereik? “Dit is iets waarna ons albei streef,’’ sê Corbin, “maar of ons dit sal regkry, is ’n ander saak.”